



Wêreld – en uitdagings – van rooikoppe verken in dokkie ‘Rooi van aard’
Dit is die raarste haarkleur in die wêreld, met net 1% tot 2% van die bevolking wat rooi hare het. G’n wonder die rooikoppe staan so uit nie, en hulle moet soms ook maar allerlei vreemde opmerkings en gedrag verduur.
Niël Coetzee, mederegisseur en medevervaardiger van Rooi van aard – en ’n rooikop, het tydens sy filmstudies vir ’n projek die kollig laat val op medestudente met rooi hare. Nooit sou hy kon dink hy sal eendag selwers die hoofkarakter in sy eie dokkie oor die onderwerp wees nie.
Maar toe sy voorstelle vir verhalende kortfilms nie die oog vang nie, het hy besluit om te fokus op ’n onderwerp wat hy weet ander gaan nie sommer aanpak nie. En as deel van die unieke groep met rooi hare, het hy uiteindelik ook nie net agter die kamera gestaan nie, maar ook sy eie verhaal deel van die dokumentêre kortfilm gemaak.
Vrae vir Niël Coetzee, regisseur en medevervaardiger
Kinders kan van jongs af kleur onderskei, maar wanneer het jy agtergekom rooi hare is anders. En hoe?
In my geval was ek die enigste rooikop in die gesin. Selfs toe my suster twee jaar later haar verskyning maak, het sy donkerbruin hare soos my pa gehad. Ek kon dadelik ’n verskil raaksien, en ook met die interaksies met grootmense wat gereeld oor jou hare wil vryf, asof dit onwerklik is. Maar die eerste oomblikke wat ek kan onthou, was in gr. 1 in Laerskool Elarduspark, en ek is die enigste rooikop tussen 208 graadeens. Dit was die dag wat ek begin besef het ek is uniek.
Diskriminasie is legio en neem verskeie vorms aan. Blondines word gespot dat hulle dom is. Wat is mense se probleem met rooi hare?
Die stereotipes met rooikoppe wat ek in my navorsing ontdek en ervaar het, was dat mense aanneem rooikoppe is meer geneig tot aggressiewe uitbarstings en humeurige buie. In my dae op skool was daar ook hierdie neiging dat mense gedink het rooikoppe is sielloos, danksy ’n episode van South Park. Al die kleurvolle benamings en kyke wat mens kry, was aan die begin ook nogal iets om aan gewoond te raak.
Wat het jou op dié idee laat besluit? En waar het jy al die ander rooikoppe opgespoor? Is daar karaktertrekke wat nogal eie is aan rooikoppe, want die titel sinspeel op die menslike aard…
Die idee kom van ’n universiteitsprojek wat ek jare gelede gedoen het oor rooikop-studente en hul ondervindings. In Desember 2024 het ek met my suster daaroor gepraat om vir die eerste keer dalk vir die afdeling vir kort dokumentêre films van die Silwerskermfees in te skryf, ná jare se onsuksesvolle inskrywings met idees vir kortfilms. Daar is die saadjie geplant wat toe sy eie ontkieming ondergaan het deur die Silwerskerm-proses – van passiewe rol agter die kamera tot ’n hoofkarakter voor die kamera.
Om al die gaste en rooikoppe op te spoor was ’n spanpoging met my mederegisseur en medevervaardiger, Hancu Louw. Anthea Pokroy (fotograaf) en G.P. van Rheede van Oudtshoorn (oudlektor en kommunikasiespesialis) het ’n direkte en indirekte rol in my lewe gespeel wat die moontlike positiewe sy uitgewys het om ’n rooikop te wees. By Anel Alexander wou ek hoor waarom sy haar hare rooi kleur en uitvind watter eienskappe vereenselwig sy met rooikoppe. Die Roos-familie en Maude Sandham het danksy Hancu se bande dit moontlik gemaak om ’n nuwe generasie en die vermaaklikheidswêreld te ondersoek.
Die titel is gekies om die geaardheid van rooikoppe te weerspieël en te sien of ek iets kan leer uit hierdie gaste wat my wêrelduitkyk kan verbeter van ’n meer selfbewuste tot ’n jolige rooikop.
Uiteraard is daar elemente aan die onderwerp wat humor bevat, maar uiteindelik is hierdie ’n baie persoonlike reis vir jou. Vertel asb. meer.
Dit was ’n uitdaging omdat ek nie maklik praat oor my gevoelens nie. Om dan nog die gevoelens met vreemde mense in die dokumentêr te deel, was moeilik. Juis weens my eie ondervindings wat ek aanspreek in Rooi van aard, moes ek tydens die verfilming hierdie gevoelens die eerste keer met my ma deel en ek kon sien hoe dit haar geraak het. So ja, dit was persoonlik en eintlik ook bevrydend om te hoor wat haar oogpunt is. Ek het ook besef ek sal verhale en belangrike oomblikke in my lewe moet deel, al is dit vir die eerste keer, anders sal dit ’n nuttelose film wees met lang ongemaklike stiltes. Boonop moes ek ook bereid wees om moeilike vrae te beantwoord wat dalk na vore kom oor identiteit, andersheid en uniekheid. Gelukkig kon ek steun op my span en hulle volkome vertrou.
My plan was altyd om Rooi van aard ’n ligte, quirky en humoristiese toon te gee wat dit meer toeganklik maak as ’n swaar, somber aanslag. Ek glo hierdie kortfilm balanseer die lig met my lewenservaring.
’n Baie spesifieke onderwerp, maar tog baie universele temas. Met watter temas werk jy? Wou jy ’n spesifieke boodskap oordra?
Die dokumentêr handel met universele temas soos andersheid, aanvaarding en identiteit. Ek wil graag vir elke rooikop-kind daar buite laat besef dat hulle uniek is, en al hou die wêreld nie altyd van uniekheid nie, is dit nie uitsluitlik die negatiewe oomblikke wat jou definieer nie.
Met jou lang hare probeer jy dit duidelik nie wegsteek nie. Lewer mense steeds kommentaar? Hoe reageer jy as volwassene?
Wel, ek het vir 27 jaar my hare kort gedra, maar soos ek meer begin oorskuif het na aanlyn werk, het ek besluit om my hare te laat groei. Die legendariese skrywer Alan Moore het ook gedien as inspirasie vir my nuwe voorkoms. Vreemd genoeg was daar onlangs in die kerk ’n geval waar ’n ouer dame net aan my hare wou vat. As volwassene lag ek dit maar af of sal iets komies daaroor sê.
Enigiets anders wat jy met die kykers wil deel?
Ek hoop hierdie kort dokumentêre film help dié wat anders en uitgesluit voel weens die psigiese letsels as gevolg van die boelies of poetse in hul kinderjare. Om te sien alles gaan oukei wees en daar is genesing.