Shotgun-kortfilm: Liminale

In Liminale, ’n film deur draaiboekskrywer en regisseur Hanneke Schutte, vertolk Inge Beckmann die rol van Mia, ’n depressiewe vrou wat deur ontstellende herinneringe geteister word. Mia ondergaan dan baanbrekende nuwe terapie in ’n futuristiese sielkundige inrigting, in die hoop om uiteindelik haar trauma te verwerk. Maar terwyl sy dié surrealistiese liminale ruimte van die terapie verken, ontdek sy die verrassende oorsprong daarvan en moet sy die krag vind om haar eie demone te konfronteer en vergifnis te soek.

Hanneke Schutte vertel meer.

 

Kan jy die oorsprong en betekenis van die film se titel vir ons uiteensit?

Die woord ‘liminale’ kom oorspronklik van die Latynse woord ‘limen’, wat ‘drumpel’ beteken. Dit verwys na ’n tussenin-toestand, die betwixt and between, die vreemde spasie tussen twee plekke of stadiums – soos tussen lewe en dood, slaap en wakker wees – ’n oorgangsfase wat ook tydens oorgangsrites verken word. Jy is nie hier of daar nie, maar onvolledig en in ’n proses van wording. Dit is ’n magiese plek wat amper voel asof dit buite tyd en ruimte bestaan.

Ek is al jare lank geïnteresseer in hierdie konsep, sowel as in liminale ruimtes, wat leë of verlate plekke is wat dikwels angswekkend of surrealisties voorkom. Ek wou graag ’n fliek maak wat in hierdie liminale ruimtes afspeel, soos ’n doolhof wat jou na jou onderbewussyn lei.

Die film speel af in die toekoms in ’n futuristiese mileu. Hoe het die idee vir die film ontwikkel?

Ek het van die begin af geweet dat dit ’n futuristiese tegnologie gaan wees wat jou in hierdie liminale wêreld dompel en dat dit in ’n tydperk van die nabye toekoms gaan afspeel.

Oorspronklik het ek beplan om die film in ’n verlate hotel in Johannesburg te skiet, wat ’n geskikte atmosfeer sou bied vir die gevoel van verlatenheid en isolasie, kenmerkend van liminale ruimtes. Hierdie hotel het my gefassineer omdat dit ’n gevoel van tydloosheid uitstraal, ’n plek waar tyd blyk stil te staan en wat jou in ’n ander dimensie kan dompel.

Maar toe ons die geleentheid kry om die film op ’n LED-volume te maak, het dit ’n heel nuwe wêreld van moontlikhede openbaar. Die LED-volume het ons toegelaat om omgewings en agtergronde te skep wat andersins moeilik sou wees om te verfilm, veral gegewe die vereistes van ’n futuristiese narratief. Dit het nie net logistieke voordele gebied nie, soos die gemak om komplekse visuele effekte te bestuur, maar het ook die deur oopgemaak vir kreatiewe vryheid. Ons kon die futuristiese milieu vorm en aanpas soos ons wou, sonder die beperkings van fisieke ruimtes.

Hierdie tegnologie het die oorgang na die futuristiese milieu versterk en die film ’n unieke estetiese en tematiese diepte gegee.

Die stelontwerp in die film is ongelooflik. Kan jy meer vertel oor die ontwerp en bou van die stel?

Die stelontwerp vir die film was inderdaad ’n groot uitdaging, veral aangesien die agtergrond digitaal was en ons die res van die stel moes bou. Die gebruik van die LED-volume het ons die vermoë gegee om komplekse en gedetailleerde agtergronde te skep wat andersins moeilik of onmoontlik sou wees om in ’n fisieke ruimte te rekonstrueer. Dit het ons in staat gestel om die grense van stelontwerp te skuif en ’n unieke visuele ervaring te skep.

Maar dit het ook sonderlinge probleme opgelewer. As jy net op die LED-volume vertrou en nie die fisiese stelinkleding met sorg hanteer nie, kan die hele visuele voorstelling gou fake en eendimensioneel voorkom. Dit was noodsaaklik dat ons die regte balans vind tussen digitale en fisieke elemente om ’n geloofwaardige en samehangende wêreld te skep.

Ons het ’n uitsonderlike produksieontwerper gehad, Anneke Botha, wat ’n sleutelrol gespeel het in die suksesvolle samevoeging van hierdie elemente. Anneke is bekend vir haar oog vir detail en haar toewyding om elke aspek van die stel so realisties en funksioneel moontlik te maak. Sy het ongelooflike werk verrig om die grens tussen die digitale en fisieke wêrelde te vervaag. Anneke se kreatiwiteit en vaardigheid het die stelontwerp lewendig gemaak en die algehele produksiekwaliteit verhoog.

