Kortfilm deur ’n opkomende filmmaker: Bly

Op ’n stormagtige nag woed daar ook ’n storm in die gemoed van Erik (Anton Dekker), wat die moeilikste besluit van sy lewe moet neem ter wille van sy geliefde Jannah (Karin Retief). Maar die noodlot het ander idees wanneer hul kleindogter, Klara (Liza du Plessis), onverwags haar opwagting maak in skrywer- en regisseur Tana Pistorius se kortfilm Bly.

Tana, wat in die advertensiebedryf werk as kreatiewe regisseur en vervaardiger, het die draaiboek saam met Armand Rossouw geskryf. Sy vertel meer oor die fliek:

Bly is ’n tragiese verhaal, maar dit gaan ook oor die liefde. Wat het die storie geïnspireer?

Om ’n storie oor genadedood te vertel was die beginpunt. Maar die vraag wat ook by my gespook het, was: Wat beteken dit as jy jou lewe lank ’n goeie mens was, maar dan een groot fout maak? Is jy steeds ’n goeie mens, al mors jy alles aan die einde op?

Bly is nie ’n Covid-storie nie, maar my ervarings in Covid-tyd het tog ’n invloed gehad op die skryf van die draaiboek. My ouma en my tannie is oorlede in daardie tyd, en om te sien hoe iemand wat ’n vol lewe gelei het se lot buite hul beheer is, was moeilik. In die fliek speel ons met die temas van onskuld, die dood, asook die impak wat skuld het.

Hoe was jou ervaring om saam met twee gesoute akteurs soos Anton Dekker en Karin Retief te werk?

Dit was ongelooflik om saam met Anton en Karin te werk. Albei het omgegee vir die storie en ons het baie oor die karakters en hul keuses gepraat. Ook oor hoe hulle teenoor mekaar moet speel. Hulle het jare gelede ook saam gespeel en dit was lekker om hul chemie op stel te ervaar.

Die stel was baie soos ’n teaterverhoog en ek dink dit het ’n invloed op die toneelspel gehad. Anton was bereid om baie kwesbaar voor die kamera te wees. Liza du Plessis, wat Klara speel, is ook ’n wonderlike aktrise.

Julle skiet-skedule was nogal ongewoon, nie waar nie?

Ons het by Melrose Huis in die middestad van Pretoria geskiet, danksy ons fenomenale vervaardiger, Lara Lourens. Ons het van sesuur saans tot sesuur in die oggend geskiet en dit was soos om vir twee dae in ’n ander wêreld te wees. Dit was ’n belewenis om die towerkrag van teater op hierdie manier te ervaar.

Die fliek het ’n baie somber gevoel. Hoe het Clarence Raymond se kinematografie, Alan Thrope se beligting, en Wesley West se rol as komponis hiertoe bygedra?

Dit was ongelooflik hoe hierdie mense bymekaar gekom het en hoe ons iets kon skep op grond van ’n gedeelde visie. Daar is so bietjie van ons almal in die fliek. Ek dink jy kry die beste produk wanneer almal ewe veel in die fliek belê.

Ek en Clarence het baie ‘mood boards’ gedeel en gepraat oor die rol wat kleur in die storie speel. Wesley het die klankbaan gegrond op Jannie du Toit se liedjie, “Die eggo van jou oë”. Daar is ook ’n Gert Vlok Nel-gevoel en ou-Afrikaanse vibes met siel. En mense was bereid om baie in die dak te klim ter wille van die beligting …

Wat is die uitdagings daarvan om ’n kortfilm te maak en om ’n storie soos julle s’n binne skaars twintig minute te vertel?
Dit maak dinge makliker as jy met vaste reëls in jou kop skryf. Een daarvan is om net een stel te gebruik. Dit beteken jy kan meer van jou begroting bestee aan ander dinge, soos goeie lense. Hoe minder akteurs jy gebruik, hoe makliker is dit ook om ’n verhouding met hulle op te bou en die storie tot sy reg te laat kom.

Die konsep van Bly was aanvanklik té groot. Maar dan speel jy met die hart van die storie en werk uit wat die metafoor, of wat ook al, is. Als is makliker as jy ’n goeie storie het.

Dit is ook belangrik om vyfhonderd keer deur jou ‘beat shoot’ te gaan en om seker te maak alles werk. Mense dink ’n kortfilm is eenvoudig, maar dit verg baie klein oomblikke, of ‘beats’, om dit opwindend vir die kyker te maak.

Vertel van jou Silwerskerm-ervaring en hoe jou mentors, Etienne Fourie en Jaco Smit, daartoe bygedra het?
Die feit dat jy toegang het tot soveel kundigheid vanuit die bedryf beteken jy kan jou visie en storie uitbou saam met mense wat net so passievol soos jy oor jou kortfilm is. Ek het baie Zoom-oproepe met Etienne en Jaco gehad en hulle mentorskap was fantasties. Al werk ek elke dag in die advertensiewese, het die proses my kop oopgemaak vir die skryfproses en presiese formulering. Dít was ’n groot deurbraak vir my. Dis baie waardevol om hierdie proses minstens een keer as ’n jong rolprentmaker deur te maak.