Project Description

’n Staande applous vir ons Silwerskerm speelfilmwenners – Deel 1

Hulle was elk ’n meesterstuk en ‘n juweel in eie reg. Maar hoe het al die rolprente wat oor ’n dekade heen bekroon is as die Beste Speelfilm by die Silwerskermfees die verbeelding aangegryp en kritici en gehore aan die gons gehad?

Die eerste kykNET Silwerskermfees toekennings is op 5 September 2012 uitgedeel tydens ’n spoggeleentheid op die laaste aand van ’n opwindende fees by die Bay Hotel in Kaapstad. Na die fees se nederige begin, met net één nuwe vollengte rolprent die vorige jaar, het dit omtrent gebuzz oor die vier blinknuwe Afrikaanse speelfilms wat naas bestaande werk dié keer hul wêrelddebuut gemaak het: Die Wonderwerker, Lien se Lankstaanskoene, Verraaiers en Wolwedans in die skemer. Dit was almal spogfilms en van die land se beste akteurs – en ’n paar nuwelinge – het boonop die feesgehore in vervoering gehad.

(Gaan loer gerus by ons Argief in vir meer inligting oor al die Silwerskerm speelfims)

Die Wonderwerker, met die legendariese storieverteller Katinka Heyns in die regisseurstoel, het in 2012 die Silwerskermfees beeldjie ingepalm vir Beste Speelfilm. Dit was ook die rolprent wat dié jaar die meeste SAFTA benoemings sou kry én die SAFTA vir Beste Rolprent verower het. ‘n Rits uiteenlopende, verfrissende Silwerskerfees speelfilmwenners het in Die Wonderwerker se voetspore gevolg.

Die applous wat dié films by die fees gekry het, het weerklink in gloeiende resensies – in ons eie media en soms ook in groot internasionale publikasies. Van tyd tot tyd het hulle ook die nuus gemaak om ander redes.

2012: Die Wonderwerker

In die media was almal dit eens dat die intense, karakter-gedrewe drama Die Wonderwerker oor ’n grepie in die lewe van ’n gefolterde siel – die digter, skrywer, natuurkundige, joernalis, regsgeleerde en charismatiese morfien-verslaafde genie Eugene Marais – ’n groot sprong vorentoe was vir die Afrikaanse rolprentbedryf. Na veertien jaar, was meester-storieverteller Katinka Heyns terug met ‘n genuanseerde pragstuk.

Daniel Dercksen het die betowering van Die Wonderwerker in die universele taal van film raak vasgevat in sy resensie op bizcommunity: “If ever you want to experience the magic of cinema and experience the everlasting impact of storytelling at its most powerful, Die Wonderweker delivers on all levels.”

Elke filmraampie was ’n kunswerk in die ervare hande van kinematograaf Koos Roets, Ben Ludik is geloof vir sy musiek en Ronelle Loots is later vereer met ’n SAFTA vir haar redigering. So ook Katinka se befaamde skrywer-eggenoot Chris Barnard wie se draaiboek ingezoem het op die tyd wat Marais vertoef het op die plaas Rietfontein in die Waterberge ná hy malaria opgedoen het, maar waarmee hy  ‘n fiksionele weergawe geskep skep wat briljant daarin geslaag het om dié enigmatiese historiese figuur se essensie en misterie vas te vang.

Dawid Minnaar se vertolking van Marais was net so magneties soos sy karakter se uitwerking op die mense van Riefontein – veral die bloedjong weeskind Jayne Bradshaw, skitterend vertolk deur Anneke Weidemann.

Dan was daar die gedugte rolverdeling. Keer op keer is ’n spesifieke toneel uitgesonder met Cobus Rossouw, Sandra Kotzé, Elize Cawood en Marius Weyers wat op ’n stil, warm agtermiddag oor ditjies en datjies gesels op Rietfontein se plaasstoep –  Suid-Afrikaanse toneelgeskiedenis in een skoot. Soos dit Therese Smith se asem weggeslaan het in The Star: “Wow!”

