Opkomende filmmakers: Ons

Die kortfilm Ons, wat aangebied word in die Silwerskermfees se opkomende filmmaker-kategorie, sien hoe ’n getroude paartjie se verhouding oor die loop van ’n enkele nag onherroeplik verander. ’n Reeks onthullings en ’n noodlottige voorval neem vir Liezl (Izel Bezuidenhout) en Dirk (Jacques Adriaanse) op ’n stormagtige emosionele reis van verraad, misverstande en kinkels soos hulle in die donker nag se kloue verstrengel word.

Christopher van der Westhuizen, regisseur en mede-draaiboekskrywer, vertel meer oor dié senutergende howdunnit/whodunnit-drama.

Die titel Ons is oënskynlik voor die hand liggend, maar soos die storie ontvou, spreek dit veel meer kompleksiteite aan. Hoe het julle op die titel besluit?

Ek glo dat ’n titel eers later kom wanneer jy regtig die storie verstaan. Die Silwerskermfees-proses laat ook toe dat jy werk kan inskryf wat nog nie klaar geskryf is nie en ons het dus gewag totdat ons die teks amper heeltemal voltooi het voordat ons op ’n finale titel besluit het.

Ons het besluit op ’n open-ended titel, sterk en kragtig, maar ook van toepassing op almal. Die verhouding tussen die twee karakters is die opvallendste, maar daar is ook ’n verskuilde element in die storielyn.

Dit beklemtoon ook een van die temas van die storie vir my: die idee dat daar nie ’n ‘ek’ kan wees sonder ’n ‘ons’ nie. Die lewe kry betekenis in die verhoudings wat ons met ander het.

Die twee hoofakteurs het ’n groot verantwoordelikheid om die geloofwaardigheid van die storielyn vas te vang. Hoe het jy die rolverdeling benader?

Die akteurs is uitstekend. Omdat Izel Bezuidenhout en ek die stuk saam geskryf het, en siende dat ons albei akteurs is en mekaar al meer as tien jaar ken, het dít gehelp om ’n natuurlike teks te skep. Ons het dit geskryf vir akteurs om te speel, nie om bloot gelees te word nie.

Ons het nie geskryf met enigiemand spesifiek in gedagte nie. Ons het geskryf wat ons sou geniet om te speel. Dit was ’n teks vir die akteurs, nie vir die kamera of fancy effekte nie. Ons wou soveel moontlik op die toneelspel fokus en daarom het ons tydens die oudisies ’n volle halfuur aan elke persoon toegeken om deeglik met hulle te kon werk en te speel.

Izel het ook ’n oudisie afgelê.

Was daar enige films of filmmakers wat jou werk op Ons geïnspireer het?

Ek bewonder David Fincher (Fight Club, Gone Girl) se werk baie en is veral aangetrokke tot hoe skerp en geregverdig elke oomblik in sy werk is. Ek hou egter ook baie van die meer natuurlike, dokumentêre styl van die Mumblecore-beweging – ’n subgenre van onafhanklike films wat gekenmerk word deur veral klein begrotings, en ad lib of min dialoog. Dít is regtig ’n medium vir die akteurs.

Die film is nie ’n groot aksieriller soos dié waarvoor David Fincher bekend is nie. Ons het dit gekombineer met die look van Greta Gerwig se Lady Bird. Die intimiteit en noue verhouding tussen die ma en dogter daarin het gevoel of dit hier goed pas. Dit is ’n vars mengsel van visuele en storie-elemente.

Dít het natuurlik ook by ons klein begroting gepas en was een van die motiverings vir die look van ons film.

Die film speel meestal in die nag af. Was dit ’n uitdaging om in die aand te verfilm, en hoe het julle die verfilming aangepak?

Ons het oor twee dae geskiet, baie vinnig, en hoofsaaklik deur die nag. Die ligging was ’n plaas net buite Hekpoort, so ons kon deur die nag skiet en gedurende die dag slaap in die gastehuis-area wat daar beskikbaar was. Rolprente is altyd uitdagend om te skiet, aangesien daar baie bewegende dele is, en moegheid is ook ’n faktor.

Tydens die verfilmingsproses het ons met langer skote geëksperimenteer en die film meer soos ’n teaterstuk hanteer om die akteurs vrylik te laat speel. Ek het vooraf 3D-weergawes van die hele film met behulp van Unreal Engine gemaak, waarin ek die kamera-instellings kon invoer. Dit het my toegelaat om vooraf met die toerusting te speel en te sien wat ek wou hê, wat ’n goeie verwysing vir die skietdag kon wees.

Dit het beteken dat wanneer ons op stel was, almal presies geweet het wat om te doen en wat ons wou bereik. Ons kon nie tyd mors nie, hoewel daar altyd onverwagte uitdagings opduik.

Ons het ook vooraf repetisies met die akteurs gereël, waar ons die storie so deeglik as moontlik kon verken en soveel moontlik kon speel om op die dag van verfilming selfversekerd te wees.

Wat is die film se hooftema?

Ons hooftema is die vraag: Wat beteken ’n lewe as daardie lewe joune kan vernietig? Dit het ons toegelaat om oor ’n verhouding, veral ’n huwelik, te praat – die verhouding wat veronderstel is om die belangrikste te wees. Wat beteken dit as daardie persoon jou verraai? Of as daar misverstande is?

Wat dink jy is die grootste uitdaging wat kortfilms vir filmmakers inhou?

’n Kort speeltyd beteken dat daar niks in die toneel kan wees wat nie bedoel is om daar te wees nie. Jy moet elke reël van die teks, elke skoot, geluid en beweging baie noukeurig beplan. Veral met ons film se kort speeltyd, kry jy nie ’n kans om die storie weer op te bou nie. Jy kan nie ’n enkele oomblik mis nie.

Wat is ’n waardevolle les wat jy tydens hierdie Silwerskermprojek geleer het?

Ek dink daar is ontelbare lesse wat ek geleer het. Ek is ongelooflik dankbaar vir die proses. Dit het vir my ’n veilige omgewing geskep met mense wat regtig daar is om jou te mentor, mits jy bereid is om begelei te word.

As ek een waardevolle les moet uitlig, sal dit wees dat ek die vryheid gevind het om my eie stem te ontdek. Dit was my eerste regiewerk op hierdie vlak, en ek het geleer hoe om sekere dinge te laat gaan en ander nie. Oor die algemeen was dit ’n wonderlike ervaring.

Wat hoop jy bly die kyker by nadat hulle die film gesien het?

Ek hoop dat kykers meer bereid sal wees om openlik te praat en te kommunikeer met die mense wat vir hulle belangrik is. Om die waarde van hul verhoudings te heroorweeg, en te vertrou dat die ander persoon sal verstaan.