Kaartjies

Kaartjies vir Silwerskermfees en kykNET Silwerskermtoekennings vir Film en Televisie nóú te koop

Is jy ’n fliekvlooi wat graag al die premières by die Silwerskermfees eerstehands wil beleef en skouers wil skuur met die sterre? Of wil jy in die gehoor wees wanneer die beeldjies by die eerste swierige kykNET Silwerskermtoekennings vir Film en Televisie uitgedeel word?

Dan moet jy gou spring! 

kykNET bied vir die eerste keer ’n beperkte aantal kaartjies te koop aan wat die publiek volle toegang tot die Silwerskermfees gee. Daarbenewens kan jy ’n kaartjie aanskaf vir die blinknuwe gala-aand wat voortreflike werk op ons groot en klein skerms saam met van die grootste name in ons film- en TV-bedryf vier. 

Die Silwerskermfees vind tussen 23 en 26 Augustus by die Bay Hotel en Theatre on the Bay in Kampsbaai plaas, en kykNET rol op 26 Augustus om 16:00 die blou tapyt by die CTICC uit vir die eerste Silwerskermtoekennings vir Film en Televisie. Dié glansryke gebeurtenis word ook die volgende aand (Sondag 27 Augustus) om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai. So, vir dié geleentheid moet jy jouself in ’n deftige aandrok of -pak uitdos. 

As jy die fees van begin tot einde wil meemaak, beloop die kaartjie R400. Dit gee jou toegang tot alles wat by die fees gebeur – die speelfilms, kortfilms, dokumentêre, loodsepisodes van nuwe TV-reekse, groepsbesprekings en werkswinkels. Daar is ook dagkaartjies teen R150 elk beskikbaar wat jou tot al die laasgenoemde aanbiedings toegang gee, maar net vir een spesifieke dag. 

’n Kaartjie na die kykNET Silwerskermfeestoekennings vir Film en Televisie, wat nie enige feesaanbiedings in Kampsbaai insluit nie, kos R150.