





Silwerskermfees loods talle nuwe trefferreekse
Die kykNET Silwerskermfees is nie net ’n toonaangewende geleentheid waar nuwe films bekend gestel word en mense in die bedryf skouers skuur nie; dit laat val ook reeds die afgelope twee jaar die kollig op vars televisievermaak.
Vanjaar gaan loodsepisodes van ses nuwe reekse wat vir kykNET en Showmax bestem is, ook by die fees vertoon word. Dit sluit twee ondersoekende dokumentêre reekse, twee naelbyter-dramas, ’n sensasiebelaaide werklikheidsreeks, en ’n insiggewende leefstylprogram in.
- Jou MASE taal (kykNET-dokumentêr)
Jou MASE taal fokus op bruin en swart Afrikaanssprekendes se komplekse verhouding met die taal. Dié dokumentêre reeks wat deur IdeaCandy vervaardig is en met Stephanie Pekeur in die regisseurstoel, ontrafel hoe die sprekers met die taal omgaan, hoe dit hulle laat voel, en in watter mate hulle die taal omarm of verwerp. Daar word gefokus op temas van identiteit, onderwys, die werksplek en politiek.
Met Fatima Abdool, Moenier “Monox” Adams, Terry-Ann Adams, Earl Basson, Allan Boesak, Deon Daniels (“DJ Ready D”), Christo Davids, Quintin “Jitsvinger” Goliath, Ephraim Gordon, Jason “Hakkiesdraad” Hartman, Edward Charles Human, Virginia Keppler-Young, Llewellyn MacMaster, Rozanne McKenzie, Pulane Nel-Sekepe, Janine “Blaq-Pearl” Overmeyer, en Chrislynn Sias
Van Sondag 21 September om 20:00 op kykNET en DStv Stream.
- Spoorloos: Losprys (kykNET-dramareeks)
Spoorloos se vyfde seisoen, Spoorloos: Losprys, is soos die vorige aflewerings van dié reeks ’n losstaande spanningsverhaal. Dié uittog handel oor ’n ryk wildboer, Brand (Louis Minnaar), wie se tiener-kleindogter, Karla (Lienke Vermeulen), ontvoer word tydens haar pa, Willem (Neels Clasen), se moordverhoor. Sy is ’n sleutelgetuie in die saak. Haar ma, Lynette (Angelique Pretorius), word genoodsaak om haar eks-minnaar, Frank (Laudo Liebenberg), om hulp te vra, synde hy die enigste ervare speurder in die distrik is. Maar sodra die saak opgelos word, verdwyn nog iemand spoorloos – en hierdie keer word geen losprys geëis of leidrade verskaf nie… Die draaiboekskrywer is Mitzi Booysen en die vervaardigers is Ohcre Moving Pictures.
Met Angelique Pretorius, Laudo Liebenberg, Neels Clasen, Lienke Vermeulen, Liam Bosman, Nahum Huges, Louis Minnaar, Melissa Willering, Deon Coetzee, Blyde Smit en Jacques Gombault
Van Dinsdag 26 Augustus 2025 om 20:00 op kykNET en DStv Stream.
- 3. Vaal Riviera (Showmax-werklikheidsreeks)
POP24, die vervaardigers van die gewilde Showmax-reeks, The Mommy Club: Van die Hoofstad, stel nou hul visier op die Vaalrivier. In Vaal Riviera is dit tyd vir die langverwagte ‘Opening van die Vaalrivier’ en vier gesinne van die Vaaldriehoek maak gereed vir die groot dag. Koelbokse word gepak en bote word reggekry. Kykers word in hul huise ingenooi sonder formaliteite, net die gewone werklikheid sonder enige filters. Blink motors, sterk persoonlikhede en familiedinamika ontvou terwyl almal vir die eerste keer by die rivier saamkom. Vriendskappe word gesmee, spanning begin broei en ’n mededingende binneband-resies stel die trant vir hierdie seisoen. Teen sononder bots sjarme en drama trompop, en onder die oppervlak van die feesvieringe begin iets dieper roer. Die Vaal Riviera – waar die rivier meer onthul as wat dit verbloem.
