





Kortfilm deur ’n opkomende filmmaker: Kinnetafel
In Kinnetafel nooi skrywer-regisseur Stevie Cupido kykers om aan te sit by ’n familiekersete waar die verlede tussen die geregte spook, en nuwe waarhede saam met die nagereg bedien word. Lucian Geland (Braeden Buys) het oplaas sukses behaal in die uitgewerswêreld, en sy debuut-niefiksieboek is ’n treffer. Die vangplek? Dit is ’n ongenaakbare alles-onthullende boek oor sy familie – en sy suster Marion (Lauren Joseph) is die enigste een wat daarvan weet …
Teen die agtergrond van ’n familiebyeenkoms ondersoek die film die veranderende rolle binne ’n gesin soos die kinders volwassenheid betree, en dit vang die ongemak vas van om beide gesien én misverstaan te word deur die mense wat veronderstel is om jou die beste te ken.
Stevie vertel meer oor hoe hulle Kinnetafel se storie laat lewe kry het.
Wat het Kinnetafel geïnspireer?
Die idee het in 2020 posgevat tydens die Covid-19-inperking. My ouers en ek was in Bonnievale, en skielik het my drie volwasse susters, my tannie en my ouma ook daar kom bly. Ons was almal in een huis met een badkamer, en dit het my laat terugdink aan my kindervakansies wanneer al die nefies, niggies, ouers en grootouers bymekaar was. Ongeag jou ouderdom keer jy altyd terug na jou ou, oorspronklike rol. Een dag maak my tannie pannekoek en sê toe sommer dit is “net vir die grootmense”. Ek onthou ek het gedink: “Maar is ons dan nie almal nou grootmense nie?” Daardie oomblik het vasgesteek. Dit het my laat besef hoe diepgewortel gesinsdinamika is – jy kom nooit regtig weg daarvan af nie.
Die titel suggereer ligsinnigheid, maar die film dra gewig. Was dit ’n doelbewuste keuse?
Beslis. Ek wou hê kykers moes iets speels verwag, en dan verras word. Dis ’n storie oor familie, maar dit is beslis nie gesinsvriendelik nie.
Die titel, Kinnetafel, roep ’n gevoel van onskuld op, maar wat gebeur is rou en volwasse. Die nabye, intieme kamera-opstelling was doelbewus. Ek wou hê kykers moes voel hulle het in ’n private gesprek ingestap wat hulle nie moes hoor nie – maar nou kan hulle nie wegkyk nie. Die spanning lê in die stiltes en die dialoog.
Hoe belangrik was die keuringsproses vir die rolverdeling?
Baie belangrik. In ’n kortfilm moet akteurs dadelik met die materiaal vereenselwig. Braeden Buys, wat Lucian vertolk, het van die begin af uitgestaan – hy het dit net reggekry. Lauren Joseph het die perfekte kombinasie van vurige ouer-suster-energie en deernis ingebring. Hul dinamiek het die emosionele lae na vore gebring, maar ook gewys hoe ouer sibbe soms minder keuses het as die jongeres.
Melanie du Bois het ’n kragtige vertolking gelewer as hul ma. Tydens haar monoloog in die kombuis was almal op stel in trane. Sy het werklik daarin geslaag om uit te beeld wat dit beteken om alles bymekaar te probeer hou terwyl dinge tydens die kersete rondom haar versplinter. Die hele rolverdeling het met sorg, humor en diepe insig gewerk. Selfs tussen die opnames was daar ’n spesiale energie – ons het heeltyd gelag.
Die karakters staan almal uit. Wat het jou geïnspireer toe jy hulle geskep het, en wat wou jy hê moes hulle aan kykers oordra?
Ek wou hê hulle moes ’n tikkie camp uitstraal, maar ook met genoeg selfbewustheid om die absurditeit van familie-chaos te weerspieël sonder om hul emosionele geloofwaardigheid in te boet. Baie karakters is geïnspireer deur ware stories, vriende en selfs my eie familie. Lucian, die skrywer, is vir my die persoonlikste karakter.
Skrywers gebruik dikwels persoonlike ervarings as inspirasie – en dit kan soos verraad voel. Ek wou daardie wrywing hê. Elke karakter moes iets tot die wanfunksionaliteit bydra, maar ook iets herkenbaars weergee, soos die glansryke tannie wat op ’n tyd oor die grimeringstoonbank by Edgars geheers het, of die stil oom wat min praat, maar altyd lekker is om in die omtrek te hê.
Wat dink jy maak die film so identifiseerbaar?
Almal het al een van daardie gesinsetes gehad wat nie verloop het soos dit moes nie. Die tafel word ’n simbool van spanning. Om die spanning op te bou, is die verhaal gestruktureer in die spreekwoordelike voorgereg, hoofgereg en nagereg. Dit weerspieël hoe spanning in die werklikheid ook oplaai – veral binne families.
Ek dink mense sal hulself in die karakters herken: hoe ons optree, hoe ons gesien word, en hoe oënskynlik onbenullige dingetjies dinge buite beheer kan laat raak. Die film wys hoe ’n familie eers alles moet afbreek voordat hulle dinge weer kan heropbou, en dit is iets waarmee baie mense kan identifiseer. Ten spyte van al die onaangename en chaotiese oomblikke, is daar steeds baie liefde.
Die boek binne die film, Lucian se vertel-alles-verhaal, is ’n sterk element. Hoekom het jy daardie laag ingesluit?
Boeke is vir my belangrik. Ek was nog altyd ’n leser, en ek wou dit ook op artistieke wyse demonstreer. Lucian se boek simboliseer hoe lank hy al aan dinge dra en dit opkrop – want ’n boek word nie oornag geskryf nie. Dit vat tyd. Maar hy is só vasgevang in sy weergawe van die familie se storie dat hy nie sien hoe dit ander kan seermaak nie. Dit wys hoe eensaam dit kan raak as jy die werklikheid in kuns omskep sonder om terug te tree en die volle prentjie in oënskou te neem.