kykNET Silwerskermfees 14: Kry jou kaartjie vir alles – al die vertonings, voorskoue, spesiale sessies en die opskop daarna

Die Silwer Kaartjie is ’n goue kaartjie – ’n paspoort wat jou vier dae volle toegang tot een van Suid-Afrika se grootste filmfeeste gee.

Die 14de kykNET Silwerskermfees, wat van 19 tot 22 Augustus vanjaar by The Bay Hotel in Kampsbaai, Kaapstad, aangebied word, beloof om weer ’n vyfstergeleentheid te wees. Daar is premières van drie nuwe Afrikaanse speelfilms asook kortfilms deur gevestigde én opkomende filmmakers. Die program spog ook met vyf splinternuwe kort dokumentêre wat ware Suid-Afrikaanse stories skouspelagtig vasvang. Ook op die program is eksklusiewe voorskoue van nuwe programme wat op DStv-kanale uitgesaai gaan word, en werkswinkels en paneelbesprekings waar kundiges hulle kennis sal deel.

Om dit alles te kroon, word die Silwerskermtoekennings vir Film en TV die Saterdag oorhandig. By dié glans-okkasie Saterdagaand met al wat ’n ster is, word nie net die beste prestasies by vanjaar se Silwerskermfees vereer nie, maar ook die beste in Afrikaanse TV van die afgelope jaar. En dan word daar ná die tyd behoorlik gepartytjie.

Die eregaste by die kykNET Silwerskermfees is elke jaar die mense wat voor en agter die kameras aan die films op die feesprogram gewerk het. Vanjaar is dit nie anders nie, en vir hulle is daar elkeen ’n uitnodiging na die fees.

Maar hoe gemaak as jy nie deel van hierdie groep is nie en geen hand in werk op die feesprogram gehad het nie? Geen probleem nie. Vanjaar is daar ’n spesiale kaartjie te koop vir alle persone in die bedryf wat die fees wil bywoon, asook vir lede van die publiek: die Silwer Kaartjie.

Lede van die media wat die fees wil dek, sal vroeg in Junie kan aansoek doen vir akkreditasie. Besonderhede oor dié proses sal binnekort gedeel word.

Hoe werk dit?

’n Silwer Kaartjie, wat van 22 Mei teen R1 000 by Quicket beskikbaar is, gee jou volle toegang tot die fees. Dit sluit die partytjie ná die toekennings by die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum (CTICC) in, ’n kaartjie wat op sy eie R400 kos. Jy kan dus van Woensdagoggend tot Saterdagaand deel van hierdie groot geleentheid op die Suid-Afrikaanse vermaakkalender wees.

Die program vir vanjaar se kykNET Silwerskermfees word op 19 Junie bekend gemaak. Solwel genooides as Silwer Kaartjie-houers sal op 19 Junie hul koepons ontvang en sal dan die geleentheid kry om oor die naweek (van 20 en 21 Junie) eerste te bespreek vir aanbiedings op die feesprogram. Op 22 Junie maak verkope vir die algemene publiek oop, wat dan kaartjies vir alle vertonings of sessies sal kan koop wat nog nie vol is nie.

Met ’n Silwer Kaartjie kan jy vir enige van die volgende bespreek:

  • 3 premières van nuwe Afrikaanse speelfilms
  • 6 kortfilms deur opkomende filmmakers
  • 4 kortfilms deur gevestigde filmmakers
  • 5 kort dokumentêre
  • 1 vollengtedokumentêr
  • 2 voorskoue van nuwe dramareekse
  • 2 voorskoue van nuwe realiteitsreekse
  • 1 voorskou van ’n nuwe dokumentêre reeks
  • 3 werkswinkels
  • 4 paneelgesprekke
  • Silwerskermtoekennings plus die partytjie ná die tyd

Kry jou Silwer Kaartjie hier.