Kabous Meiring maak haar eerste buiging as speelfilmregisseur by die Silwerskermfees met Die tragiese saak van Pamina Vermaak

As jy nie Annie Klopper se trefferroman Die tragiese saak van Pamina Vermaak verslind het nie, sou jy dalk raai dat ’n rolprent met só ’n gewigtige titel ’n swaar melancholiese affêre sal wees. Boekwurms sal jou blitsig reghelp. Nes die lekkerlees chic lit-storie is die gelyknamige Silwerskermspeelfilm ’n heerlike romantiese komedie. Boonop speel die uitmuntende aktrise Carla Smith die eiewyse Pamina wie se kronkelpaaie toevallig op ’n klein kusdorpie met dié van ’n rockster kruis.  

Die bekende en geliefde kykNET-aanbieder Kabous Meiring maak haar regie-debuut met Pamina se sogenaamde “tragiese” saak, en Jaco Nothnagel, met talle TV- en kortfilms op sy kerfstok, is die vervaardiger.  

Toe Die tragiese saak van Pamina Vermaak in 2018 in boekwinkels opgeraap is, het Bibi Burger dit op LitNet as “Griet skryf ’n sprokie vir die Fokof-generasie“ beskryf. 

Kabous en Jaco beantwoord ’n paar vrae oor die rolprentweergawe.  

  

  • Hoe en waarom het julle besluit om Die tragiese saak van Pamina Vermaak in ’n  speelfilm te omskep?

Kabous: “Annie Klopper het my by een of ander uitbundige geleentheid vertel van haar nuwe coming- of-age-roman, wat toe nog nie op die rakke was nie. Ek was nuuskierig oor die ongewone titel en Annie  het gedink die storie moet ’n speelfilm wees. Sy vra my toe net daar of ek dit sal maak en ek sê dadelik “ja” nog voor ek die boek gelees het. Waarskynlik omdat ek van Annie se werk en die uiteenlopenheid van haar leefwêreld hou: die akademie, die woeste rock en roll, poësie-voorlesings, ma-wees en skrywer vir jongmense. 

 

  • Hoe getrou het die film aan Annie se storie gebly?

Jaco: “Een van die grootste uitdagings om ’n boek in ’n filmdraaiboek te verwerk, is om die karakters se binnewêreld visueel uit te beeld op ’n manier wat kykers boei. Pamina bly Pamina. Sy is ’n sterk hoofkarakter wat dit maklik gemaak het om ’n universele film te maak. Ons het dikwels spottenderwys gesê ons almal is of was al in ’n stadium van ons lewens ’n Pamina.”

Kabous: “Daar is wel ander groot verskille en Annie was deel van die span wat die aanpassings gemaak het. Die einde van die fliek is anders as in die boek, en dit speel nou af in 2023/2024. Dus is van die hoofkarakters, wat steeds jonk is, nie so rock ’n roll nie. Dit is nou ’n lekker mengsel van Gen X, Millennial en selfs Gen Z.”

  • Kabous, waarom het jy besluit om agter die skerms te werk? Wat was jou grootste uitdaging as nuwelingregisseur? 

Kabous: “Ek wou nog altyd ’n rolprentregisseur word, maar was nuuskierig oor baie aspekte van die bedryf en het ander vaardighede gaan slyp. Noudat ek uiteindelik ’n vollengtefilm se regie behartig het, kan ek sê dit was baie lekker! Dankie tog.

“Die grootste les wat ek geleer het, was om nog laat in die proses aan die teks te karring. Alhoewel dit nodig was, is tydbestuur uiters belangrik, want as jy op stel is, moet jy skiet. Tóg dra die tyd- en begrotingsdruk wel op ’n goeie manier by tot die kreatiewe proses. Ek het demokraties te werk gegaan en die wonderlike crew en cast was vrygewig, geduldig en slim met hul insette.” 

 

  • Die tragiese saak van Pamina Vermaak speel grootliks op ’n skilderagtige Weskusdorp af. Waar het die verfilming plaasgevind? 

