Beurtkrag: Ivan Botha en die kortfilm met bene.

Beurtkrag was ’n kortfilm by die Silwerskermfees, toe ’n toneelstuk in 2016 en 2017 en nou ’n speelfilm. Vertel meer van die proses. Hoe het alles in plek geval?

Dit was ’n baie organiese proses en kykNET en die Silwerskermfees het ’n sleutelrol gespeel, sonder dat enige van ons dit aanvanklik besef het – die feit dat hulle belê het in die ontwikkeling van ’n storie en karakters en dat hierdie storie bene gehad het en ’n lewe van sy eie gekry het.

Ek en Donnalee, wat groot ondersteuners van Stiaan Smith se werk is, het in 2015 die kortfilm Beurtkrag by die Silwerskermfees gesien. Ons het vir Stiaan (wat die draaiboek geskryf en ook daarin gespeel het) gevra wat sy planne met die storie is en hy het gesê ons kan dit verder neem. Ons het vir Karen Meiring gaan sien met die versoek dat ons dit in ’n teaterstuk wil ontwikkel en sy was baie opgewonde dat dit op so ’n manier ’n nuwe lewe kon kry. Ek en Donnalee het beide ’n behoefte aan teater gehad – dit was deel van ons opleiding, maar ons loopbane het ons na TV en film gevat.

Kortfilms is dikwels ’n lieflike fondasie vir verhoogproduksies en Beurtkrag is ’n goeie voorbeeld daarvan: een location, twee karakters en dit kan afspeel in ’n uur. Dit was ideaal. Ons het vir Jozua Malherbe aan boord gekry as medeskrywer en regisseur en so het Beurtkrag die verhoogproduksie ontstaan. Dit was amper altyd uitverkoop by al die groot feeste en teaters waar ons gespeel het. En toe gebeur lockdown.

kykNET en M-Net het egter aanhou vra vir projekte, maar as gevolg van Covid was daar ’n beperking op die skaal – hoeveel mense op stel kan wees en so aan. Ons het toe besef hierdie teks en karakters, wat nog in ons harte en gedagtes lewe, is die ideale storie om in hierdie tye in speelfilmformaat te vertel.

In Beurtkrag word die hoofkarakters, Jasper en Fransie, deur beurtkrag saam vasgekeer en gedwing om met mekaar te praat. Ek dink dié storie gaan met kykers resoneer omdat soveel paartjies en gesinne as gevolg van lockdown in hulle huise vasgevang was. Dit skyn ’n groot lig op verhoudings en die bagasie wat mense na verhoudings bring.

Hoe het julle op die span vir Beurtkrag besluit?

Dit was vir ons ’n no brainer om vir Jozua ook vir die film te kry. Hy het saam met ons die teks en die karakters verder ontwikkel en behalwe dat hy weer, soos met die toneelstuk, die regisseur was, was hy ook die kinematograaf, wat ongelooflik was. Ons het elkeen op die span – ons was net 30 – met die hand gekies. Daar is baie in die aand geskiet en dit was vir almal van ons ’n passieprojek – van Bathoni Robinson, wat die produksie-ontwerp gedoen het, Leon Visser, wat redigeer het, tot Charl-Johan Lingenfelder, wat die klankbaan gekomponeer het. Dis moeilik om nie almal uit te sonder nie.

Vir wie is dié fliek?

Dis ’n volwasse verhoudingsdrama vir enigiemand oor 16 wat in ’n verhouding was of is. Ek dink Beurtkrag is vir iemand wat van regte karakters hou. Hulle gaan dit geniet om hulleself in die karakters te sien en vir hulleself te lag en te huil. Ek dink ons gaan goeie terugvoer kry van paartjies, maak nie saak hoe lank hulle bymekaar is nie. Dit sal dalk ook ’n paar dinge oopkrap en dit is waarvoor ons hoop: dat paartj­­­ies die fliek kyk en ’n gesprek oor hulle verhoudings het.

Jy en Donnalee is vennote in alles. Maak dit dit makliker of moeiliker?

Dit maak alles makliker: om elke dag saam tyd te spandeer en ons lewens om familie en kinders te beplan. Dit is vir ons ’n groot voorreg om saam te kan werk en te droom en kreatief te wees en natuurlik te speel. Ek dink ons maak ’n sterk span en komplimenteer mekaar. Sy is kreatief en ek is bietjie meer van ’n realis en ek dink dit maak ’n goeie kombinasie. Die enigste ding wat dit moeilik maak, is jy eet, slaap en werk alles saam. Ons moet bewus wees wanneer ons werk en wanneer ons nie werk nie.

Wat het die plaaslike filmbedryf die nodigste – daardie een ding wat dit na die volgende trappie kan vat?

Ek dink nie dit is noodwendig net een ding nie. Ons het tyd nodig en as ek sê tyd, dan bedoel ek tyd om te herstel. Voor mense opgee op die filmbedryf, wil ek net vir hulle sê om geduldig te wees. Dinge het verander en soms is verandering ’n seëning. Natuurlik ook geld, want dit gaan vir ons meer tyd koop om nuwe tekste te skryf en te ontwikkel en beter films te maak. Maar wat ons die meeste nodig het, is ondersteuning van kykers wat aanhou om ons plaaslik films te ondersteun. Kritiek is welkom want dit bevorder groei, maar weet net niemand wíl ’n swak produk lewer nie. Almal van ons is op ’n skaal van groei. Geduld en ondersteuning is nodig en ek dink daar is tans wonderlike ondersteuning van kykNET, M-Net en MultiChoice vir plaaslike ontwikkeling. Die inhoud wat gemaak word, is ongelooflik en raak net sterker, veral die stories. Die geld raak nie meer nie en dinge het drasties verander met Covid, maar daar kom ongelooflike kreatiwiteit saam met hierdie uitdagende tye en dit maak my opgewonde.

Wat is jou beste herinnering aan die Silwerskermfees?

My vrou het in die verlede elke keer tydens die fees verjaar en ons het altyd gespot dat dit wonderlik is dat kykNET vir haar ’n partytjie by die fees reël. Ons het ’n paar heerlike herinneringe aan die dansvloer en om te kuier en fees te hou saam met mense in die bedryf.

En glo dit of nie, maar dit is die eerste keer wat ons ’n fliek op die fees het wat deel van die kompetisie is en wat ’n voorreg is dit nie.Ek dink daar gaan iets baie spesiaals by vanjaar se fees wees omdat dit vir twee jaar stilgestaan het. Daar is ’n honger vir filmmakers om weer bymekaar te kom en net saam te kuier en mekaar moed in te praat en saam te droom.