Opkomende filmmaker: Liewe Dudu

As Dudu, ’n borrelende skoonheidsterapeut, laat opdaag by die laekoste-spa waar sy in Pretoria werk, tref chaos haar wanneer sy op ’n lyk op een van die masseerbeddens afkom. Met min tyd oor voor die jaarlikse inspeksie van die spa later die oggend, roep Dudu haar beste vriendin Lerato se hulp in om die liggaam te verskuif. Net om dan te besef dat haar baas, Nina, haar lykbesorger-kêrel toestemming gegee het om die liggaam tydelik daar te stoor. Die spa-meisies moet nou saamwerk om die lyk te versteek en alles eksie-perfeksie te kry voordat die swygsame inspekteur opdaag.

Regisseur Lydia Anne Stander, wat ook die draaiboek geskryf het, brei uit oor haar Silwerskermfees-kortkomedie, Liewe Dudu.

Waar kom die idee vir Dudu se storie vandaan?

Die idee het my binnegeskiet terwyl ek op ’n spa-bed gelê het, half aan die slaap, en ek toe wonder: Wat sal gebeur as die terapeut haar kliënt dood op die bed aantref? Dit het my herinner aan ’n episode van John Cleese se Fawlty Towers, ‘The Kipper and the Corpse’. Toe ek by die huis kom, het ek dadelik die raamwerk van die draaiboek neergepen en dit van daar af ontwikkel.

Die hoofkarakters is heerlik aweregs, en mens kan met hulle identifiseer – ek dink ons almal ken ’n Dudu, ’n Lerato en (veral) ’n Nina … Vertel ons meer van die drie hoofkarakters en hulle rolle in die verhaal.

Omdat ek al baie verskillende dagspa’s besoek het en met dosyne terapeute gesels het, het ek vir Dudu ’n samevoeging van al die vroue wat ek ontmoet het gemaak. Sy het haar tekortkominge, maar mens kan dit nie help om dié luidrugtige, trotse vrou wat gemaklik is in haar natuurlike skoonheid en kurwes, te geniet nie. Dudu het selfvertroue en vernuf, jy kan haar nie miskyk nie en sy is die middelpunt van alles.

Lerato is daardie vriend uit ons kindertyd wat ons almal het, sy ken ons beter as enigiemand anders – en sy het ons desnieteenstaande lief. Sy is Dudu se gewete en regterhand.

Nina verteenwoordig die gesagsfiguur met wie Dudu ’n probleem het. Maar Nina se hardekwas persoonlikheid is maar net om haar onsekerhede en kwesbaarheid weg te steek.

Is daar ’n karakter met wie jy sterker identifiseer as die ander? Ek wil graag weet of jy, toe jy besig was om te skryf, jouself of iemand wat jy ken in Dudu gekanaliseer het, of miskien in een van die ander karakters?

Alhoewel Dudu verbale diarree het en oor die algemeen ongeërg is, is haar subtiele towerkragte ooglopend: Sy weet intuïtief wat mense se behoeftes is en weet hoe om haarself uit amper enige moeilike situasie te kry. Daarteenoor is ek iemand wat eerder waarneem as praat, maar soos Dudu is ek ook sensitief vir mense se behoeftes en ’n kreatiewe probleemoplosser.

Vertel ons van die hooftemas in die verhaal.

Liewe Dudu het verskeie weergawes beleef voordat die teks gefinaliseer is, en sekere elemente het mettertyd in die slag gebly. Hoewel die rolprent hoofsaaklik ’n komedie is, het ek subtiele kommentaar oor relevante kwessies probeer inwerk. Ek hoop kykers sal ’n oomblik stilstaan en daaroor dink, en miskien stimuleer dit gesprekvoering oor dié onderwerpe.

In een vlietende oomblik het ek die uitmergelende werksomstandighede wat dikwels ’n las vir vroue is, soos onregverdige werksure, aangespreek. Getrou aan haar aard, tree Dudu vir Lerato in die bres om haar skoftye te verbeter. Danksy humor en kameraderie word Liewe Dudu meer as vermaak – dit hou ’n spieël na ons op wat die uitdagings in werkende vroue se lewens reflekteer.

Gugu Madlabane is uitstekend as Dudu. Hoe het sy in die rol beland?

Gugu ís Dudu! Sy is presies soos wat ek Dudu in my verbeelding voorgestel het, en iemand het haar vir die rol aanbeveel toe ek nog aan die herskryf was. Aanvanklik is die rol tydens oudisies aan ’n ander aktrise toegewys, maar sy moes onttrek weens blindedermontsteking. Ons het toe vir Gugu genader, wat ’n fantastiese oudisievideo gestuur het, en sy het drie dae voordat ons begin skiet het die rol gekry. Ek sou baie graag dit wou waag om die storie in ’n reeks met Gugu daarin te omskep.

Kan jy ons vertel waar die inspirasie vir die stelontwerp vandaan kom? Is dit ingegee deur jou persoonlike smaak? Of dalk deur iemand met ’n diepgesetelde liefde (of haat) vir die kleur pienk?

Ek het soveel pret met die stelontwerp gehad. Die idee was van die begin af dat dit common moes wees, ietwat Las Vegas met kitsch over-the-top dekor. Ek hou van pienk, maar niemand hou van só baie pienk nie! Ons het die spa heeltemal omskep in ’n surrealistiese pienk nagmerrie.

Wat was vir jou ’n hoogtepunt van hierdie projek?

Dit was ’n enorme voorreg om die kans gegun te word om die idee tot lewe te bring. As regisseur het ek skoon bederf op die stel gevoel, en is uitstekend deur die produksiespan bygestaan. Ek het elke oomblik op die stel terdeë geniet. Ek kan nie wag om weer so te maak nie!

Was jou werk as regisseur makliker omdat jy die draaiboek self geskryf het?

Absoluut. As mens ’n storie skryf, is dit deel van jou, en ek visualiseer alles wat ek neerskryf. Vir my kom dit vanself om my visie te deel, en ek hou daarvan om soveel moontlik tyd saam met die akteurs te spandeer voordat ons op die stel kom, sodat ons die storie kan ontleed en ek hulle insette in die karakters kan kry. Ek dink dit help om almal met selfvertroue te vul en meer in beheer te wees wanneer ons op stel is.

Het jy enige raad aan ander filmmakers wat dit oorweeg om ’n kortprent te maak?

Ek het al twee kortfilms gemaak en het so baie in die proses geleer. My raad aan ander filmmakers: jy gaan onder druk verkeer en tyd is altyd ’n groot faktor. Wees voorbereid en visualiseer elke toneel vooraf sodat jy nie tyd op stel mors nie. Wanneer jy die draaiboek skryf, hou in gedagte hoe dit prakties gaan werk en beperk jouself: minder karakters of kombineer karakters, minder plekke om te verfilm, en slim maniere om dieselfde stel te gebruik – alles gaan help om jou binne die begroting te hou.

Om rolprente te maak is ’n spansport. Selfs al is jy die regisseur, kan jy nie ’n film maak sonder ’n span mense nie; respekteer hulle, wees vriendelik met almal en waardeer hulle werk.

Enige snaakse stories van wat op stel gebeur het?

Ek moes vir Hannon vra of hy oukei sou wees oor ’n verwysing na hom en sy handelsmerk in die film. Hy het toe gevra of hy daarvan kon sien, en hy het gedink dis histeries. Hy was nie net tevrede om sy toestemming te gee nie; hy’t gesê as ons hom ooit in die film wil gebruik, neem hy met liefde deel.