Met Bernelee Arangies, Charl Arangies, Rianza Snyman, Riandi Deysel, Jay Jay Deysel, Lané Swart en Corrie Swart
Van Vrydag 22 Augustus 2025 op Showmax.
- Ontwaak (Showmax-dramareeks)
Wat gebeur as jou grootste vyand die enigste persoon is wat jou kan help? In Ontwaak wentel die storie om Melissa Human (Cindy Swanepoel), ’n psigiater wat begin werk by Noordlig, ’n tuiste vir uiters gevaarlike pasiënte. Maar agter die hoë mure wag meer as net pasiënte op haar. Sy ontdek ’n sinistere kultus, Horisonne, wat haar dogter Adri (Minke Marais) ingetrek het, en deur haar eksverloofde, Melchior (Chris Chameleon), gelei word. Om Adri te red moet Melissa haar eie grense oorsteek en steun op Alwyn Bekker (Carel Nel), ’n briljante reeksmoordenaar. Elke antwoord lei egter tot ’n nuwe gevaar; elke keuse het ’n prys. Hierdie is nie net ’n stryd teen ’n kultus nie – dis ’n stryd teen die donkerste dieptes van die self. Die bekroonde dramaturg Wessel Pretorius is die skrywer, met André Velts as regisseur en Sonvelt Media as vervaardiger. Sonvelt Media, wat ook verantwoordelik was vir die Showmax-reeks Reënboogrant, het in 2024 die Safta-toekenning vir beste TV-film vir n Tyd van Waterpere gewen.
Met Cindy Swanepoel, Minke Marais, Chris Chameleon, Carel Nel, Sean-Marco Vorster, Christopher van der Westhuizen, Ray Buso, Dawid Minnaar, Fezile Mpela, Zetske van Pletzen, Elsabé Zietsman en Rika Sennett
Vanaf 2026 op Showmax.
- Fanaties (kykNET-leefstylreeks)
Fanaties fokus op Natie Ferreira en sy doen en late in die oudhede-wêreld. Hy ontdek die waardevolle, antieke, vergete en interessante goeters uit eras wat verby is. Maar eintlik lê die kern van die reeks in die stories agter die items: die mense en die geskiedenis. Waar daar oudhede is, is daar ook restourasiewerk, en daar is ’n hele paar interessante projekte op hande. Natie is nie bang vir krap, stof of spinnerakke nie, en dit is juis hier waar hy die waardevolste dinge vind. As Natie nie rondrits en versamelaars ontmoet nie, is hy by Die sinkhuisie, sy winkel in Pretoria. Hier werk hy saam met sy ma en sy skoonma, en ook sy regterhand, Mandy. Dit is altyd interessant om te sien wie by die winkel instap en waarna hulle op soek is.
Ook met Emily Ferreira, Sharon Graham, Mandy-Ann Venter, Milly-Anne Skead en prof. Alex Duffey
Van Woensdag 5 November 2025 om 20:00 op kykNET.
- Unspoken War
IdeaCandy, wat ook aan die stuur van dokumentêre reekse soos Devilsdorp, Tracking Thabo Bester en Steinheist was, stel nou hul visier op die Grensoorlog, waaroor daar steeds ’n dawerende stilte heers – al is die omstrede konflik reeds vir meer as drie dekades verby. Oop wonde bloei steeds. Unspoken War onthul die stories van ’n wrede, duistere oorlog wat in Angola, Namibië en Suid-Afrika gewoed het. Deur openhartige vertellings van soldate, spioene, dogters en vroue, en met behulp van sonderlinge argiefmateriaal, word ’n deel van die Grensoorlog-geskiedenis nou vir die eerste keer vertel. Hierdie kragtige dokumentêre film lê die koste van oorlog bloot – iets waaroor min slagoffers en rolspelers praat en wat baie min mense begryp.
Met Azille Coetzee, Bun Booyens, Dana Snyman, Eddie Viljoen, Freek Robinson, Gary Baines, Julie Frederikse, Louis Bothma en Minette van der Walt
Van 12 November 2025 op Showmax en weekliks om 21:00 op M-Net.