


Onafhanklike kortfilm: Engel
Met die eksperimentele kortfilm Engel voeg die gesoute filmmaker Jozua Malherbe ’n verhaal oor liefde en leed – en álles wat méns is tussenin – tot sy gerekende oeuvre. Die vertelling, wat ’n skamele vier en ’n halwe minute lank is, het sy oorsprong in ’n gedig uit Malherbe se pen. Sy dogter Charlotte speel die hoofrol.
Jozua vertel meer oor die skeppingsproses van Engel.
Engel is wêrelde anders as enige van jou vorige films of TV-werk. Hoe pas dit in jou oeuvre?
Die stuk verteenwoordig waar ek nou in my kreatiewe loopbaan verkeer. Dit is amper iets onvermydelik; iets wat ek móés maak. Dít het merendeels met die skeppingsproses self te doen. Ek wou iets maak wat nie so uitkomsgedrewe is nie, wat nie so afhang van dat dit in ’n spesifieke boksie moet pas nie. Ek wou eerder iets maak wat gelei is deur instink, intuïsie en inspirasie, en dit aanhou vorm totdat dit kom by ’n plek waar ek voel dit moet wees.
So, Engel is ’n baie instinktiewe stuk. Dit het begin met ’n gedig en toe volg ’n klomp gefragmenteerde beelde wat ek neergeskryf en begin teken het. Eers daarna het ek ’n teks geskryf. Ons het toe begin skiet, ek het weer gekarring aan die teks en ons het nóg ’n bietjie gaan skiet. Dié proses het regtig die uitkomste baie beïnvloed en my persoonlike uitdaging was om braaf genoeg te wees om dit só aan te pak.
Wat was die saadjie vir die gedig wat jy geskryf het?
Dit is ’n kombinasie van individualiteit en die vryheid van individualiteit, maar dan ook die gedrang van vaderskap en die kompleksiteit daarvan. Hoe omgee en vaderskap jou soveel meer van ’n mens kan maak, en om dít te probeer vasvang. Maar ook hoe dit soms in konflik staan met individualiteit en vryheid, en wat ons daaroor dink. Dít was die gevoelens waaroor ek iets wou sê en iets van wou maak.
Jy praat van jou instinkte volg – waarna het jy geluister en wat het jy geïgnoreer?
Daar is ’n klomp goed wat nie die finale edit gehaal het nie en ek dink die vertroue in die proses is wat my gehelp het om by die eindproduk uit te kom. Om nie te dink dat, net omdat ek daarop ge-roll het, moet dit in die edit wees nie. En net omdat iets wel ingesluit is, beteken nie die ding is klaar nie. Jy moet heeltyd vra: Wat is dit wat jy probeer sê? Wat is dit wat jy probeer vasmaak?
Op hul eie is dit baie abstrakte beelde, maar wanneer jy dit as ’n geheel sien, los dit jou wel met ’n ervaring en ’n gevoel. En dís wat die proses vir jou bied – om dit oor en oor te kyk en te vra: Werk dit al? Maak dit sin?
Alleen het die beelde nie noodwendig betekenis nie, maar saam is daar iets sterker aan die gang.
Sover dit styl en estetika aangaan: Was daar sekere vaste idees wat jy vooraf gehad het oor hoe dit moes lyk?
Daar’s ’n feëverhaal-element vir my daaromtrent, en die beligting is uitgevoer soos ek dit wou gehad het. Die manier hoe die beelde geskep is en die verskillende plekke waarheen die karakters gaan, is baie spesifiek so beplan. Die beelde wat jy sien, soos Arnold Vosloo wat in die graf lê, is alles vooraf gekies. Dít het nie op die stel gebeur nie. So al die beelde wat jy sien, het ek neergeskryf en ek het vooraf deeglik daaroor besin. Maar daar is ook ’n klomp goed wat ek uitgesny het.
Watter gevoel of gewaarwording wil jy by die kyker wek?
Dis nie vir my om te sê nie. Laat die film daai werk doen. Dit sal ’n fout wees vir my om ’n vooropgestelde idee te hê oor wat ek wil hê die gehoor moet voel. Nee, die film doen daai werk. En dis juis die punt van die film; daar is nie woorde vir alles nie. Wat dit by jou ontlok en aan jou emosionele wêreld en verbeelding doen … Ék kan nie woorde daaraan koppel nie. Dis juis hoekom die medium van film so kragtig is.
Jou dogter, Charlotte, speel ook hierin. Hoe was daardie ervaring?
Sy’s agt en toe sy uitvind ek gaan ’n movie’tjie maak, wou sy baie graag daarin wees. Dit was aanvanklik vir haar ’n bietjie vreemd en die derde dag van verfilming het so bietjie lank geword. Toe sy uiteindelik uitvind dat hierdie nie op Netflix gaan wees nie, en ook nie iets vir haar maatjies is om te kyk nie, was sy baie hartseer! Haar hart was gebreek. Ek het nie geweet dit is haar verwagting nie! Ek het net gedink sy wil saam met my kom movie maak, jy weet?
Maar ek dink dit gaan vir haar lekker wees om dit op die grootskerm by die Silwerskermfees saam met ons te kyk. Ek dink sy gaan ’n moerse kick daaruit kry om te sien hoe groot die skerm is en hoe groot sy self daarop is. Ek dink dit gaan vir haar lekker wees.
Hoe het Arnold Vosloo betrokke geraak?
Ek en Arnold is vriende en ons werk net baie lekker saam, so wanneer ook al ek iets maak, gesels ons oor sy beskikbaarheid en betrokkenheid. Hy bring soveel gravitas en styl na enige rol. Ek is mal oor hom op kamera.
Jy is reeds so ervare, maar wat was vir jou leersaam van hierdie ervaring?
Dat ek soms meer só wil werk. As regisseurs werk ons baie gestruktureerd, want die wêreld om ons verwag dit. Jy het soveel weke van pre-produksie, soveel weke van skiet, soveel weke van post- … Dit is die teenoorgestelde van byvoorbeeld ’n skilder.
So ek wou net meer van daardie proses probeer en aanvoel, en kyk wat dit doen en wat gebeur as ek vir myself die vryheid gee om nie gebonde te wees aan eksterne faktore soos tyd en geld nie.
En jy móét dit net doen. Dit het my nie meer of minder geld gekos nie. Ek het gunste gevra en dit was almal mense met ek al jare lank werk, wat ook hier bygedra het. So eintlik is dit my hele loopbaan se werk wat dié vier en ’n half minute se speel moontlik gemaak het.
Dit is bevrydend vir ’n kunstenaar en laat jou ook ’n ander toon van jou eie stem hoor.