Visueel skouspelagtige dokkie oor twee vissermanne en ons oermoeder, ulwandle (die oseaan)
Een van die films wat genomineer is as Beste bestaande film en wat gehore by vanjaar se Silwerskermfilmfees opgewonde gemaak het, is Ulwandle [Die oseaan]. Dié dokumentêr vertel die stories van twee lewens aan die Suid-Afrikaanse Oos- en Weskus wat deur ‘n veranderende oseaan aan mekaar verbind is.
Die film is sedertdien vir vier 2022 Saftas benoem: Beste regie, Beste kinematografie en Beste redigering in ‘n dokumentêr asook vir Beste kort dokumentêr. PJ Kotzé, die vervaardiger, regisseur en kinematograaf van Ulwandle, is ook in die kategorie vir Beste leefstylrogram benoem vir die gewilde reeks met Erns Grundling Elders: Namibië, waarvan hy medevervaardiger is.
Ons het hom oor die meesleurende Ulwandle uitgevra?
- Waar het jy die idee vir hierdie dokkie gekry? Spruit dit uit jou liefde vir die see en onderwaterfotografie of het dit begin met die verhaal van een van die twee vissermanne waarom die film draai?
Ek is onbeskryflik lief vir die see en om onderwaterkamerawerk te doen en is bevoorreg genoeg om só die onderwaterwêreld met ander te kan deel. Terselfdertyd is ek baie lief vir dokumentêre stories oor mense – veral bografiese vinjette waar mens ’n intieme blik op iemand se lewe kan kry.
Ek het die laaste paar jaar meer as een dokumentêre filmprojek begin en nie klaargemaak nie en ek moes gaan sit en mooi dink oor wat ek alles werklik interessant en stimulerend vind en watter tipe stories ek regtig wil vertel. Toe besef ek dis mense en hulle verhouding met die see wat my fassineer, en ek moet iets daaroor maak.
’n Groot inspirasie was die film Jago: A Life Underwater, ’n pragtige film oor ’n Indonesiese duiker en visserrman. Ek het nog altyd ’n groot bewondering vir kleinskaalse vissers en hulle verhouding met die see gehad en dié film het my laat besef ek kan my twee passies kombineer.
Ek het glad nie geweet van John van den Heever of Mike Tembe voor ek begin het met die projek nie. Ek het net geweet ek moet iemand soek wat ’n verhaal het om te deel en toe vind ek hierdie ongelooflike twee karakters.
- Hoe het jy van die twee vissermanne te hore gekom wat onderskeidelik aan die Weskus en Ooskus van Suid-Afrika ’n prekêre bestaan uit die oseaan maak?
Met albei vissermanne het ek en my klein filmspan letterlik net gegaan na Lambertsbaai en Kosibaai en gesoek tot ons iemand gevind het. Ek het geweet ek wou hierdie twee verskillende visserspraktyke wys, maar ek was soek op na interessante karakters wat uit hierdie metodes ’n bestaan maak. Dit was eintlik makliker as wat ek gedink het dit sou wees, want toe ons aan mense begin verduidelik na watter tipe persoon ons soek, het hulle ons vinnig in die regte rigting gestuur en só het ons toe vir John en Mike ontmoet. Ek moet baie dankie sê aan Theunette Jordaan van Lambertsbaai en Mike Whitfield van Kosi Mouth Lodge wat my gehelp het om hulle op te spoor.
3. Hoe het jy besluit op die lengte van die dokumentêr? Sou dit dalk aanvanklik ’n vollengtedokumentêr wees?
My aanvanklike idee was om ’n hele reeks van vier of vyf stories te doen wat dan ’n vollengtedokumentêr sou vorm, maar kort nadat die eerste twee geskiet is, het die pandemie ons gekelder en toe moes ek baie vinnig die formaat van die film verander. Dis hoe die film sy finale vorm aangeneem het. Ek is jammer dat ek nie nóg verhale kon vertel nie, maar ek is trots op wat van die finale film geword het en op die twee wêrelde op die rand van verdwyning wat ons kon vasvang.
- Op watter tonele en/of aspekte van Ulwandle is jy die trotsste?
Ek dink my gunstelingtoneel is die heel eerste skoot van John op sy skuit wanneer hy in Lamberstbaai vertrek van die kaai af. Ek onthou hoe ek net op sy klein bootjie gesit en deur my kamera gekyk het en nie kon glo hoe mooi en dinamies dinge voor my ontvou nie.
Eerlikwaar is ek net so trots dat ek die film gemaak gekry het. Dit was veral baie moeilik om die Ooskus-deel van die film te sny omdat ek nie vlot Zoeloe kan praat nie. Ek wou meer as een keer opgee tydens die na-produksie van die film, maar ek’s bly ek het deurgedruk en dat my wonderlike vrou, Roxanne, my aanhou aanmoedig het om die film te voltooi.
Ek is ook veral trots op klanktegnikus Matthew Gardner en kameraman Max Mabota wat my gehelp het met die maak van Ulwandle. Ons is vriende en werk baie saam en dit was so lekker om saam met hulle hierdie stories te vertel.
5. Van watter dokumentêrefilmmakers se werk hou jy die meeste en hoekom?
Ek is mal oor dokumentêre uit alle genres. Ek kyk seker die meeste na “Blue Chip”-natuurdokumentêre soos Planet Earth of Blue Planet oor ek sulke tipe werk self doen, maar ek het ’n spesiale plek in my hart vir biografiese films soos Jago: A Life Underwater wat deur James Reed en James Morgan gemaak is. Ek hou nie noodwendig van exposé-tipe dokumentêre nie en geniet dit meer om karakters te leer ken.
’n Dokumentêre film wat seker die grootste impak op my gemaak het, was Searching for the Wrong-Eyed Jesus deur Andrew Douglas. Dis ’n ongelooflike mooi dokkie wat ’n musikant volg deur die suide van Amerika en wys hoe hy karakters ontmoet en musiek maak. Daai film het my laat besef hoe wonderlik die dokumentêre medium is en wat ’n mens alles daardeur kan bereik.
Ulwandle sal op 13 en 16 Oktober by die Woordfees Filmfees in Stellenbosch vertoon word: https://woordfees.co.za/program/ulwandle/