Old Righteous Blues is ’n eg Suid-Afrikaanse rolprent gewortel in die wêreld van die Kaapse Kerskoorbrigades

Dis ’n Romeo en Juliet-storie in die Boland, ’n aangrypende drama oor ’n gemeenskap wat in twee geskeur is oor ’n ou vete, en ’n eg Suid-Afrikaanse rolprent wat die kollig laat val op ’n nasionale kultuurskat: die Wes-Kaapse Kerskore. Dís Old Righteous Blues, ‘n móétsien-speelfilm, met ’n indrukwekkende en groot rolverdeling wat nog gehore wêreldwyd aan hul voete gaan hê.

Old Righteous Blues is in die pragtige Robertson verfilm en vertel die verhaal van Hantjie, ’n ambisieuse jong man met ’n brandende begeerte om die trommelmajoor van sy Kerskoor te word. Ongelukkig is die koor se stoere leiers, wat vasklou aan die verlede, nie daarvoor te vinde nie. Om sake verder te kompliseer, is die liefde van Hantjie se lewe, Risi, die dogter van die gehate opposisie-koor se leier. 

Ayden Croy lewer ’n meesleurende vertolking in die rol van Hantjie, en Megan Saayman skitter as sy geliefde Risi. Twee ander  blink opkomende akteurs in Old Righeous Blues is Joshwin Dyson en Stefan Erasmus. Hulle word omring deur formidabele veteraanakteurs soos Kevin Smith, Simon Bruinders, Euodia Sampson en Ivan Abrahams.

Old Righteous Blues is des te meer besonders oor die manier waarop dit die mense van Robertson betrek het – as ekstras, raadgewers of agter-die-skerms-bystand. Só is dit nie net ’n unieke Suid-Afrikaanse film nie; dis óók Robertson se rolprent. 

Draaiboekskrywer Carol Shore, wat voorheen die sepie Muvhango se hoofskrywer was en in Robertson woon, asook Old Righteous Blues se regisseur, Muneera Sallies, het ‘n paar nuuskierige vra oor hulle baie oorspronlike rolprent beantwoord:

 

  • Hoe en wanneer is die saadjie vir Old Righteous Blues geplant?

Carol: Ek het die eerste keer met die Kerskore kennis gemaak toe ek lank gelede uit Johannesburg na die Wes-Kaap verhuis het. Die tradisie om op Kersaand met ’n geskal deur die strate te marsjeer, was ’n opwindende eerste ervaring vir my. So ook die koorkompetisies in die warm Februarie- en Maartmaande. As draaiboekskrywer en filmmaker het dit my geprikkel omdat ek nog nooit iets oor dié ryk kultuurtradisie op die grootdoek of kleinskerm gesien het nie. 

My navorsing het afgeskop met die idee dat dit ’n belangrike dokumentêr sou wees. Dit was nog in die dae voor internetsoekenjins. So, die roete om te volg was in-persoononderhoude. Dis hoe ek te hore gekom het van ’n bittere stryd in die verlede met ’n koppestamp oor leierskap en musiekstyle. Dit het Robertson se mense diep geraak en ’n wig tussen vriende en familie ingedryf – vriende en familie wat eens saamgesnoer is deur dieselfde koor. ’n Ander storie het begin ontvou, meer geskik vir ’n rolprent. 

  • Vertel ons meer oor die mense van Robertson.

Carol: Ek is in die bevoorregte posisie om al ’n lang pad saam met die Old Saints Kerskoor te stap. Hulle is deel van ’n gemeenskap waarin armoede en werkloosheid prominent is met min vooruitsigte vir jongmense. Tóg skep dié koor al sedert 1947 die geleentheid om deel van iets spesiaals te wees.  

  • Hoe het julle te werk gegaan om Robertson se inwoners deel te maak van Old Righteous Blues?

Muneera: Wanneer mens die storie van ’n spesifieke gemeenskap vertel, is dit belangrik om dit so outentiek as moontlik weer te gee, en my etos is altyd om die gemeenskap daardeur te dien. Of dit nou deur werkskepping is, vaardighede oor te dra of net die energie wat die rolprent soontoe bring. 

Ons het vooraf talle gesprekke met die gemeenskap gehad waarin ek my visie gedeel het, en van die begin af was hul bydrae enorm. 

Die lede van die kore in die omgewing het ’n deurslaggewende rol gespeel met die choreografie van die marsjeer-aspekte en koorvaardighede wat vir Old Righteous Blues nodig was.

Agter die skerms het Robertson se inwoners ook vir aspekte soos die sekuriteit en spyseniering gesorg, en sommiges het gehelp met ons beligting en ander verfilmingsdinge. 

Ons het min tyd gehad om te repeteer en almal was ongelooflik. Hulle het wel soms ons filmtaal amusant gevind. Dit was kostelik om te sien hoe die kinders aan die einde “een, twee drie, aksie” en “cut” uitgeroep het.”   

Carol: Dit was ’n ambisieuse projek in terme van skaal, en ons sou dit beslis nie sonder die mense van Robertson se samewerking kon doen nie.  Uiteindelik, glo ek, was dit ’n ongelooflike samebindende en opwindende ervaring vir almal aan beide kante van die kamera. Daar was ’n gevoel van trots om ’n storie eie aan die gebied te vertel. 

  • Muneera, met al die ekstras moes jy met ’n groot groep mense werk. Hoe het jy dit benader en bestuur? 

Muneera: O jinne, dit was uitdagend, maar ook fantasties gewees. Om so ’n groot aantal mense sonder enige filmervaring, wat nie weet wat dit behels om ’n toneel te skiet nie,  op stel te hê, was omtrent ’n gedoente. As ek nou daaraan dink, was dit malligheid, maar daar lê ook soveel krag en betowering in die rou eerlikheid wat so ‘n proses meebring. Dit is iets wat jy nie elders kan vermag nie. 

Ek glo sterk dat as mens elke persoon vriendelik en met respek hanteer, en verseker dat hulle jou doelwitte verstaan, maak nie saak hoe groot of klein hulle rol is nie, dit alles makliker maak. Ons het baie geskerts en gelag op stel. 

  • Wat was die grootste uitdagings om die rolprent te maak?  

Muneera: Om ’n rolprent te maak, spandeer jy baie tyd aan probleemoplossing. Ons grootste uitdaging was om nou saam met die koor te werk. Onthou, dis gewone mense met hul eie lewens en roetines en nie akteurs of filmmakers nie. Ons was buitestaanders wat hulle daaglikse roetines kom omverwerp het. As daar ’n groot rugbywedstryd op ’n Vrydagaand of Saterdagoggend was, moes ons – soos dit hoort – ons skedules aanpas. Ons moes dikwels uit die bloute nuwe planne maak, en glo my, daar was dikwels ’n plan B en C. Ons het eintlik deur die hele alfabet gegaan, al die pad tot Z.  Maar dit was die moeite werd.

Old Righteous Blues is vervaardig deur The Ergo Company and Seashore Films met Dumi Gumbi, Cati Weinek en Carol Shore aan die stuur van sake. 

Regisseur Muneera Sallies het al op 15-jarige ouderdom die bedryf betree as aktrise en was onlangs vir die gewilde dramareeks Melody en die rolprent Twisted Christmas verantwoordelik.

Old Righteous Blues wys op Woensdag 23 Augustus om 20:00 by die Silwerskermfees. Hou ook die DStv-webwerf dop om te sien wanneer dit later op DStv BoxOffice te siene sal wees.