Silwerskermfees bied voorsmaak van opwindende nuwe TV-reekse

Die loodsepisodes van ’n opwindende dramareeks gebaseer op Deon Meyer se Blood Safari, in samewerking met MultiChoice, ’n Canal+-maatskappy en ITV Studios, en die eksklusiewe wêreldpremière van die tweede seisoen van Spinners, ’n ko-produksie van MultiChoice in samewerking met StudioCanal, asook drie Afrikaanse dokumentêre reekse bied ’n blik op die uiteenlopende TV-inhoud waarna DStv-intekenare kan uitsien.

M-Net se Invisible, met Jozua Malherbe as regisseur, beloof spanning soos min met ’n verhaal gebaseer op Deon Meyer se Blood Safari, met ’n sterbelaaide rolverdeling gelei deur , asook plaaslike akteurs soos Tim Theron (Trackers, Heart of the Hunter), Tumisho Masha (Isibaya, Silverton Siege), Frank Rautenbach (Summertide, Beter as Gister), Kim Engelbrecht (Reyka, Dominion), Chi Mhende (Generations: The Legacy, Queen Sono) en Siv Ngesi (The Woman King, Unseen).

Die bekroonde Suid-Afrikaanse reeks Spinners sal ook sy tweede seisoen by die fees bekendstel. Die reeks, ’n ko-produksie van StudioCanal en MultiChoice, is geskep en bestuur deur Benjamin Hoffman, geregisseer deur Jaco Bouwer en geskryf deur Matthew Jankes en Sean Steinberg. Die vervaardigers is Joachim Landau (vir Federation Middle East, Africa and Caribbean) en Ramadan Suleman (vir Natives at Large).

Die Underdogs het intussen groot sterre in die spinning-wêreld geword en geniet ’n nuwe lewe in Johannesburg. Ethan (Cantona James) besef egter gou dat hy nie van sy verlede kan wegkom nie. Wanneer Hercules hom vir een laaste taak nodig het, word hy weer ingetrek. Terselfdertyd bots hy met die grootste misdaadfamilie in Soweto wanneer hul moeilike seun, Sayi, sy grootste teenstander op die spinning-baan word.

Vir kykNET word drie baie uiteenlopende onderwerpe getakel wat belangrike gesprekke gaan aanwakker. Die Bom lig die sluier op Suid-Afrika se destydse kernwapenprogram; vroue se stryd met menopouse kom onder die loep in Meer as warm gloede; en Tweespalt stel ondersoek in na die verdeelde rugbygehore – die ondersteuners van die Springbokke versus die All Blacks.

Invisible

Wanneer die Londense skakelwese-konsultant Emma le Roux ’n desperate oproep ontvang van haar broer wat dekades tevore verdwyn het, keer sy terug na Suid-Afrika. Sy word ingetrek in ’n dodelike sameswering rondom wildstropery, politieke korrupsie en die geheimsinnige dood van ’n Mosambiekse presidentskandidaat. Met die hulp van haar lyfwag, Martin Dekker, en polisiespeurder kol. Jack Phatudi begin Emma ’n netwerk van mag, geweld en geheime in die Laeveld ontbloot – geheime wat al meer as twintig jaar begrawe lê.

Dit is geskoei op die spanningsriller Blood Safari van Deon Meyer, ’n meesterstorieverteller wat ook bekend is vir die fyn inkleding van sy karakters.

Regie: Jozua Malherbe

Draaiboek: Deon Meyer, William Schneider, Amy Jephta

Met onder andere: Abbie Cornish, Tim Theron, Tumisho Masha, Dougray Scott, Kim Engelbrecht, Frank Rautenbach, Chi Mhende, Siv Ngesi

Die loodsepisode van Invisible word op Woensdag 19 Augustus by die Silwerskermfees vertoon, en die reeks sal vanaf 14 Oktober op M-Net uitgesaai word.

