




Kort dokumentêr: Tussen hemel en aarde
Niks is ooit weer dieselfde nadat ’n ouer ’n kind aan die dood afstaan nie. In regisseur Danielle Retief en vervaardiger Ursula Botha se dokumentêre film, Tussen hemel en aarde, maak die oud-Springbokrugbyspeler Jannie du Plessis en sy vrou Ronel hul harte oop oor die dood van hul tien maande oue seuntjie, Jan Nathaniël, wat in 2021 verdrink het.
Die keurders van die Silwerskermfees se Silwermark het kort nadat die projek tydens die in-persoon-voorleggingsessie by verlede jaar se fees voorgestel is, die groen lig daarvoor gegee.
Danielle en Ursula het vrae beantwoord oor hoe die ouerpaar se tragiese verlies vir ander ouers, en enigiemand wat al ’n geliefde verloor het, troos en insig kan bring oor die rouproses.
Wat het julle laat besluit om spesifiek hierdie storie oor die dood van Ronel en Jannie se seuntjie te vertel?
Ursula: Ek skryf elke jaar konsepte vir die Silwerskermfees en Silwermark in en die storie het werklik in ’n droom, wat ek glo van God af is, na my toe gekom. Ek het gedroom die storie wys by die fees. Ek het vir Ronel geken, so dit was maklik om haar te nader.
Ek dink elke liewe persoon wat al ooit deur ’n rouproses moes werk, sal aanklank hierby vind. Die dokkie kyk na die dood en hoe verskillende mense op verskillende maniere rou.
Danielle: Toe ek Jannie en Ronel vir die eerste keer ontmoet het, het ek geweet hulle storie sal ’n impak maak. Ek glo veral ouers sal aanklank vind by die inhoud, alhoewel dit nie maklik is om te kyk nie. Ook enigiemand wat al ooit verganklikheid in die gesig gestaar het, sal daarmee kan vereenselwig, want die hoofkwessie is: wat is jóú plek “tussen hemel en aarde”?
Om hul seuntjie se dood op kamera te herbesoek kon nie maklik vir Jannie en Ronel gewees het nie. Hoe het julle hulle en hul kinders se vertroue gewen en hulle gehelp om veilig voor die kamera te voel?
Ursula: Ronel het meestal by vroueoggende geleentheid gekry om die storie te vertel, en Jannie het al vlugtig met Hannes van Wyk op Kwêla gesels. Maar hierdie was anders, dit was baie dieper. Ek kon sien hoe hulle sekere herinneringe wou vermy, maar tog het hulle my vrae met dapperheid beantwoord. Hulle kwesbaarheid was uiteraard enorm. Met die kinders het ons seker gemaak hulle voel veilig. Ons het vooraf tyd saam met hulle deurgebring en hulle leer ken. Hulle is drie ongelooflike siele.
Danielle: Dit was beslis nie maklik nie, maar ons bedoelings was van die begin af eerlik en opreg. Ons was nie daar om enigiemand te dwing om hul harte oop te maak nie. Ons was daar vir Jan Nathaniël se storie en die impak wat dit kan maak. Ek glo die Du Plessis-gesin kon dít raaksien en het dus soos vriende met ons gesels.
Vir julle as rolprentmakers was dit seker ook nie maklik om so intiem met hierdie hartseer inhoud saam te leef en te werk nie? Hoe het julle dit op ’n professionele, maar ook op ’n persoonlike vlak hanteer?
Ursula: Op ’n persoonlike vlak het ek al ’n pad saam met hulle gestap, maar die ware uitdaging het gekom toe ek tydens my Silwerskermfees kortfilm-mentorskap met David Enright begin het. Hy het die vrae gevra wat saak maak, die “hoekom”-vrae. Hy het dieper gedelf as my eie motiewe. En eers tóé kon ek self by die “hoekom” uitkom, en dít was die basiese menslike reaksie op die dood: rou. Dis die argiefnavorsing van klein Jan Nathaniël wat my gevang het, maar op stel het ek ’n bonatuurlike kalmte ervaar – ek was sterk en kon elkeen met wie ek gesels het, veilig laat voel.
Was daar spesifieke oomblikke op stel wat julle veral aangegryp het?
Ursula: Vir my was dit die sonsondergang – die “golden hour” – by Jan Nathaniël se graf op die plaas. Toe ek voor die graf staan, het al my dapperheid verdwyn en het ek vir die eerste keer gehuil.
Danielle: Die graf en die plaas was ’n ongelooflike ervaring, want nie net het die weer tot op die minuut saamgespeel nie, maar ons het die Du Plessis’ werklik leer ken. Om ’n gesin te sien wat so ongelooflik liefdevol is en soveel respek teenoor mekaar toon, is uiters inspirerend.
’n Dokumentêr soos hierdie een kan sensasioneel oorkom, maar julle slaag daarin om sensasie te vermy en ’n baie eerlike, opregte storie te vertel. Hoe het julle dit reggekry?
Ursula: Dit was van die begin af ’n doelbewuste besluit om sensasie te vermy. Ons wou byvoorbeeld vir Jannie voorstel as ’n pa, en nie as ’n Springbok nie. En die fokus was bietjie meer op Ronel. Op die ou einde het Jannie se aanslag alles mooi saamgevat.
Danielle: As vervaardiger was dit vir my ’n groot fokuspunt om die storie te respekteer. Ons het heeltyd terug gegaan na: “Wie is die mens(e)? Wie is die ouer? Hoe werk die rouproses?”
Constant van Graan van Pelican State het die liedjie, “’n Nuwe dag”, spesiaal vir die klankbaan geskryf, nie waar nie?
Danielle: Wanneer musiek spesifiek vir ’n produksie geskryf word, dra dit die regte emosie oor. Ons is ook baie trots op Pieter G. Nel se klankbaan, want die meeste daarvan is oorspronklike musiek.