Speelfilm: Hier.Na
Die Burgess-gesin, met lede vanuit verskillende Suid-Afrikaanse kulturele agtergronde, woon teen ’n koppie reg onder ’n kruis in Kaapstad se noordelike voorstede. Eric is sekulêr, maar sy vrou Juleigha, wat verkies om Julie genoem te word, is ’n nie-praktiserende Moslem. Maar wanneer Julie aan ’n hartaanval sterf, besluit haar dogter Leila om ’n Moslem-begrafnis (janazah) te reël, terwyl haar broer hom terugtrek in videospeletjies om sy smart weg te steek. Nou moet almal binne een woeste dag hul weg vind deur die konflik en onderstromings van baie jare sodat Julie volgens Moslem-gebruik voor sononder begrawe kan word.
Die skrywer, regisseur en akteur Quanita Adams het oor die rolprent gesels.
Hoe het die idee vir Hier.Na ontstaan?
Hier.Na is ’n besinning oor my pa se janazah. Volgens die Moslem-geloof moet ons ons dooies op dieselfde dag wat hulle oorlede is, voor sononder begrawe. Op so ’n dag, voordat die son sak, is daar honderde mense in die huis, daar is kos oral, en dinge gebeur teen ’n spoed. As iemand wat in die Moslem-gemeenskap grootgeword het, het ek baie janazahs bygewoon, maar wanneer een van jou naaste familielede wegval, kry jy ’n nuwe perspektief op begrafnisse, die rouproses, jou familielede en die manier waarop ons almal mekaar in dié tyd ondersteun.
’n Moslem-begrafnis en die kulturele gebruike wat daarmee saamgaan, verloop soos ’n geoliede masjien, en ek wou hê die rolprent moet alle aspekte belig van wat dit beteken om ’n Moslem-begrafnis te ervaar – van al die komplekse en uitdagende goed tot die dinge wat dit mooi, uniek en kosbaar maak.
Omdat dit ’n besinning oor my pa se begrafnis was, het ek dit ook as ’n geleentheid gebruik om my gedagtes, idees en gevoelens uit te druk, nie net oor die dood nie, maar spesifiek oor die manier waarop ons in my gemeenskap begrafnis hou.
Die rolverdeling, sowel as die spel, is nommerpas. Hoe het jy te werk gegaan om die akteurs te kies?
Toe ek geskryf het, het ek sekere akteurs vir die rolle in gedagte gehad, soos dit altyd gaan wanneer ek skryf, maar in die gevalle waar ander mense in die rolle beland het, was daar ’n natuurlike aangetrokkenheid tot die gemak waarmee die draaiboek vloei, iets wat altyd lekker vir ’n skrywer is. Die kombinasie van die akteurs was op die ou einde absoluut perfek.
Hoekom het jy besluit om self Julie se rol te speel, terwyl jy reeds as regisseur en draaiboekskrywer betrokke was?
Ek wou nie die rol speel nie, en ek het aanhou sê dat ons iemand sal aanwys om Julie te speel. Maar ek vermoed dit was ’n leuen en dat ek eintlik die rol vir myself geskryf het! Dominique Jossie en Aisha Williams, die vervaardigers van die film, het my juis geterg en gesê: ‘Nee, nee, nee! Jy het van die begin af Julie vir jouself geskryf!’
Ek het die karakter Eric vir David Isaacs geskryf, maar ons was nie 100% seker of hy die rol sou aanvaar nie, so ek het ’n mal belofte aan myself gemaak dat, as David sou instem om Eric te speel, dan sal ek Julie speel. En toe het David natuurlik ja gesê … Maar ek dink Dominique en Aisha was reg – ek sou van die begin af Julie wees.
Vertel ons van David as Eric. Sy vertolking is aangrypend – in watter mate het hy uit sy eie ondervinding geput in vergelyking met jou regisseursaanwysings?
Ek was baie gelukkig om die akteurs om ’n tafel te kry vir ’n dramatiese teksvoorlesing, en ons kon ook vir ’n week lank in die plek waar ons sou skiet repeteer, ’n luukse wat mens selde teëkom, maar ek wou hê die dialoog moes so natuurlik moontlik klink.
Omdat ek self meer as 20 jaar as akteur agter die rug het, leun my regiestyl redelik swaar op sinergiespel. Ek dink nogal my regie is minder dominerend, dis meer op medewerking gebaseer sodat die akteurs ruimte het om dit wat hulle op daardie oomblik na die tafel bring, te kan gee, en dan werk ons verder van daar af. Vir my is dit nie so belangrik om streng by die draaiboek te hou nie, die vertel van die storie is belangriker. Ek sê altyd: ‘Vergeet die woorde, vertel die storie.’
