Shotgun-kortfilm: Die boodskapper

’n Klein seuntjie se trane maak ’n kleimannetjie lewendig in Paul Crafford se kortfliek Die boodskapper in die Silwerskermfees se Shotgun Shorts-afdeling.

In dié fliek word stop-animasietegnieke en tradisionele rolprentmaak gekombineer om binne slegs twaalf minute ’n storie te vertel van ’n seuntjie, Jake (Liam Kruger), wat vasgevang is in die bittere konflik tussen sy ouers, Susan (Izaan du Toit) en Frank (Emile Hager).

Die skrywer en regisseur, Paul Crafford, ’n veelsydige inhoudsontwikkelaar, vertel meer oor die fliek.

Wat het jou geïnspireer om Die boodskapper te skryf?

Dit was ’n lockdown-projek. Ek het daai tyd so bietjie daaraan geskryf en met klei-animasie geëksperimenteer. Daarna het ek die projek gelos en nie regtig weer daarna gekyk nie. Verlede jaar, toe ek by die Silwerskermfees was, het ek gehoor van die Shotgun Shorts-kategorie en gedink: ‘Kom ek gee dit ’n shot.’

Wat is die uitdagings wat ’n kortfliek inhou in terme van storievertel?

My fliek is net twaalf minute lank en wat ek agtergekom het, is dat jy regtig net ’n oomblik het om iemand se hart te steel. Dit is die grootste uitdaging van só ’n tipe fliek: hoe om iemand baie vinnig iets te laat voel. Ek dink in só ’n klein kortfilm is dit moeilik om ’n volledige prentjie te teken. Jy moet maar kies watter lyne jy insluit en wat jy wil hê die kyker moet invul. Ons vorm mos maar almal ons eie opinie van die karakters.

Jy was by die hele proses betrokke: van die konseptualisering tot die skryfwerk, regie, animasie en kinematografie. Hoe voel dit om jou stempel so op die hele kreatiewe proses te sien?

Ek was baie na aan die projek, want met sulke tipe projekte doen ’n mens maar wat jy kan met die hulpbronne wat jy het. Daar was nie eindelose begroting vir animeerders en post-produksiespanne nie. Dit was ’n goeie leerervaring.

Soms moes ek net ’n bietjie wegstap om weer nader te kom aan die hart van die storie. Ek is baie trots op die visuele stempel wat ek op die fliek afgedruk het. Baie van die beelde en sekwense het uitgekom net soos ek dit my verbeel het. Party daarvan dalk selfs ’n bietjie beter. Ek is baie trots op ons klein filmpie.

Hoe was jou ervaring om met Liam Kruger as kinderakteur te werk?

Hy is ’n goeie klein akteur en hy was baie professioneel. Ek was dalk so ’n bietjie huiwerig om te veel vir ’n kind te skryf en dan die gevaar te loop om nie nie die regte kinderakteur te kan kry nie, en in retrospek is ek eintlik spyt ek het nie so bietjie meer vir Liam geskryf nie.

Die kleimannetjie het ’n eenvoudige lyfie en gesig, maar daar is soveel emosie in hom. Hoe het julle dit reggekry?

Ek dink wat in die mannetjie se guns tel, is juis dat hy so eenvoudig is. Dis makliker om jou eie emosies te projekteer op iets wat ’n bietjie meer pretensieloos is. Ek dink die aard van die medium, enkelraam- of klei-animasie, is al klaar bietjie magical, want ’n mens vat iets wat nié lewendig is nie en maak dit lewendig deur ’n klomp foto’s te neem. Ek dink mense síén dit. Die mannetjie se eenvoud was dus ’n belangrike strategie. Ek wou nooit gehad het hy moes té mooi lyk nie.

Het jy al voorheen met enkelraam-animasie gewerk?

Ek het al stop-animasie-tegnieke gebruik in van die advertensies wat ek gemaak het, maar ek was eintlik maar ’n amateur toe ek die fliek aangepak het. Ek wonder egter al lank oor stop-animasie en wou lankal reeds iets daarmee doen.

Ek het baie YouTube-video’s gekyk, baie eksperimente gedoen en foute gemaak. Ek het goeie raad gekry by Lindsay van Blerk – ’n animasiekunstenaar in Kaapstad wat dieselfde tipe goed doen. Ek het ’n dag in sy ateljee deurgebring, gekyk wat hy doen en baie vrae gevra. Die proses verg maar geduld.

Is daar enigiemand in die span wat jy wil uitsonder?

Jana-Marie Hay was die produksieontwerper van die prent, maar sy was van die begin af deel van die proses. Ons was verlede jaar saam by die Silwerskermfees en sy het voorgestel ek skryf in vir vanjaar se Shotgun Shorts-afdeling. Sy het my help skryf aan die draaiboek en was ’n enorme bate tydens die produksie.

Die hele tegniese span was fantasties. Ek het dit regtig geniet om saam met die mense te werk – almal het hulle kant gebring om ’n lekker klein filmpie te maak.

Wat dink jy van die rol wat die Silwerskermfees speel om hierdie tipe flieks te laat realiseer en eksperimentering toe te laat in Afrikaans?

Dis ’n fantastiese plek vir nuwe rolprentmakers om hulle stories te vertel, hulle talente te wys en ook te eksperimenteer met nuwe konsepte en idees. Dis partykeer nogal oorweldigend om te wonder hoe jy ’n fliek gaan maak en waar jy die geld gaan kry. Dus is iets soos die Silwerskermfees belangrik. Ook vir Afrikaans.