Tog was daar een belangrike rol wat Katinka gesukkel het om te vul – dié van die bobbejaan wat Marais moes hipnotiseer. “Ons het al wat ‘n bobbejaan is getoets en bekyk, maar hulle was óf te klein óf te bruin óf te geel óf te maer óf te kwaai,” het Katinka aan Litnet se Naomi Meyer vertel. Gelukkig het ’n advertensie in Beeld die truuk gedoen. Andries, ’n mak mannetjie van Wolmaransstad, het die oudisie geslaag en Kees se kind was ’n “one-take-Sally”. Al is die toneel net een minuut lank, sou die fliek volgens Katinka daarsonder net nie werk nie!  Andries het selfs die lokprent gehaal.

2013: Faan se Trein

Paul Boekkooi was in die kol met dié voorspelling in sy fliekrubriek in Die Volksblad in 2013: “Faan se Trein gaan soos ’n stoomroller alle persepsies rondom die Afrikaanse rolprentbedryf radikaal platvee.” 

Vir sy filmweergawe van die veelbekroonde dramaturg Pieter Fourie se klassieke toneelstukke Faan se Trein en Faan se Stasie het perfeksionis Koos Roets die draaiboek glo sewentien keer herskryf voor hy tevrede was met die sprong van verhoogstuk na ’n boeiende filmteks. Dit was beslis die moeite werd. Faan se Trein het nie net nege Silwerskermfees toekennings opgeraap nie, maar ook die rande laat inrol by die loket.

As die naïewe dog ingewikkelde Faan, ’n kind vasgevang in die lyf van ’n volwassene man, het Willie Esterhuizen, toe alombekend vir sy slaplag-komedies, boonop bewys daar is murg in sy toneelspel-pype. Benewens Willie se kranige karakterisering, het voortreflike akteurs soos Cobus Rossouw, Deon Lotz, Marius Weyers, Anel Alexander en Nicola Hanekom Faan se Trein laat voortsnel op glad-geoliede spore.

Deel van Faan se bekoring was dat hy daardie “underdog” was wat mens met alle mag wou beskerm. Veral toe hy die mense van sy stowwerige Karoodorpie in twee geskeur het. Faan was ons Forrest Gump, net gevaarliker, soos The Citizen se Kulani Nkuna tereg sou opmerk. Maar in Beeld het Willie verduidelik: “Faan wys ’n mens die dinge wat waarde in die lewe het en ek dink ons almal kan ’n ding of twee by hom leer oor opregtheid en eerlikheid.”

Faan was inderdaad sonder filters en gladnie op sy mond geval nie. Terwyl sy uitlatings oor die rondings onder vroue se bloese die wenkbroue laat lig het, was ’n toneel waarin hy die seuntjies wat kwikstertjies skiet lelik slegsê ‘n persoonlike gunsteling vir Willie, aldus Leatitia Pople se lekkerlees onderhoud met hom op stel. “Eendag in die hemel gaan Liewe Jesus al die kwikstertjies op ‘n wasgoedlyn sit sodat julle kan sien wat julle gemaak het en dan gaan Hy julle gat skop.” Dit was Faan in ‘n neutedop vir jou. G’n wonder Faan se Trein was ’n wegholtreffer nie. In sy openingsnaweek het dit op nommer twee in die Top 10 by rolprentteaters landwyd geopen. Bygesê, The Wolf of Wall Street was nommer een.

Nog ‘n pluimpie: Faan se Trein tel onder fliekfoendie Leon van Nierop se Top 10 Afrikaanse flieks in sy boek Daar Doer In Die Fliek (2016).

2014: Die Windpomp

Die Windpomp se speke het in 2014 met ’n vars briesie nuwe talent Silwerskermfees toe laat draai.

