Opkomende filmmakers: Steek vir steek
In Jaco van Bosch en Jacqueline Viljoen se Steek vir steek is ’n groep breiklub-tannies op die punt om uit hul ouetehuis geskop te word. As die ontvangsdame, Koekie (ook vertolk deur Viljoen), en Rita (Susan Coetzer) dan ’n dating app skep waarmee Rita en haar breiende makkers ouer mans – teen ’n prys – ontmoet om só fondse vir ’n huurhuis in te samel, steek die jong eienaar, Gertjie, egter ’n stok in die wiel. Nie net is die dak oor Rita se kop nou in gedrang nie, maar ook haar romantiese verhouding met Gertjie se oupa …
Jaco van Bosch vertel meer oor dié komedie.
Hoe het jy as mede-draaiboekskrywer en regisseur by die film betrokke geraak?
Ek en Jackie Viljoen, my medeskrywer, ken mekaar sedert vroeg 2022 toe ons op die stel van die kykNET-Storiefilm Vlamme ontmoet het. Sy was in die rolverdeling en ek was een van die redigeerders. Ons het baie vinnig vriende geraak en besef dat ons baie lekker saam skryf. Toe Jackie in 2023 die nuus kry dat haar konsep gekies is as een van die finaliste vir vanjaar se Silwerskermfees, het sy my dadelik genader om die regisseur te wees.
In Desember 2023, ná sy klaar die grootste deel van die storie geskryf het, het sy my gevra om te help met die laaste afronding en ons het die storie ’n groot overhaul gegee om dit te kry tot waar dit nou is.
Wat was die grootste uitdaging wat julle saam moes takel?
Daar was twee struikelblokke wat ons moes oorkom. Eerstens, die oorspronklike teks was te lank vir die kortfilmformaat, en dit was moeilik om te sny sodat dit binne 30 minute sou pas.
Die ander uitdaging was dat ons een van ons hoofakteurs vyfuur die oggend, net voordat hy op stel moes wees, verloor het. Dit was die derde dag van verfilming en ons het so geskeduleer dat ons al die Oom Gert-tonele op daardie dag sou skiet, maar ons akteur het ons toe laat weet dat hy verskriklik siek is en dit nie sou kon maak nie.
Jackie het my wakker gebel en ons het aan plaasvervangers begin dink. Ek het dadelik aan Jürgen Helberg gedink en ons het sy agent in die hande gekry en alles gereël. Jürgen is toe twaalfuur daai middag op stel. Ek het ’n uur lank met hom gesit en gesels oor die karakter. Hy het dadelik gesnap en was toe eintlik perfek vir die rol! Wat ’n uitmuntende mens!
Dit was dus ’n uitdaging wat in iets positiefs ontwikkel het.
Vertel vir ons meer oor jou ervaring met die draaiboek.
Hierdie draaiboek was soveel pret om te skryf! Toe Jackie vir my die idee vertel, was ek dadelik 100% in. Dit was ’n uitdagende storie met die meeste karakters wat ek al ooit moes balanseer in een film. Die groot taak was om die teks te vereenvoudig en meer klem op die spel te plaas.
Wat staan vir jou as ’n hoogtepunt van die projek uit?
Ek sou sê die hoogtepunt van die ervaring was op die laaste aand. Ons was twee ure oor ons tyd en ons het toe pas die tweedelaaste skoot klaargemaak. Die span was moeg, maar almal was vrolik. Ek skree toe: “One more shot!” en dit word toe ’n kreet vir die hele span. Ons almal het in die klein restaurantjie in Melville waar ons verfilm het, gesit en geskree: “One more shot! One more shot!”
Dit was so lekker om ’n groep kreatiewe mense om my te hê wat almal hul tyd gegee het om hierdie storie te vertel. Dit was heerlik om saam met elkeen van hulle te werk.
Enige lesse geleer?
Die grootste les wat ek geleer het, is om altyd kreatief te dink. Dinge werk nie altyd uit soos wat ’n mens dit in jou kop sien as jy ’n teks lees nie, maar met goeie kreatiewe mense om jou kan ’n mens altyd die beste van enige situasie maak.
Hoe het julle op die vertelstyl besluit? Was daar invloede van ander flieks?
Ek en Jackie is albei aanhangers van die Ocean’s-filmreeks, onder meer Ocean’s Twelve, en wou graag daardie styl inbring. Ons het die Ocean’s-reeks as verwysing gebruik vir die heist-montages, asook ’n klomp ander komediefilms. Van hulle was met ouer akteurs, soos The Best Exotic Marigold Hotel en Mamma Mia. En dan was daar ook flieks wat ons bloot geniet het, soos Lady Bird, To All the Boys I’ve Loved Before en Triangle of Sadness.
Hoe was dit om met veteraanakteurs soos Susan Coetzer te werk?
Dit was vir my ’n baie groot eer om met sulke fantastiese en welbekende name in die bedryf te werk. Hulle het my taak eintlik baie maklik gemaak. Ek het net ’n paar gesprekke met elke akteur oor hul karakter gehad en hulle het dadelik verstaan wat ek wou hê. Hulle het die karakters dimensies gegee wat ek self nie eens kon opmaak nie! Ek is verskriklik dankbaar aan elkeen.
Is daar van die karakters waarmee jy identifiseer?
Ek dink die karakter waarmee ek die meeste identifiseer, is Rita. Ek voel ’n mens soek altyd na aanvaarding en geluk; dis moeilik om dit te vind, maar sodra jy iets kry wat jou daardie gevoel gee, wil jy net vasklou vir so lank as moontlik. En baie keer is dit juis jou vrees dat dit gaan verdwyn, wat tot die verlies daarvan lei. Rita moes leer wat vir haar belangrik is en wat die beste uitkoms sou wees – nie net vir haarself nie, maar ook vir haar vriendinne.
Wat maak jou opgewonde van die plaaslike bedryf op die oomblik?
Ek dink daar is baie meer geleenthede om stories te vertel, met al die kanale en aanlyn platforms wat plaaslike stories, veral in Afrikaans, ’n kans wil gee. Ek sien uit om te sien wat ons nog kan doen in die toekoms en hoe die res van die wêreld gaan inkoop.