



Kort dokumentêr: GHAM! Ons het lyn
GHAM! Ons het lyn bied ’n intieme kykie in die wêreld van Die Temple Boys: Chadley Dick, Dylin Adams, Terriano Duimpies en Ronin Johannes. Dié groep is van Ravensmead naby Kaapstad en hul Afrikaanse treffers in die Gqom-genre, waaronder “Saggies”, het eens vir die viertal jongmans na ’n ontsnaproete uit die Kaapse Vlakte gelyk. Drie jaar ná hul TikTok-roem worstel die groep egter met verbrokkelde drome, identiteit en kwessies van volwassenheid.
Dié rou dokumentêr vang die groep se veerkragtigheid, humor en selfdoen-gees vas, asook hul stryd om hul droom lewend te hou, selfs nadat van hul agente hulle finansieel ingeloop het.
Die regisseur Eric Says, ook bekend as Eric Snyders, vertel meer oor die dokkie:
Hoe het jy op die Temple Boys afgekom en wat het jou geïnspireer om hierdie dokumentêr die lig te laat sien?
Ek is ’n vervaardiger en regisseur wat wil verstaan hoe populêre media en kultuur die gemeenskap en identiteit vorm. Musiek vorm ’n baie groot deel van die stories waarmee ek myself kan vereenselwig.
My broer Wesley, ’n musiekvervaardiger wat in Elsiesrivier geleë is, het my aan die Temple Boys bekend gestel nog voordat hulle gewildheid verwerf het. En toe hulle viral gaan met “Saggies”, het ek natuurlik hul storie gevolg. Hul fusion van Afrikaanse lirieke met Gqom-beats het my geweldig gefassineer, veral as daar in gedagte gehou word dat hierdie vermenging oorspronklik van Ravensmead afkomstig is.
Die ontluiking van ’n nuwe sub-genre wat uit Afrikaans ontstaan het, was die storie wat my aanvanklik ingetrek het en ek het gedink die Silwerskermfees sal ’n goeie platform wees om dan dié genre bekend te stel. Maar nadat ons tyd met die ouens begin spandeer het, het ons besef dat daar ook ’n storie van vasbyt, hoop en uitbuiting onder die oppervlak skuil.
Dit is indrukwekkend hoe openlik en eerlik die viertal met jou was. Hoe het dit jou aanslag beïnvloed?
Dit het tyd geneem om daardie vertroue te bou, met hulle as groep én as individue. Die moeilikste deel was om uit te werk wat die ware storie is. Ons redigeerder, Dirk Smit, was geniaal met die manier waarop hy die narratief geskep het. As ’n regisseur kan jy maklik verlore raak in die detail. Dit het iemand soos Dirk geverg om van buite na binne te kyk om die storie te help vorm. Dit het werklik lewe tydens die post-produksie gekry.
Wat is die boodskap wat jy met GHAM! wil oordra?
Ons leef in ’n land vol uitdagings en een daarvan is om die onontginde potensiaal van ons jeug uit te lig. Dit mag dalk na ’n cliché klink, maar ek hoop dat die boodskap uitgedra word dat, ongeag wie en waar jy is, as jy iets wil doen, moet jy begin met dit wat jy het. Jy hoef nie te wag vir dinge om perfek te wees nie. Die ouens se doen-dit-self-houding is werklik inspirerend.
Enige hoogtepunte tydens jou kennismaking met die Temple Boys?
Die laaste dag en ’n half het ons by Mr. Gham (Dylin) se huis geskiet. Wat my veral getref het, was hoe oop en uitnodigend almal teenoor die Boys was. En dan ook teenoor ons. Dit is so ’n gewelddadige omgewing waarin hierdie mense leef, maar hul warmte is so tasbaar.
Gedurende die dag het ons gevoel ons is op ’n superhero-fliekstel met kinders wat oral gejil het. Almal wou net op film wees. Alfonzo Franke, ons kinematograaf, was die main ou … Ouma Anne het koeksisters vir die dag gebak. Dit was werklik ’n hartsverblydende ervaring.
Dit klink of elkeen een of ander bydrae gemaak het tot “Saggies”, maar was daar een mens in die besonder wat verantwoordelik was vir die lirieke?
Dit is die craziest deel van alles. Hulle het eintlik nooit die lirieke neergeskryf nie. Dit was bloot ’n jam-sessie. “Saggies” veral, was Mr. Werkhom (Chadley) se lirieke wat net so goed gepas het by die ritme. Skynbaar het hy geen idee waar dit vandaan kom nie, maar hy sê hy het net begin met “kry jou learners voor jy vir my wil kom ry …”, en die res is geskiedenis.
Wat ek wel agtergekom het, is dat hulle hulself nie juis ernstig opvat nie. Die rouheid van hul lirieke is wat hulle bind.
Die aaklige kant van slegte bestuur word ook in die film aangespreek, en die groep glo dat hulle deur hul agente ingedoen is. Is daar enige stappe geneem?
Nee, ongelukkig nie. Nie een van die kunstenaars of families het die kennis of kontakte gehad om die agente aan te vat nie. Die ouens was jonk en naïef en hulle ouers het nie van beter geweet nie. Daar was dus geen ooreenkomste in plek om die ouens te beskerm nie. Dit maak dit baie moeilik om enige betekenisvolle geregtigheid vir hulle te laat geskied.
Dink jy die moontlikheid bestaan wel dat die Temple Boys se loopbaan weer kan vlamvat?
Hulle is terug in die ateljee en het so pas ’n nuwe enkelsnit getiteld “My man, My man” vrygestel. Hulle werk ook aan ’n nuwe album en is weer aan die gang met gigs. Ek dink hierdie is die begin van hul ommekeer, en dit is baie belangrik dat die dokumentêr ’n tydige herinnering vir hulle is om self te besef wie hulle is. Ek twyfel geensins daaraan dat die Temple Boys weer sukses gaan behaal nie.
Wat is volgende vir jou as filmmaker?
Ek werk aan my eerste vollengte dokumentêr, Finding Vicus. Dit handel oor die soektog na Suid-Afrika se eie Justin Bieber, Vicus Visser. Dis ’n wilde soektog na ’n dekade-oue sensasie, lank voordat viral nog ’n ding was.