




Speelfilm: Carissa
Die speelfilm Carissa, Jason Jacobs en Devon Delmar se debuut as draaiboekskrywers en filmregisseurs, verken die verhaal van ’n jong vrou, vertolk deur Gretchen Ramsden, en haar gemeenskap in die hart van die Cederberg. ’n Luukse gholflandgoed bring belofte van vooruitgang, maar dit bedreig die voortbestaan van die rooibostee-boerderye in die omgewing.
Die rolprent is verlede jaar entoesiasties by die Venesiese internasionale rolprentfees, waar dit gedebuteer het, ontvang. Jason en Devon hoop plaaslike gehore sal hulself in die hoofkarakter raaksien, maar dat hulle ook die betowerende kyk-ervaring sal geniet.
Hulle beantwoord vrae oor die rolprent wat vanaf 5 September, ná sy plaaslike première by die Silwerskermfees, landswyd op die kringloop gaan wees.
Hoe sou julle die temas van Carissa beskryf?
Carissa ondersoek die komplekse reis van selfontdekking en grootword, terwyl dit die betekenis en waarde van familie en tradisie belig deur te beklemtoon hoe verantwoordelikheid dikwels met persoonlike groei kom.
Die fliek is in die loop van sewe jaar ontwikkel. Vertel meer.
Die ontwikkeling van Carissa was diepgaande. Om so lank met die storie te leef, het ons die geleentheid gegee om dit genuanseerd te vertel. Dit was ’n aaneenlopende proses met baie stop-and-go’s, en ons moes ook baie reis. Dit was ’n “ek-kom-huis-toe-ervaring”.
Oor die loop van sewe jaar het ons baie tyd met Carissa deurgebring – in ons gedagtes en op papier. Mettertyd kon ons ons oorgee aan dit wat die storie van ons verwag het. As skrywer-regisseurs streef ons daarna om eerlike draaiboeke met menswaardige karakters te ontwikkel, en al het ons getrou gebly aan die oorspronklike teks, het ons nooit gehok gebly in ons idees nie.
Dit was dus ’n fliek wat julle nie in isolasie kon maak nie?
Carissa se “proses” was organies, eerlik en begeesterd. Al die betrokkenes was geesdriftige mense wat baie tyd aan die film wou afstaan. Die prent beeld op ’n magiese manier ook die werksaamhede van die Wupperthal-gemeenskap uit. Ons vergeet ook nie die Kharkams-gemeenskap se rol nie. Ons is met ope harte deur dié gemeenskappe aanvaar en oerkennis is met ons gedeel.
Wat was die dryfkrag agter die keuse van Wupperthal as die plek waar Carissa se verhaal afspeel?
Wupperthal is ’n gemeenskap vol ryp, ryk ervaringe. Die gemeenskap floreer met vele landerye, veeboerdery en natuurlik rooibostee. Ons kyk nie die alledaagse sosiale kwale mis wat veral klein dorpies slaan nie, maar ons ervaring van dié dorp self is een van ontwikkeling en vorentoe gaan.
Waarom het julle plaaslike inwoners in die rolverdeling gebruik?
Dis nie ons reg om in enige plek te skiet sonder om die plek se mense die reg te gee om hulself te verteenwoordig nie. Kennisdraers van die omgewing kan die storie eerlik, passievol en opreg vertolk. Hulle het insig buite die grense van die skrywer se verbeelding.
Waarom het julle besluit om fiksie met ’n dokumentêre aanslag te vervleg?
Die draaiboekontwikkeling het die aanslag diep beïnvloed. Ons het van die begin af geweet ons wil ’n styl volg soos die Dardenne-broers se Rosetta, waar die kamera toeskouer speel in iemand se lewe. Ons moes vra wat dit beteken as jou ouma jou uitsit, en jy beleef die eerste keer ’n erfenis wat van jou ontneem word. Dis vrae wat ons, as twee verskillende persone met verskillende grootword-ervarings, ontrafel het.
Ons is ook albei fiksie-liefhebbers en lief vir die magiese. Dis in ons DNS. Ons is gebore geeks en dis ín ons om die res van die wêreld te laat verstaan dat daar iets bonatuurliks én genesend in stories is.
Heelparty mense het ’n rol in hierdie benadering gespeel, of hoe?
Ons waardeer die invloed en advies van ons kinematograaf, Gray Kotze. So ook die kennis van musikant Frazer Barry en die leiding van die post-produksiebetuurder, Stephen Abbott. Hulle het ons baie beïnvloed. Saam met die regisseurs is die film vervaardig deur Deidré Jantjies en Annemarie du Plessis. Deidré se maatskappy, Na-Aap Produksies, fokus op onvertelde stories oor ons inheemse erfenis en tradisies wat al hoe meer verdwyn.
Wat lê agter die besluit om die natuur en die landskap van die Cederberge só ’n belangike deel van die film te maak?
Ons het begin dink oor die storievertel-potensiaal van plante, diere en natuurlike elemente soos die wind en die son. As ’n jong mens leef Carissa binne hierdie landskap, maar sy is nie nuuskierig oor die dinge buite haar borrel nie. Met haar foon die heeltyd in haar gesig is sy ingestel op alles behalwe dit wat om haar gebeur – oor die stories wat opgesluit lê in die wei van bokke, dassies wat bak op warm klipbanke, voëls, ganse, honde en visse.
Dan is daar stories oor meer-as-mens en meer-as-dier, stories oor plante. Stories oor rooibos. Stories oor land. Stories oor wind.
Gretchen Ramsden is uitsonderlik as Carissa. Wat was julle ervaring op stel?
Ons dink enige skrywer of regisseur kry slegs een kans om met iemand soos Gretchen Ramsden as hoofspeler te werk. Haar passie vir storievertel is meesterlik. Sy verkleur in elke scenario en klee haarself in soos wat nodig is vir elke oomblik. Dit is bevrydend om met haar te werk.
Gretchen se professionaliteit, kreatiwiteit en passie is fenomenaal. Eerlik. Sy verstaan respek vir die storie: dit bly bo jou en jy is maar net goddank bly jy kan dit vertel.