Vir die eerste keer het ’n verfrissende moderne fliek deur ’n toe nog onbekende filmmaker die Beste Speelfilm toekenning en nog ‘n klompie toekennings ingeryg. Die Windpomp was die debuut van die 26-jarige Etienne Fourie wat ook dié jaar weggestap met die beeldjies vir Beste Regisseur en Beste Draaiboekskrywer.

Vir diegene wat nog nie dié fliek gesien het nie, Stephen “Spling” Aspeling se resensie in The Herald, en ook op sy webwerf, som perfek op waarop jy uitgemis het. Hy noem dit ‘n “a quirky mercurial butterfly” en skryf voort: “What starts out as a quirky, campy and quaint off-beat comedy drama in the style of Wes Anderson manages to swathe itself into a cocoon of Nicolas Sparks romance and mystery, before emerging as a fantasy romance with much deeper philosophical questions about the nature of love.”

Voor ons nog by die heerlike jong hoofkarakter kom, wáár die anderse storie afgespeel het, was ‘n gesprekspunt op sigself – ’n ouetehuis van alle plekke. En een besaai met tuindwergies, bingo-aande, pienk flaminke en eksentrieke inwoners vol streke

Dis waar die 17-jarige Hendri sy intrek neem by sy oupa en op ‘n maanbeligte aand paaie kruis met dié van die skone maar sarkastiese Margot, die kleindogter van tannie Marietjie – die einste tannie wat aspris die rioolpype verstop sodat Hendri in haar huis kan kom bad. Maar dis nie waar Hendri en Margot ontmoet nie. Daarvoor is daar ‘n dam waarheen die oues van dae in die geheim sluip om te gaan swem. Genoeg inligting om jou ‘n idee te gee waarom feesgangers in ekstase was?

Boonop, was in die woorde van The Weekend Argus se Wendall Martin, was Die Windpomp ietsie tussen Juno en Little Miss Sunshine. Dit het nie gesteun op slapstick om jou te laat lag of melodrama om jou te laat huil nie. Dit was bloot die storie van twee mense wat verlief raak en dit wete dat tyd vir niemand stilstaan nie.

Armand Greyling, in die skoene van Hendri, was vir Stephen Aspeling soos Ashton Kucher en Paul Dano saamgerol. Leandi du Randt se Margot het weer vir Sue de Groot in The Sunday Times herinner aan ‘n jong Kate Winslett, bruisend en vol vonk. Sy het ook laat val dat dié fliek klaar net ‘n kykie werd is net vir tannie Marietjie se muurpapier. Terloops, Marga van Rooy het met die vertolking van dié kleurvolle karakter ‘n Silwerskermfees toekenning logespeel vir Beste Ondersteunende Aktrise.

Die hoe-hah oor Die Windpomp het ook uitgespeel by internasionale filmfeeste. By die Australiese Gold Coast Filmfees het dit gedraai naas die werk van beroemde internasionale filmmakers soos Wes Anderson se The Grand Budapest Hotel. Dié fees se programdirekteur Mitch Ziems het Die Windpomp geloof as “pragtig geskryf en ongelooflik roerend”.

Voorts het Die Windpomp die Gehoorgunsteling toekenning vir die Beste Buitelandse Film verower by die Long Beach Internasionale Filmfees in New York, waar dit meegeding het met meer as vyftig hoogaangeskrewe flieks van regoor die wêreld. Dit wil gedoen wees.

Na Die Windpomp het die Silwerskermfees wenners jaar na jaar die Suid-Afrikaanse filmgeskiedenis herskryf.  In ‘n volgende artikel kyk ons hoe Dis ek, Anna, asook Johnny is nie dood nie, Vaselinetjie, Kanarie en Poppie Nongena opspraak gemaak het.

Bronne:

Beeld, Die Burger, Volksblad, The Citizen, The Star, The Weekend Argus, The Sunday Times, Litnet, rooirose.com, Sarie, Huisgenoot, TV Plus, Screen Africa, The Herald, imdb.com, Pressreader. News24, Netwerk24, Maroela Media.

=