Inskrywings NOU OOP vir die 2027 kykNET Silwerskermfeeskompetisie vir kortfilms en kort dokumentêre

Van 19 tot 22 Augustus vanjaar vind die 14de kykNET Silwerskermfees in Kampsbaai plaas en dit beloof om weer ’n filmfees van wêreldgehalte te wees. Die program sluit glansryke premières, speelfilms, kortfilms, dokumentêre films, eksklusiewe voorskoue van nuwe TV-reekse se loodsepisodes asook werkswinkels en paneelgesprekke met bedryfskenners in.

Voorbereidings vir vanjaar se fees is reeds in volle swang, en nou is die inskrywings ook oop vir die 2027 Silwerskermfeeskompetisie vir kortfilms en kort dokumentêre. Die fees, wat jaarliks nuwe stemme in die plaaslike film- en televisiebedryf ondersteun, bied ’n gevestigde platform vir sowel opkomende as ervare filmmakers.

Die kompetisie word in drie kategorieë aangebied:

  1. Kortfilms, waarvoor opkomende filmmakers kan inskryf.
  2. Kortfilms, waarvoor gevestigde filmmakers kan inskryf.
  3. Kort dokumentêre, waarvoor sowel opkomende as gevestigde filmmakers voorleggings kan maak.

Die fees is op soek na oorspronklike, diverse en verbeeldingryke storievertellers wat die pas in die snelgroeiende film- en televisiebedryf van vandag en môre kan aangee.

Die keuringsproses bestaan uit verskeie fases.

Indien ’n kort dokumentêr in jou visier is, sal jy aanvanklik die titel, genre, ’n beskrywing van die storie en temas wat aangeraak word, asook verwysings na soortgelyke dokumentêre en die beoogde tydsduur moet verskaf. Die dokkie mag nie langer as 30 minute wees nie. ’n Verdere vereiste is dat 60% van die inhoud Afrikaans moet wees. Enige variant van Afrikaans is welkom.

Kandidate op die kortlys vir die volgende ronde, wat in Julie 2026 aangewys word, sal ’n voorleggingsvideo moet instuur. Daarna volg ’n derde siftingsronde wat, onder meer, ’n formele voorlegging met ’n begrotingsplan en regisseursvisie behels. Dié ronde sal bepaal wie die suksesvolle filmmakers is wat finansiering en mentorskap sal ontvang om van hul dokkiedroom ’n werklikheid te maak.

Die kortfilmkandidate vir die 2027 Silwerskermfees sal deur ’n soortgelyke keuringsproses aangewys word, en die films kan tussen sewe en 30 minute lank wees, in enige genre en in enige variant van Afrikaans. Dit kan ook ander landstale insluit, maar 80% van die dialoog moet Afrikaans wees.

As jou voorstel uiteindelik die groen lig vir finansiering en mentorskap kry, kan jy in die voetspore van ’n rits veelbekroonde Suid-Afrikaanse rolprent- en televisiemakers volg wat hul eerste buiging in die bedryf met ’n Silwerskermfeeskortfilm gemaak het. Daaronder tel Christiaan Olwagen, wat later talle pryse verower het vir rolprente soos Johnny is nie dood nie, Kanarie en Poppie Nongena, die baanbrekers Ephraim Gordon en Amy Jephta van Barakat-faam en die filmmakerpaar Corné en René van Rooyen, wat Vaselinetjie, Toorbos en Hans steek die Rubicon oor op hul kerfstok het. Verskeie Silwerskermfeeskortfilms, soos Vuil wasgoed en Beurtkrag, is ook al in vollengterolprente omskep.

Jou inskrywing vir die eerste ronde van beoordeling moet ’n konsepvoorstel van 250 tot 300 woorde bevat. Die draaiboek, regisseursvoorlegging en begroting sal later volg.

Sperdatum: 19 Junie 2026
Inskrywingsfooi: R350

Skryf hier in.

Navrae: silwerskerm@ideacandy.tv