Kortfilmprojek – opkomende filmmakers: Die groot twis

Van die uitgestrekte Karoovlaktes tot die ruwe Drakensberge speel ’n Afrikaanse koeng foe-komedie met marionette hom af in die kortfliek Die groot twis. “Pop, skiet en donder” beloof die lokteks van die skrywer en regisseur Johann Vermaak se satiriese fliek, wat die geskiedenis van Die Groot Trek én Suid-Afrika op die kop keer. Dis ’n Afrikaanse Western met ’n retro-aanslag en ’n goeie skoot feminisme op die koop toe.

As hoof-poppespeler by die politiese satire ZA News, gegrond op die werk van die spotprentkunstenaar Zapiro, het Johann, ’n akteur, en sy kollegas lank gespeel met die idee van poppe wat kan baklei.

Hy doen self al jare lank koeng foe en toe die geleentheid hom voordoen om in te skryf vir vanjaar se Silwerskermfees, het hy sy aweregse komedie voorgelê oor twee mans, Jakobus (Eben Genis) en Mhlope (Wiseman Sithole), wat alles in die stryd werp om te baklei vir wat hulle dink aan hul elkeen behoort. Cintaine Schutte het die stemwerk vir Marietjie gedoen. ’n Meisie wat die ene onskuld is. Of is sy?

Die marionette, wat herinner aan dié van kindertelevisie van ouds, is die handewerk van Marelize Viljoen.

Johann het so ’n paar vrae oor die fliek beantwoord.

Waarom het jy besluit om Die groot twis aan te pak as ’n komedie met marionette as karakters?

Ek stel al jare in gevegskuns belang en ek’s ’n groot aanhanger van satire. Ek het heeltyd gewonder hoe ek die storie so wyd as moontlik kan vat. Komedie is ’n wonderlike medium om met poppe te doen en ’n mens kan met baie meer wegkom as normaalweg. My droom is om mense met die fliek te laat lag.

Waar kom die storie vandaan?

Dit het organies ontwikkel. Daar is iets mities aan Die Groot Trek en aan die dapper verkenners wat daarvan deel was. Ook aan die idee van Afrikaners as die ‘uitverkore nasie’ en daai soeke na ’n ‘nuwe wêreld’.

Met die poppe en die genre kon ek ook meer doen met die konflik tussen die swart en die wit man. Dit is direk, eerder as passive aggressive. Ek dink dis ’n goeie ding om te speel met daai idee van wie’s die vyand en wie is die held. Dis sulke lekker argetipes om mee te werk.

Jy het jou tande in poppeteater by ZA News geslyp. Is dit iets wat jy nog altyd wou doen?

Voor ek die oudisie by ZA News afgelê het, het ek niks geweet van die styl van poppeteater wat hulle gevolg het nie. Ons het begin speel met die poppe en ek het sterk aanklank by hulle gevind. Jy moet komiese tydsberekening hê en weet hoe om met die kleinste beweging, soos die knik van jou kop, ’n emosie oor te dra. Hansie Visagie, die poppemeester, het my mentor geword. Hy het my die fyner detail van poppeteater geleer. Ek sou nie hier wees sonder hom nie.

Julle het net vier dae gehad vir verfilming. Dit kon sekerlik nie maklik wees nie?

Jy doen dit deur te werk met mense wat jy vertrou en met wie jy al voorheen gewerk het. Ek het al in die verlede met die meeste poppespelers gewerk wat by Die groot twis betrokke was – hulle is van ons land se bestes.

Dis moeilik om ’n poppespeler te wees, want jy verdwyn as mens en jy wórd die pop. Jy moet jou lyf in allerlei kontorsies kry en dikwels beheer meer as drie mense een marionet.

Die stemwerk is fantasties en Cintaine Schutte verleen ’n onrusbarende onskuld aan Marietjie?

Ek was so geëerd om met die talentvolste akteurs en kunstenaars te kon werk. Cintaine is volgens my die veelsydigste aktrise in ons land. Haar stemwerk was absoluut briljant en sy het alles vir die rol gegee.

 

Daar is twee tipes marionette in die fliek – Banraku-poppe in die Japannese styl vir gevegstonele, en ook die groter marionette. Hoe het jy besluit op dié tipes?

Die storie het ’n baie interessante estetika vereis. Jy kan net soveel met ’n pop se gesig doen in terme van wroeging en emosie, en dit fassineer my. Die Handspring Puppet Company se poppe is byvoorbeeld baie intens, maar ek het iets anders in gedagte gehad, meer soos Hansie se Sarel Seemonster, of Jim Henson se Muppets.

Die poppe is deur die kranige Marelize Viljoen gemaak. Ons het saam met die gevoel vir elke pop vorendag gekom. Sy het aanvanklik ’n prototipe van die gevegspoppe gemaak. Die eerste een was van Jakobus. Ons het toe met die hom gespeel totdat hy kon skop en beweeg soos ek wou hê. Ek het Eben Genis in gedagte gehad met Jakobus se gesig.

Die proses het sowat twee maande geduur en ons het oor alles getob – van velkleur tot die vorm van die marionette se oë en monde.

Die Marietjie-pop was ’n moeilike een, want ons moes besluit of sy meer soos Cintaine moes lyk en of sy ’n meer generiese voorkoms moes hê. Op die ou einde is sy eerder ’n verteenwoordiger van alle vroue.

Die fliek word as ’n koeng foe-komedie beskryf, maar vervleg eintlik veel meer, soos feminisme. Was dit doelbewus?

Baie sterk vroue het al ’n impak op my lewe gehad. Ek hou van die idee van iemand wat dink jy’s swak en weerloos, maar jy’s eintlik veel sterker as wat almal verwag.

Vertel van Albert Pretorius se karakter Buddawikus, die dronk waarsêer, en sy Zoeloe-eweknie, Umenzi, wat deur Sne Dladla vertolk word.

In koeng foe-flieks is daar amper altyd ’n wysgeer (sage), die ou wat die waarheid verklap, al dink jy hy’s maar net ’n dronklap. Omtrent alles wat Buddawikus sê, is aanhalings van Confucius, en Umenzi gebruik ook baie tradisionele Zoeloe-spreekwoorde. Dit speel met die idee van wysheid binne ’n Afrika- en Oosterse konteks.