Scheepers se speelfilm ‘Landmyn’ belig oorgeërfde drama binne familieverband

Nico Scheepers volg verlede jaar se bekroonde riller Hen op met Landmyn, ’n intieme drama oor oorgeërfde trauma, verpligting en die onmoontlike daad van opgee. Dit debuteer by die Silwerskermfees wat in Augustus in Kaapstad aangebied word.

Vir die eerste keer in ’n dekade herenig twee susters en ’n broer vir ’n wintervakansie aan die Suid-Afrikaanse kus. Elkeen het elders ’n lewe opgebou in ’n poging om die onstabiliteit van hul kinderdae en die lang skadu van hul ma, Annatjie, te ontsnap. Die samesyn ontspoor wanneer die suster op besoek uit die buiteland erken dat sy hul ma genooi het om by hulle aan te sluit.

Annatjie arriveer soos ’n storm en trek die familie terug in ou patrone van wrewel, oorlewing en onafgehandelde geskiedenis. Soos die dae verloop, begin haar teenwoordigheid die afstand afbreek wat hulle tussen hulself en hul verlede probeer bou het. Nie eens Annatjie se pragmatiese suster kan volhou om te probeer brûe bou nie. Die kinders word gedwing om uit te werk hoeveel van hul lewens steeds om haar swaartekrag ineen vou, en of daardie houvas ooit werklik verbreek kan word.

Scheepers, oorspronklik veral bekend as teaterskepper, se eerste speelfilm, Hen, het in 2025 agt Silwerskerm-pryse gewen, terwyl sy televisiereeks Donkerbos eweneens etlike pryse ingepalm het, waaronder die Safta-prys vir beste regisseur. Landmyn is sy tweede speelfilm, waaraan 16 intense dae van verfilming afgestaan is.

 

Vrae aan Nico Scheepers, skrywer-regisseur

Jy trap nie suutjies met die begin van Landmyn nie, dit begin sommer met n dawerende “hy haat sy ma”. Wei uit oor jou keuse vir die dramatiese begin.

As dit kom by ware families en mense wat mekaar moet verdra, mag mens nie suutjies trap nie. Ek glo dit is ons verantwoordelikheid as storievertellers om mense te beweeg, nie net te vermaak nie. Om hulle te laat dink, en voel, en wonder. En skaamkry. Wat ’n wonderlike, ongemaklike ervaring om in die donker teater te kan skaamkry tussen vreemdelinge.

Jy het in 2025 jou speelfilmdebuut by die Silwerskermfees gemaak met die riller Hen. Is dit makliker om ’n verhoudingsdrama te verfilm? Wat is die voordele en nadele van die twee genres?

Ek dink in baie aspekte was Landmyn selfs moeiliker as Hen. Gee my eerder 45-grade hitte in die middel van nêrens as al hierdie fynbesnaarde emosies saam vasgevang in ’n huis. Daarom moes ons dit maak! Die eenvoud van die storie, en ons benadering (een familie, een huis, een lens) was die boks van beperkings wat ons doelbewus gebou het om in te kan speel.

In terme van genre hoop ek om nog in elke liewe een te werk. Die breedheid en moontlikhede van stories lê oop voor ons. Ek kyk álles. So ek wil álles maak. Volgende, hopelik sci-fi, of fantasy. Of ’n fantasie-riller. Wie weet? Ek is net dankbaar vir die geleentheid om al hierdie verskillende storiewêrelde en karakters te kan verken, en hopelik vir mense elke keer iets meer eerlik en eg te kan bied.

Jy verwys na die film as kamermusiek”. Interessante woordkeuse, want hierdie is nie ’n strelende, sussende tema nie. En daar is ’n toneel of twee wat mens selfs koue rillings gee! Hoe interpreteer jy jou benadering?

Eerlikheid. Landmyn gaan nie oor hoe ons wil wees nie, maar hoe ons is. Mense is komplekse, deurmekaar gedaantes wat net soveel seermaak as wat ons genees. Veral met onsself, en met die wat naaste aan ons moet wees: ons familie.

Ek wil nie stories vertel wat kykers streel en sus en laat beter voel oor die dele van hulself wat hulle wil wegsteek nie. Kom sit in die donker en wees eerlik met jouself. Families is moeilik. Nie alle huise is goeie huise nie. En om saam te oorleef ten spyte van verdien ook ’n storie.

Jy is ’n bekroonde dramaturg en teaterregisseur. Hoe het hierdie agtergrond jou gehelp met die skryf en verfilming van Landmyn. En wei ook uit oor die keuse van akteurs en die proses.

Terwyl ek aan die film geskryf het, was ek met Anna-Mart (van der Merwe), Carla (Smith) en Ben (Albertyn) in ’n teaterproses vir die produksie Speelgoed van glas. Dit was ’n wonderlike geleentheid, want ek kon lank voor die verfilming reeds met hulle gesels, en daar was ’n goeie verhouding en werksetiek. Met Nicole Holm sal ek berge uitklim en Dhania (Schultz) en Juan-Christoff (Smith, Carla se boetie) het soos gladde visse in ons waterpoel kom swem. Dit was ’n wonderlike proses. Ook moeilik, maar niks wat die moeite werd is is maklik nie. Die akteurs is die hart van die film. Hulle toewyding en vreesloosheid is verbysterend. Anna-Mart is een van die gaafste mense wat ek ken, en sy het Annatjie op ’n baie donker plek gaan uitgrou.

En wat gebeur op die front van televisie en teater?

Ek skryf tans my eerste boek, werk aan ’n nuwe Afrikaanse dramareeks en my nuwe teaterstuk, Leefbaar, het by die Vrystaat Kunstefees gedebuteer.