



Onafhanklike kortfilm: Amazeze
Regisseur en draaiboekskrywer Jordy Sank se Amazeze handel oor ’n jong Zimbabwiese seun wat in ’n Suid-Afrikaanse township woon, en sy lewe daagliks waag om skoon drinkwater vir sy bedlêende jonger boetie te kry. Dit terwyl ’n xenofobiese skare in die township amok maak.
Sank, bekend vir sy dokumentêre rolprent I Am Here en sy debuut-speelfilm Die Kwiksilwers, vertel meer oor hoe hierdie diep ontroerende film tot stand gekom het.
Die verhaal van Amazeze is ongelooflik relevant en terselfdertyd ’n realistiese en ontstellende uitbeelding van buitelanders se ervarings in ons townships. Hoekom wou jy juis dié storie vertel?
Dis ’n storie wat al lank by my spook, veral nadat geweld uitgebreek het, net ’n paar blokke van my af waar ek in ’n voorstad van Johannesburg woon. Ek het gehoor van buitelandse winkeliers naby my wat deur vigilante-skares geteiken is. Op daardie stadium het ek saam met ’n menseregte-aktivis gewerk wat my toe na die middestad geneem het waar ’n mark afgebrand is.
Ek het deur die mark geloop waarvan die winkels meestal aan buitelanders behoort het, en die absolute verwoesting, en ook die hopeloosheid van die situasie aanskou. Dit het my só diep geraak dat ek besluit het ek móét iets maak wat tot belangrike gesprekke kan lei. Dit is hoe Amazeze begin het.
Hoe het Tonderai se storie toe gestalte gekry?
Die aktivis saam met wie ek gewerk het, was ook ’n onderwyser, en so ek het ’n unieke geleentheid gekry om met sommige van die nie-Suid-Afrikaanse skoliere te gesels en na hul stories te luister oor wat hulle ouers oorgekom het en hoe hulle die gebeure om hulle ervaar het. Dit het die grondslag vir die verhaal gelê.
Ons was baie gelukkig dat die projek in 2022 vir die Talents Durban-opleiding- en ontwikkelingsprogram gekies is, want toe kon ons die storie behoorlik uitwerk. Daarna is ons gekies om dit in 2023 in Frankryk voor te lê aan La Petite Fabrique, ’n internasionale verblyfprogram vir filmmakers uit Afrika. So, die projek het baie organies vanuit daardie proses ontwikkel.
Die storie word vanuit Tonderai se perspektief vertel. Waarom het jy gekies om die storie deur ’n jong kind se oë te wys?
Omdat kinders onskuldig is. Hulle is hoegenaamd nie veronderstel om by onverdraagsaamheid of haat, of ervarings van hierdie aard betrek te word nie. Maar iets wat ook baie mooi in die film is, is die verhouding wat tussen Tonderai en die Suid-Afrikaanse kind ontstaan. Dis daardie kinderlike onskuld van om ’n ander kind as ’n mens te sien. Om te aanvaar dat hulle dalk dieselfde drome of aspirasies het, of net saam sokker wil speel. Om die film deur ’n kind se perspektief aan te bied, maak die storie net soveel meer oop.
Hoe het julle die twee jong akteurs vir die rolle van die broers gekies?
Ons het met ’n maatskappy in Johannesburg genaamd Actors Spaces gewerk, en hulle is regtig ongelooflik, veral met die identifisering van jong talent. Hulle het die leiding geneem om hierdie seuns, Brandon Matizanadzo en Kupakwashe Makhuyana, in die hande te kry – en hulle was net fenomenaal. Ons het baie oudisierondes en skermtoetse gehad, en die jong akteurs wat ons gekry het, gaan beslis eendag groot sterre word. Hulle was regtig uitsonderlik.
Die prent speel in die nag af en julle maak gebruik van lang, ononderbroke skote wat ’n beklemmende en angswekkende atmosfeer skep. Vertel ons van die plek waar julle verfilm het en die besluit op lang, uitgebreide tonele.
Ons het alles in Kliptown, Soweto, geskiet en dit was nogal ongelooflik, want baie mense van die gemeenskap was betrokke as ekstras of om sekuriteit te voorsien. Ons het in ’n besonderse deel van die township verfilm, en waarvan ek baie gehou het, was hoe die plek soos ’n doolhof gevoel het, met hierdie kind wat amper soos ’n knaagdier deur die skadu’s moes skarrel om nie betrap te word nie, sonder om te weet wat om die volgende draai op hom wag.
Sover dit die lang enkelskote aangaan: ek het reeds in 2022, toe ek die konsep aan Talents Durban voorgelê het, die idee gehad om die film as ’n oner te doen. Wanneer daar van toneel verwissel word, kry kykers ’n blaaskans en hulle kan bietjie asemhaal. Maar ek wou hê die oomblik wat uitgebeeld word, moes lewensgetrou voel – iets waarvan jy nie sommer met ’n skootverandering kan wegkom nie. Jy is dáár saam met Tonderai. Soos wat hy beweeg, moet jy saam met hom vassteek en eers kyk wat aangaan, sodat jy ervaar wat hy ervaar. Dit rek die spanning uit. Dit is uiteindelik nie alles as een toneel geskiet nie – ons het op baie spesifieke momente geredigeer en die oorgang tussen snitte so onopsigtelik moontlik probeer hou.
Julle moes omtrent ’n klomp balle gelyk in die lug hou tydens die verfilming: julle het snags geskiet, daar was kinders betrokke, en selfs ’n hond in sekere tonele. Hoe het julle dit reggekry?
Ons het ’n fantastiese span gehad. Ek werk al lank saam met ons kinematograaf, Rick Joaquim, en ons kamera-operateur, Hanru Reyneke, wat op baie groot produksies in Suid-Afrika werk, was ongelooflik. Dit was ’n voorreg om met hulle saam te werk. Ons het alles baie noukeurig beplan. Die aand voor ons begin skiet het, het ons die hoofakteurs na die stel gebring, en ons het gedeeltes van die aksietonele deeglik uitgeplot. Ons het net een nag gehad om alles te skiet, wat absolute waansin was, en ons kon dit net regkry omdat ons dit so deeglik beplan het.
Soos met jou ander films, val die klem baie sterker op karakterisering, eerder as die boodskap. Waarom is dit vir jou belangrik om stories op dié manier te vertel?
Dis hoekom ek mal is oor films maak. As jy saam met ’n karakter op reis kan gaan en die wêreld deur hulle oë sien, hul hoogte- en laagtepunte saam met hulle beleef, dan kry jy ’n prentjie wat jou in die maag tref. Ons kon baie maklik net ’n dokumentêr gemaak het wat fokus op werklike gebeure en xenofobie in Suid-Afrika, maar ek dink om die ervaring deur die oë van ’n kind te sien, om hierdie verskrikking saam met die kind te beleef – dit het ’n veel groter impak. Ek hoop regtig die film sit ’n groter gesprek oor xenofobie en vervreemding aan die gang.