Kortfilm deur ’n gevestigde filmmaker: Tussen die kwashale

Gasan Sallies sit soveel verskillende kreatiewe stoele vol dat dit moeilik is om hom in een hoedanigheid vas te pen. Noem dit maar op: animasie, spesiale visuele effekte, kunstenaar, filmmaker – en nou met sy nuutste film kan musiekmaker ook bygevoeg word.

Gasan se film, Tussen die kwashale, handel oor die verpletterende verlies wanneer ’n ma wat die grootste liefde vir haar 11-jarige nie-verbale outistiese seun koester, aan kanker sterf. Op sy beurt vind die seun, Tyrone (Jihad Otto), troos deur te skilder – iets wat ’n band tussen hom en sy ma, Anna (Monique Rockman), gevestig het. Sy pa, Greg (Khalil Kathrada), sukkel om sy seun se outisme, asook die verlies van sy geliefde vrou te verwerk.

Gasan vertel meer oor Tussen die kwashale:

Hoeveel van Gasan se eie reis is te sien in Tussen die kwashale?

Aanvanklik wou ek nie erken dat dit ’n persoonlike reis vir my is nie. Ek het dit as fiksie afgemaak. Ek wou myself net nie toelaat om in daardie rigting te dink terwyl ons besig was met die verfilming nie. Ná die tyd het ek egter besef hoe persoonlik die reis eintlik is, en dat dit soms opsetlik deel van die film geword het.

Tussen die kwashale is opgedra aan jou ma, Zulfah Otto-Sallies, wat in 2016 aan ’n beroerte beswyk het. Watter impak het sy op jou lewe gehad?

Daar is heelwat persoonlike aspekte van my lewe wat in die film weerspieël word, soos die verhouding tussen Tyrone en Anna. My ma was ook ’n filmmaker, van onder andere Raya, Mama Africa, Action Comandante, en ’n skrywer (Diekie van die Bo-Kaap).

Om iemand aan die dood af te staan, lei tot ’n ander perspektief oor die lewe. My ma het altyd laatnag, as ek besig was om te skryf, vir my gesê: “Wanneer jy vóél, skryf, want skryf kom uit die hart uit.” Dís dieselfde boodskap wat Anna aan Tyrone gee: “As jy dit voel, verf dit.”

As ’n skrywer laat ons ons karakters deur diepe waters gaan. Hoe verwerk ’n nie-verbale outistiese kind sy ma se dood? As ek nie kon praat nie, weet ek nie hoe ek my eie emosies rondom die verlies van my ma sou hanteer nie. Deur vyf films aan my ma op te dra … dis die manier waarop ek my eie rou hanteer. Tussen die kwashale is ’n persoonlike dankie aan my ma. Anna se stem is nes dié van my ma en ek weet: “Alles gaan oukei wees.”

Hoekom het jy rou as die deurlopende tema uitgebou?

Dit is deel van die film. Mense wat deur soortgelyke verliese gegaan het, kan by Tyrone aanklank vind. Rou is nie iets waaraan jy net gewoond raak nie. Jy pas daarby aan. Wanneer ek iets groot aanpak, dink ek aan my ma. Jy leer om aan te pas sonder haar. En ek glo dis as gevolg van haar afsterwe dat ek vandag die filmmaker is wat ek is. Ek is so dankbaar.

Waarom nie-verbale outisme deel van die storie maak?

Aanvanklik kon Tyrone praat – en ek het beplan dat die film ’n tragedie sou wees. Ek wou hom laat sterf, maar dit sou baie wreed gewees het. Ná heroorweging het ek besluit dat nie-verbale outisme die roete gaan wees om te volg omdat ek gevoel het dat daardie aspek van die spektrum tot my spreek.

Aan die begin van die film gesels Tyrone wel, maar dis net in sy eie wêreld. Sy verhouding met sy ma is diep gesetel in hul gedeelde liefde vir skilder. Hy probeer om dit ná haar dood te laat herleef en om homself sonder sy ma te vind, alhoewel sy in ’n ander dimensie steeds by hom is.

Hoe het jy jou akteurs gekies?

Ons het na oudisie-opnames gekyk en daaruit gesif. Khalil het uitgestaan met sy rou vertolking. En toe ek Monique se opname kyk, het ek geweet sy’s Anna. Daai sagtheid …

Vir die rol van Tyrone was daar twee kandidate. Ek het vir Khalil gevra om self in te kom om vas te stel watter een van die twee gaan werk, want daardie konneksie tussen akteurs is so belangrik. Daar is net iets aan Jihad. Hy toon emosie in sy stilte. Tydens die oudisie het hy die hele tyd in karakter gebly. Hy is soms te ernstig, maar hy is so professioneel. Dit was ’n plesier om met hom op die stel te werk.

Vertel meer van die klankbaan en die strelende “Ty’s Lullaby”.

Ek is ’n trotse nuwe pa en ons dogtertjie se naam is Zulfah. Sy is na my ma vernoem. “Ty’s Lullaby” is die wiegeliedjie wat ek nog voor die film vir my dogtertjie opgemaak het. Ek en my vrou sing dit vir haar. Ons het halfpad deur post-produksie gevoel ons het nóg musiek nodig. Matthew MacFarlane het gesê hy wil baie graag die klankbaan vir Tussen die kwashale skep. Alles het net lieflik bymekaar gekom.

Wat hou die toekoms in?

Ek sal baie graag ’n vollengte film van Tussen die kwashale wil vervaardig. Daar is net soveel stories in die agtergrond oor Greg en Anna wat vertel moet word.

Ek is ook besig met ’n vollengte dokumentêr oor my ma en dis reeds in produksie. Dis hoe ek my rou verwerk nadat ek my ma moes groet. Ek doen dit op die beste manier waarop ek dit kan doen.