Jaco: “In die boek is daar sterk verwysing na ’n spesifieke dorp langs die Weskus. So, ons het een naweek in die kar gespring om te gaan kyk of dit sal werk. Logisties was dit ’n ‘nee’. Daarna het ons 11 verskillende dorpe gaan recce en op die ou einde in Velddrif geland. Johannes Pieter Nel, die kinematograaf, het familie op die dorp, en hoe meer ons op en af in Bokkomlaan geloop het, hoe meer het ons verlief geraak op die plek. Van die ander locations behoort aan bekende musikante.” 

 

  • Is daar enige agter-die-skerms-staaltjies wat julle met ons kan deel?

Jaco: “Die fiets. O, die fiets! Pamina se fiets – ’n ‘hero prop’ soos ons dit noem – is een aand op die dorp gesteel. Ons moes inderhaas ’n soortgelyke fiets opspoor en ons kunsdepartement het gewoeker om dit vir kontinuïteitsdoeleindes soos die eerste een te laat lyk. Die nuus het soos ’n veldbrand in Velddrif versprei, en binne twee dae was die fiets terug, maar sonder die wiele. 

Kabous: “Daar is twee scenes waar onderskeidelik kreef en vis gevang word. Kon ons die rekwisiete lewend hou? Helaas, nee. Ek dink Reg Hart, ons rekwisietemeester (en hy’s een van die bestes), het nou nog PTSD. Die mense van Velddrif en Dwarskersbos was ongelooflik gasvry. Die twee bekende hotelle op die dorp het aangedring om ons te onthaal. My prioriteite klink seker verkeerd, maar die kos was fabulous.

 

  • Die musiek in die fliek is besonders. Vertel ons meer daarvan.  

Jaco: “Om gepubliseerde musiek vir ’n film te kry, kan ’n groot kopseer wees, maar ons het op ons netwerk staatgemaak en baie kunstenaars was ons geweldig goedgesind. Die altyd briljante Charl-Johan Lingenfelder het die res van die klankbaan gekomponeer.” 

Kabous: “Ek het baie liedjies vooraf in my kop gehad, maar Eva du Preez, ’n sterk hand as redigeerder, het met nóg idees vorendag gekom. Uiteindelik het die musiek ’n ode geword aan ons identiteit as Suid-Afrikaners – om ’n bietjie af te show met wat ons kan regkry in die land, die verskillende genres en klanke, die uiteenlopendheid daarvan. Daar is tracks van Hunter Kennedy, Henry Ate, Margot Rothman, Bobby van Jaarsveld en Mimi Coertze se ‘Towerfluit’, as jy verstaan wat ek bedoel.”

 

  • In ’n neutedop, waarom dink julle gaan mense mal wees oor dié speelfilm?

Jaco: “Carla is ongelooflik as Pamina en die ondersteunende akteurs maak die wêreld drie-dimensioneel en uiters relatable. Jy mag dalk snak na jou asem oor wat Pamina soms kwytraak, maar as jy eers agterkom dat sy bloot net nie ’n wag voor haar mond het nie, wil mens tog hê dat daar ’n gelukkige einde op haar wag. Maar gaan dit gebeur?”

Kabous: “Die Suid-Afrikanerskap is tasbaar op verskeie maniere sonder om selfbewus te wees. Dit vorm alles deel van  Pamina se storie van verbetering. Dis eenvoudig: Jy kan of vlug as gevolg van jou ‘embarrassing gedrag’ (om uit die fliek aan te haal), of jy kan jou foute erken. Laasgenoemde het uiteraard ’n beter uitkoms.” 

Buiten Carla Smith speel Christiaan Schoombie, Anna-Mart van der Merwe, Lee-Ann van Rooi, Albert Pretorius, Duane Williams, Armand Aucamp en Rolanda Marais in die rolprent. 

Die tragiese saak van Pamina Vermaak wys op Vrydag 25 Augustus om 16:30 by die fees en sal later op DStv BoxOffice te siene wees.