Speelfilm: Die bloedhonde

Die veelsydige en Safta-bekroonde Stiaan Smith het al rolle in gewilde Afrikaanse flieks soos Sy klink soos lente, Toorbos en Meisies wat fluit vertolk, terwyl hy ook as draaiboekskrywer aan reekse soos Hotel en Getroud met rugby gewerk het. In die komedie-drama Die bloedhonde is hy egter volkome agter die skerms as dié film se draaiboekskrywer en regisseur, terwyl die rolverdeling ’n heerlike versameling akteurs insluit, waaronder Elani Dekker (Toorbos, Vaselinetjie), Waldemar Schultz (Die Byl, Wyfie), Tobie Cronjé (Pronk Primêr, Hans steek die Rubicon oor) en Anrich Herbst (Plan B, Egoli).

Die bloedhonde is die verhaal van Katrien (Dekker) wat snuf in die neus kry ná ’n raaiselagtige dood in die vakansieoord waar sy saam met haar gesin uitspan. Katrien se aanvanklike nuuskierigheid ontaard egter in ’n volskaalse speurtog wanneer sy die geliefde plaaslike dominee van vuilspel begin verdink. Met slegs ’n middeljarige swerwer (Schultz) as bondgenoot, werp Katrien alles in die stryd om geregtigheid te laat geskied.

Stiaan Smith het meer oor dié speelfilm vertel.

Kan jy uitbrei oor die film se titel?

Die bloedhonde was die titel van die begin af. Alhoewel die storie hoofsaaklik ’n karaktergedrewe coming-of-age-storie is, het ek daarvan gehou dat die titel ook leun na die raaisel- en aksie-elemente van die vertelling. Die idee van ’n bloedhond bring ook die gevoel van ’n obsessiewe bittereinder na vore, wat vereenselwig met Katrien se geestestoestand soos wat sy hierdie uitdaging aanpak om haar familie verkeerd te bewys.

Was daar enige films of filmmakers wat jou werk op Die bloedhonde geïnspireer het?

Greta Gerwig (Barbie, Little Women) is nog altyd vir my baie inspirerend met haar vermoë om outentieke karakters en komplekse temas saam te vleg op ’n manier wat aangrypend én kommersieel is. Veral haar 2017-film, Lady Bird, was gereeld in my agterkop.

Die manier hoe Todd Phillips (War Dogs en The Hangover-trilogie) oor storie en regie praat, het ook vir my baie beteken. Sy werk op Joker was ’n wonderlike voorbeeld van hoe kreatief ’n mens met karakterstudies kan wees.

Quentin Tarantino (Pulp Fiction, Reservoir Dogs) is dalk ’n cliché, maar die vrymoedigheid en passie waarmee hy stories vertel, tesame met die gemak en selfvertroue om te weet wanneer dit oukei is om die die reëls te verbreek, maak hom ’n goeie voorbeeld vir enige filmmaker.

Ander karaktergedrewe films soos The Way Way Back, Little Miss Sunshine en Manchester by the Sea bied ook lekker inspirasie.

Die rolverdeling is uitstekend. Kan jy meer oor die oudisieproses vertel en hoe jy die rolle met soveel sukses gevul het?

Ek stem saam, ons was baie bevoorreg met die rolverdeling.

Dit was by tye moelik om te kies, want ons het nie ’n tekort aan goeie akteurs nie. Ek glo een van die belangrikste eienskappe van ’n akteur is die bereidwilligheid om kwesbaar te wees, so dít was ’n goeie rigtingwyser tydens die oudisieproses, maar weereens, grotendeels was ons maar net baie geseënd om te kon kies vanuit ’n baie talentvolle bondel.

Elani was ook baie vrygewig met haar tyd, en die feit dat ons haar in die vertrek kon hê tydens baie van die ander karakters se oudisies, het definitief ’n groot verskil gemaak.

Kom ons gesels oor die skietproses. Hoe lank het die verfilming geneem en hoe groot was die span wat betrokke was? Was daar enige hoogtepunte wat uitgestaan het?

Ons het oor 18 dae verfilm, en die span was omtrent so 30 mense … Ek raai nou kliphard!

Elani wat vir die eerste keer in haar lewe voor ander mense sing, was definitief ’n hoogtepunt.

Ek was ook nog nooit op ’n stel waar daar reën ‘gemaak’ word op die skaal wat dit vir hierdie film gedoen is nie, en dít was nogal ’n belewenis. Die tyd wat ek met Tobie Cronjé kon spandeer staan ook uit. Hy is natuurlik ’n juweel van ’n mens en akteur, en ek is baie dankbaar vir die kans om met hom te kon werk.

Wat was die grootste uitdaging tydens verfilming en hoe het julle dit aangepak?

Ons moes lank soek vir ’n afgrond in die woud wat afkyk op ’n rivier. Op die ou end moes ons staatmaak op ’n kompromie wat van VFX gebruik maak.

Daar is ook soms leergeleenthede van ’n meer persoonlike aard: Elani is my verloofde en beste vriend, en dis altyd ’n prettige uitdaging om werk en persoonlike verhoudings te laat saamdans. Maar ek glo as ’n mens bereid is om te kommunikeer en jou ego in check hou, sal dit altyd ’n lonende ervaring wees. Ons is dankbaar om te kan sê dat ons op individuele en verhoudingsvlak nou beter af is as gevolg van dié ervaring.

Wat hoop jy bly die kyker by nadat hulle die film gekyk het?

Dalk net ’n ekstra tikkie medelye vir mense wat nie dieselfde as jy glo nie.

Hoe belangrik is die Silwerskermfees vir jou as ’n Suid-Afrikaanse filmmaker?

Die Silwerskermfees het vir my al baie geleenthede gebied in die verlede, en as dit nie vir die fees was nie, sou ek aan die begin van my loopbaan beslis nie so baie blootstelling gekry het nie.