Ek het vir David al in die neëntigerjare leer ken, maar ek is selfs langer van hom bewus as akteur. Ek het baie respek vir sy werk, en natuurlik het die hele land hom leer ken en liefgekry deur die verskeidenheid karakters wat hy op TV, die silwerskerm en op teaterverhoë die wêreld oor vertolk het. Omdat die grootste gedeelte van David se loopbaan deur komedie gekenmerk word, was Hier.Na, wat heeltemal anders is as die meeste goed wat hy al gedoen het, ’n gulde geleentheid om die keersy van sy vermoëns as akteur met gehore te deel.
David het ook sy pa aan die dood afgestaan, derhalwe het ek gedink hy kon uit daardie gevoelens van rou en verlies, en die oorweldiging daarvan wanneer mens dit direk ervaar, put en daarop staatmaak. Ons het baie daaroor gesels.
Die film spreek tot ’n gevarieerde gehoor – van mense met binnekennis van die Moslem-geloof en -gebruike, tot diegene wat nie veel daarvan weet nie. Was die relevansie van die prent se boodskap, en mense se vermoë om daarmee te identifiseer, iets wat voorop in jou gedagtes was?
Ja, dit was beslis ’n doelbewuste benadering. Ons almal sterf eendag. Die maniere waarop ons afgestorwenes begrawe verskil, maar die kern daarvan is universeel. Dit gaan daaroor om die lewe wat verby is te gedenk.
Die helfte van my familie is Christene, dus was die speelfilm ook ’n manier om te sê dat die onderskeie gemeenskappe verskillende benaderings het, en dat daar iets moois in al daardie benaderings is. Partykeer is daar iets pragtigs, spesiaal en belangrik daaraan vir ander mense, al lyk die kulturele gebruike soms vir jou vreemd of snaaks. So, ek hoop mense kry iets daarvan in die rolprent.
Omdat hierdie nie ’n dokumentêr is nie, was dit nogal ’n unieke ervaring. Ek wou nie vir mense iets leer oor die janazah nie. Maar jy moet mense inlaat en hulle die geleentheid bied om kwesbaar in hul onkunde te wees, en ook nuuskierig, en jy moet hul nuuskierigheid en kwesbaarheid met simpatie hanteer. Jy kan mense nie veroordeel oor hul gebrek aan kennis nie, maar in dieselfde asem is hierdie nie ’n dokumentêre reeks met nuusinsetsels oor hoe Moslems hulle mense begrawe nie.
Ons moes dus maniere vind om die karakters van buite die Moslem-gemeenskap te gebruik op ’n wyse wat natuurlik en oortuigend oorkom. En die beste manier om dit reg te kry is om karakters te skep waarmee die gehoor kan identifiseer. Terselfdertyd moet Moslems hulleself ook in die film kan herken.
In die eindkrediete word die film opgedra aan ’n lang lys mense. Wie is hulle?
In heelparty opsigte is hierdie nie sommer net nog ’n fliek vir my nie; dit is ’n refleksie oor rou en dood, en spesifiek oor my pa se dood. Omdat so baie lede van die geselskap en tegniese span hul naastes – moeders en vaders – so onlangs soos ’n paar weke voordat verfilming begin het, aan die dood moes afstaan, het ek besef dat die fliek daardie mense moes huldig. Dit was vir my belangrik om vir hulle plek te hou in die fliek, en ek het besluit om hulle in die memoriamrol en die eindkrediete in te sluit. Dit het aan die geselskap, tegniese mense en lede van ons produksiespan die geleentheid gegee om die film aan hulle geliefdes op te dra.
Wat maak jou tans opgewonde oor die Suid-Afrikaanse filmbedryf?
Die jong mense wat na vore kom en hul stories vertel. Ons vind ons unieke Suid-Afrikaanse narratiewe stem al hoe meer en meer. Die diversifisering van die bedryf is ongelooflik. Toe ek met my loopbaan begin het, was dit net ek en drie ander mense wat soos ek gelyk het, en ons was bepaald nie in besluitnemingsposisies nie.
En nou kyk ek om my en daar is baie mense wat soos ek lyk, en ook nie soos ek lyk nie, en dit is opwindend. Ons is eerliker en dapperder met ons stories. Ons verbind ons daartoe om stories te vertel wat eg Suid-Afrikaans is; ons probeer nie net Amerikaanse, Britse of Australiese modelle na-aap nie. Ons besef dat ons ’n rykdom van verhale het wat uit ons eie gemeenskappe kom.