Shotgun-kortfilm: Selah

Die veelbekroonde regisseur en vervaardiger Brett Michael Innes (Sink, Fiela se kind) bring met Selah ’n ingetoë, ontstellende verkenning van postnatale depressie (PND) na die Silwerskermfees.

Erica Wessels speel ’n slaap-ontneemde ma wat worstel met die wrede werklikhede van moederskap terwyl sy na haar koliekbaba omsien. In die looptyd van tien minute beeld dié kortprent die dikwels versweë uitdagings uit van nuwe ouers wat sukkel om die fisieke, emosionele en geestelike eise van ouerskap baas te raak.

Brett het meer van sy nuwe kortprent vertel.

Verduidelik asb. die oorsprong en betekenis van die titel Selah?

Die woord ‘sela’ word 74 keer in die Psalms van die Hebreeuse geskrifte gebruik. Dit is ’n liturgies-musikale instruksie wat aandui hoe die teks gelees moet word, en beteken ‘stop en luister’ of ‘stilte’. Toe ek oor die funksie van klank in die film gedink het, het dit na die regte titel geklink om die ma-karakter se sleutelmotiverings te beskryf. Al wat sy begeer is stilte, en dit motiveer haar optrede.

Die stelontwerp is funksioneel om dit wat kykers nie kan sien nie, oor te dra. Kan jy asb. uitbrei oor wat die stelontwerp alles behels het?

Ek is mal daaroor om stelinkleding in te span om temas uit te beeld, en in hierdie film is dit weer so. Ek het nou saamgewerk met die produksieontwerper Vicky Sawkins, en ons het elemente ingebring wat aan kykers wenke gee oor die vrou na wie hulle kyk – van familiefoto’s tot die woorde ‘geloof, hoop, liefde’ teen die muur, die chaos rondom babas, en ’n huis wat mooi ontwerp is. Ons het selfs ’n beeldjie van ’n koplose vrou, wat deur Marieke Prinsloo gemaak is en in Sink te sien was, ingesluit as ’n eerbetoon aan Sink en om die tema van hulpeloosheid te simboliseer.

Die idee was dat kykers nie moes kon sê dat armoede die ma in hierdie situasie gebring het nie; ons wou eerder seker maak mense verstaan dat postnatale depressie niks met ekonomiese status uit te waai het nie. Gegewe die lengte van die sekwens op die skerm, wou ons kykers soveel inligting moontlik gee terwyl hulle alles inneem wat voor hulle afspeel.

Nikkila Mann se hare en grimering en Lori Myburgh se kostuums het verdere afronding aan die atmosfeer gegee. Om realisme in die film te verseker, wou ons hê die karakters moes eg oorkom, en glad nie gestileerd nie.

Erica Wessels beeld Maria uitstekend uit, sonder om ooit ’n enkele woord te sê. Hoe het dit gekom dat Erica en Keenan Arrison as Callum in die rolverdeling is?

Erica Wessels was nog altyd op my radar, maar haar spel in Donkerbos het my en die vervaardigers Paulo Areal en Nick Ahlers oortuig dat niemand anders hierdie film sal kan laat slaag nie. Haar vermoë om ’n ruimte te vul sonder om dit te domineer, het min gelyke.

Omdat Selah ’n statiese film van 10 minute is, het ons geweet die hoofrol moet gevul word deur iemand wat besit kan neem van die skerm, sonder dat daar noodwendig veel gebeur. Erica het diep binne haarself gedelf om gestalte aan die karakter te gee; wanneer mens na die film kyk, kan jy dit tot in haar liggaam sien. Dit was ’n groot eer om twee meter ver van haar vertolking te kon wees.

Keenan se betrokkenheid het eers veel later gekom toe ons besluit het Callum se karakter is nodig om die agtergrond uit te brei. Namate die verhaal ontwikkel het, het ek besef ek wil die eggenoot ’n naam en teenwoordigheid gee. Ek het toe vir Keenan Arrison, met wie ek al geruime tyd wou saamwerk, gebel. ’n Hartverskeurende aspek van die produksieproses was dat sy pa, Derick Arrison, enkele dae voordat verfilming sou begin, oorlede is. Keenan het die opsie gehad om te onttrek, maar hy en sy ma het gevoel dat, deur voort te gaan en te doen waarvoor hy lief is, dit ’n gepaste manier sou wees om sy pa se nagedagtenis te eer.

Vertel van die verfilmingsproses. Hoe lank het dit geneem en hoeveel mense was in die span?

Ons was ’n klein spannetjie van ongeveer tien mense, en Selah is binne ’n dag verfilm. Dit was eerlikwaar een van die maklikste skietsessies van ons loopbane, in so ’n mate dat ons onsself afgevra het: ‘Is daar nie nog iets wat ons moet doen nie?’

Ek is baie bly dat ons so seker van ons ambag was dat dit oorbodig was om nog iets te doen, en dat rolprentmaak nie altyd hoef neer te kom op ’n maniese gejaag teen tyd en ’n stryd met beperkte hulpbronne nie. Met soveel veranderlikhede in die bedryf deesdae, was dit vir ons ’n groot bonus om te kon werk aan iets wat gevoel het na ’n uitsluitlik kreatiewe projek.

Die tema wat in die film aangeroer word was ook al in jou vorige werk teenwoordig. Is dit moeilik om so ’n komplekse onderwerp aan te pak?

Ek voel van nature aangetrokke tot komplekse sosiale temas, dus was dit nie moeilik om die PND-onderwerp aan te pak nie. Ek hou daarvan om te weet waarom mense op bepaalde maniere optree, veral in daardie grys gebied tussen binêre denkpatrone en moraliteit. Met dié morbiede belangstellings is ek seker maar bietjie van ’n masochis, maar solank dit uitloop op ’n betekenisvolle produk, is ek bereid om dit te doen.