Speelfilm: Die dekonstruksie van Retta Blom

Vervaardiger Catharina Weinek en regisseur Pieter Grobbelaar neem kykers op ’n emosionele reis van liefde, leed, humor, vriendskap, verraad en selfontdekking in die speelfilm Die dekonstruksie van Retta Blom. Tesame met draaiboekskrywer Henriëtta Gryffenberg het hulle die kern van Zelda Bezuidenhout se gewilde boek in fliekvorm vasgevang.

Antoinette Louw vertolk die rol van die komplekse Retta Blom. Op die oog af lyk dit asof haar lewe perfek is, maar soos die film uitspeel, ontdek ’n mens dat dinge nie is soos wat dit voorkom nie.

Catharina, Pieter en Henriëtta gesels oor die speelfilm.

Henriëtta, boek-tot-rolprentverwerkings het van al die suksesvolste films opgelewer. Hoekom dink jy is hierdie tipe flieks so suksesvol?

Die tendens om boeke vir rolprente te gebruik, lê daarin dat die sukses van die boek reeds bewys dat die verhaal met lesers resoneer. Om ’n film te maak is baie duurder, en daarom maak dit finansieel sin om geld te sit op ’n perd wat homself reeds bewys het. Die teikenmark vir ’n film is egter wyer, en daarom neem die verwerking dikwels in ag dat die verhaal moet spreek tot ’n meer diverse gehoor.

 

Hoe het julle te werk gegaan om ’n draaiboek te skep wat die gevoel van die boek vasvang en reg aan die storie laat geskied?

Henriëtta: Vanaf 2021 tot met die verfilming in 2023, het die draaiboek deur 17 weergawes gegaan. Die dekonstruksie van Retta Blom is as boek ryk aan verskeie temas, maar wat vir my die meeste uitgestaan het, was die kwessie van waarheid en leuens. Ek het gevoel die verhaal leen hom tot ’n coming-of-age-fliek, waar die narratief fokus op die protagonis se persoonlike groei, selfontdekking, en die uitdagings wat sy in die gesig staar as ’n 50-jarige!

Dit bied ’n vars hoek aan meeste coming-of-age-rolprente waar die protagonis gewoonlik in puberteit is. Ons Retta het menopause. Die toon van die verhaal is lig en snaaks maar ook hartroerend, en in die rolprentweergawe het ek sekere tonele selfs ligter gemaak.

Ek het besluit om op die vriendskap tussen Retta en Leigh (Hilda Cronje) te fokus omdat Leigh nie in Retta se oënskynlik perfekte wêreld inpas nie. Leigh is ’n sterk mentor-antagonis wat Retta uitdaag om haar wêreld en waardes te heroorweeg. Sy is ook instrumenteel in Retta se dekonstruksieproses.

Die boek het ’n road trip bevat wat my herinner het aan Thelma and Louise, die baanbrekerfilm wat in 1991 vrygestel is en gesprekke oor geslagsrolle, vroueregte en die uitbeelding van vroue in die media ontlok het. Ek glo dié rolprent sal dieselfde doen.

Dit het my gelei om die subverhaal van Leigh te skep, ’n heteroseksuele vrou in ’n verhouding met ’n man wat ’n geslagsveranderingoperasie ondergaan. Die kwessie van seksuele vloeibaarheid is vandag belangrik omdat dit die rigiede kategorisering van seksuele oriëntasie uitdaag, en in hierdie streng wêreld waarin Retta haar bevind, demonstreer dit ook die druk wat die samelewing op haar en ander mense wat nie konvensionele rolle kies nie, plaas.

Die rolprent se einde, wat van die boek verskil, bied ’n onverwagte wending wat ons met geen maklike suikerversierde antwoorde laat nie. Tog bly dit getrou aan die boodskap wat die oorspronklike roman bring. Dit bied vir diegene wat die boek gelees het ’n splinternuwe ervaring, maar sal hopelik ook dié wat nie het nie, aanmoedig om die boek te gaan koop!

Catharina: Die roman wys hoe ’n vrou haar wonde kan genees. Ek was ook mal oor die feit dat dit ons eie Thelma and Louise kan wees en dat dit beklemtoon hoe vriendskap mens se siel kan voed. Bo alles resoneer Zelda se roman met jou, want dit wys jou hoe ’n persoon weer met hul siel kan connect.

 

Hoe het julle op die rolverdeling besluit?

Catharina: Antoinette Louw is een van die beste akteurs in die land. Nadat ek saam met haar aan Tristan Holmes se The Fragile King gewerk het, het ek geweet dat sy perfek sou wees as Retta. Pieter het baie nou saam met ons rolverdeling-regisseur en uitvoerende vervaardiger, Belinda Kruger, gewerk. Hulle het die res van die magic gedoen.

Pieter: Ons het almal verskillende prentjies in ons kop van hoe ’n karakter behoort te lyk, maar as regisseur gun ek myself die reg om die prentjie te kies wat ek sien. Dit help natuurlik nie as ’n akteur na die karakter lyk, maar dit nie kan vertolk nie. Daarom is dit vir my belangrik om gedurende oudisies vir akteurs heelwat regie te gee, sodat ek kan sien hoe hulle regie hanteer.

’n Akteur moet soos klei in ’n regisseur se hande wees, maar tog ook iets van hul eie na die tafel bring. Ek het ook na hulle vorige werk gekyk om te sien hoe buigbaar hulle is. Hulle moet bereid wees om van hul eie ydelheid te vergeet.

Hilda Cronje (Leigh) was heeltemal bereid dat ons van haar hare afskeer en vir haar ’n slegte, ‘tuisgemaakte’ haarkleur gee. Antoinette se hare moes ook gekleur en gesny word soos ek my die karakter voorgestel het. Carmen se vorige werk het my beïndruk asook die sensualiteit wat sy uitstraal. Francois Coetzer moes sy kunsternaarsvoorkoms verloor en sy hare en baard is gesny om Tobias se skoongeskeerde voorkoms te kry.

 

Wat hoop julle bly mense by wanneer hulle aan Retta Blom, die karakter én die speelfilm, dink?

Pieter: Daar is lewe ná 50 en ná teleurstelling.

Catharina: Ons hoop die film ontgin ’n zeitgeist waar Afrikaanssprekende gehore, veral vroue, hulself op die skerm sal sien en die idee van belonging sal kan aangryp. Die film fokus op middeljarige vroue, ’n ouderdomsgroep wat nie dikwels uitgebeeld word nie. Vroue wat hul lewens aan familie gewy het en wat skielik ontdek dat jy niks as vanselfsprekend kan aanvaar nie. Dit wys ook hoe ons almal aan mekaar verbind is, ongeag kultuur of godsdiens.

 

Wat is die drie belangrikste temas in hierdie speelfilm?

Pieter: Verraad, vergifnis en selfontdekking.

Catharina: Dekonstruksie, vervreemding en embracing life. Dit gaan krities om met die idee dat nie een van ons in beheer is nie.