Die Bom

Die wêreld was nog nooit só naby aan ’n kernoorlog soos nou nie. Die sogenaamde “Doomsday Clock” staan op 85 sekondes voor middernag. Suid-Afrika is die enigste land in die wêreld wat sy eie kernbomme gebou en toe vrywillig afgetakel het. Die verhaal is een van uiterste geheimhouding, spioenasie, terreur en politieke intrige. Daar word ook gekyk na die land se kernenergie-program die rol van die Koeberg-kernkragsentrale.

Pieter Steyn, ’n joernalis en dokumentêre filmmaker met meer as 20 jaar se ervaring, ondersoek verskeie kwessies in dié reeks. Soos bekommernisse oor Namakwaland, waar Suid-Afrika se kernafval gestort word; vrae rondom radioaktiwiteit wat in Australiese skape opgemerk is en wat van die hoogs verrykte uraan geword het wat in die land se bomme was.

Regie: Pieter Steyn

Met, onder andere: Prof. Jo-Ansie van Wyk, prof. André Buys, prof. Anna-Mart van Wyk, Rodney Wilkinson, Barend du Plessis, Abdul Minty, Mike Kantey, Lydia von Wielligh-Steyn en Riaan Cruywagen

Die loodsepisode van Die Bom word Donderdag 20 Augustus by die Silwerskermfees vertoon, en die reeks sal vanaf Woensdag 23 September om 20:00 op kykNET uitgesaai word.

Meer as warm gloede

In die reeks Meer as warm gloede word die stilswye en mites rondom menopouse gebreek. Met Antoinette Louw se persoonlike reis, ontmoet ons Suid-Afrikaanse vroue wat openhartig en eerlik praat oor al die veranderinge: slaappatrone en emosies tot breinfunksie, identiteit, verhoudings en intimiteit. Kenners belig die fisiologiese aspekte van menopouse, en hoewel daar nie een enkele benadering tot of behandeling vir menopouse is nie, bied dit ’n insiggewende blik op die rol van hormone. Daar is raad oor leefstylaanpassings, en met hoop en humor word vroue aangemoedig om hulself te aanvaar.

Regie: Hanneke Schutte

Met, onder andere: Antoinette Louw, Marianne Thamm, Melanie Verwoerd, Elsabé Brits, Lucinda Bosch, Zelda la Grange, dr. Renscha van den Berg, dr. Liana Roodt

Die loodsepisode van Meer as warm gloede word Vrydag 21 Augustus by die Silwerskermfees vertoon, en die reeks sal vanaf Woensdag 9 Desember op kykNET uitgesaai word. 

Tweespalt

Tweespalt ondersoek een van rugby se grootste wedywerings deur ’n unieke Suid-Afrikaanse lens. Dis ’n verhaal oor die ondersteuners van die Springbokke en die All Blacks, saam op dieselfde bodem, maar nie verenig deur sport nie. Die reeks delf diep in identiteit, lojaliteit, geskiedenis en verdeeldheid. Hoekom ondersteun soveel Suid-Afrikaners die All Blacks met soveel passie? Deur onderhoude met oudspelers, joernaliste en ondersteuners, ontbloot die reeks dekades van spanning gevorm deur apartheid, politiek en persoonlike oortuigings. Deur ikoniese wedstryde en rou persoonlike stories wys dié dokumentêr ’n wedywering wat baie verder strek as wat die telbord weerspieël.

Die reeks is vervaardig deur IdeaCandy.

Regie: Janina Oberholzer

Met, onder andere: Wynand Claassen, Benna October, Breyton Paulse, Victor Matfield, Marco Botha, Heindrich Wyngaard

Die loodsepisode van Tweespalt word Vrydag 21 Augustus by die Silwerskermfees vertoon, en die reeks sal vanaf Woensdag 9 September op kykNET uitgesaai word.

Die 14de kykNET Silwerskermfees word van 19 tot 22 Augustus in Kampsbaai, Kaapstad, aangebied. Kaartjies vir filmpremières, TV-loodsepisodes, asook die prestigeryke toekenningsgeleentheid op Saterdag 22 Augustus, is beskikbaar by Quicket.