Die rolverdeling is ook uitstekend. Inge Beckmann (Mia) lewer ’n kishou van ’n vertolking en Michele Burgers (dr. Venter) is fantasies in haar rol. Kan jy meer vertel oor die proses om die rolle toe te ken?

Ek het van die begin af geweet dat ek Inge Beckmann in die hoofrol wou hê. Inge het ’n besondere donker en geheimsinnige allure wat perfek by die karakter van Mia pas. Hierdie rol vereis ’n komplekse balans tussen krag en broosheid, en Inge se vermoë om hierdie dualiteit te beliggaam, selfs binne dieselfde toneel, het haar die ideale keuse gemaak. Haar diepgaande vertolking het nie net Mia tot lewe gebring nie, maar ook ’n emosionele kern aan die karakter gegee wat die kyker se aandag vasvang en behou.

Ek het Michele Burgers nog altyd bewonder vir haar vermoë om met subtiele, maar intense emosies op die skerm te werk. Sy besit ’n sterk, stille teenwoordigheid wat ’n soort donker gravitas aan haar rolle gee, iets wat ons vir hierdie spesifieke karakter nodig gehad het. Toe Michele haar eerste reël tydens die table read lees, het ek geweet ons is in goeie hande. Haar stil en sagte lewering het onmiddellik die toon vir die produksie gestel.

Kan jy uitbrei oor die verfilmingsproses?

Ons het die fliek oor drie dae geskiet, en dit was ’n uitdaging! Die gebruik van die LED-volume beteken dat die stel en agtergrond vinnig kan verander, maar dit vereis ook presiese beplanning en vinnige besluitneming.

Op ’n tradisionele filmstel beweeg jy die kamera om verskillende hoeke en skote te kry, maar met die LED-volume kan jy dikwels net die agtergrond verander om ’n nuwe toneel te skep. Dit verg egter dat die hele span, van die regisseur tot die kamerapersoneel, op ’n nuwe manier dink oor die verfilming en vinnig aanpas by die nuwe tegnologie.

Die vermoë om vinnig van agtergrond te verander het ons gehelp om die verfilmingstyd te optimaliseer, maar dit het ook nuwe uitdagings gebring in terme van kontinuïteit en die bestuur van visuele elemente.

Die film verken ernstige temas soos geweld teen vroue en selfdood. Is dit moeilik om sulke temas aan te pak en voel jy ekstra druk as ’n filmmaker om dit reg te kry?

Die film worstel met die kompleksiteit van geweld teen vroue en die sikliese aard van mishandeling. Mia en haar man se reis is emblematies van die tallose individue wat hulself vasgevang vind in ’n siklus van geweld, dikwels nie in staat om hulself te bevry van die patrone van hul verlede nie. Dis ’n moeilike tema om aan te pak want dit is ’n komplekse kwessie en daar’s nie altyd maklike antwoorde nie.

Dit was vir my belangrik om emosioneel volronde karakters te skep; niemand in die film is heeltemal goed of heeltemal sleg nie; hulle is almal produkte van hul omstandighede en hul keuses, wat hulle menslik en herkenbaar maak. Mia is byvoorbeeld nie net ’n slagoffer nie, maar ’n komplekse individu met haar eie sterk- en swakhede. Haar karakterontwikkeling deur die film toon hoe sy probeer om beheer oor haar lewe te herwin, selfs te midde van die chaos en pyn van haar situasie.

Wat is die grootste uitdaging wanneer jy ’n kortfilm maak met ’n kort speeltyd?

Die idee vir Liminale het oorspronklik as ’n vollengte speelfilm begin, wat beteken dat die storie ’n veel groter en komplekser narratief gehad het met baie meer karakterontwikkeling en plotlyne. Dit was ’n groot uitdaging om so ’n gedetailleerde storie in die formaat van ’n kortfilm vas te vang.

Dit was veral moeilik om die kern van die storie te identifiseer en seker te maak al die noodsaaklike elemente is daarin vervat. Jy moet die storie tot sy essensie distilleer, wat beteken dat jy elke onnodige element moet verwyder en net die belangrikste behou. Jy moet kreatiewe oplossings vind om komplekse idees en emosies vinnig en bondig oor te dra. Dit is ’n kreatiewe oefening wat jou vaardighede as ’n storieverteller verskerp en jou dwing om uit jou gemaksone te tree.