Kortprent ‘Trilstraat’ verken verhoudings en onverwagse uitdagings

’n Opwindende aand uit vir ’n paartjie in Kaapstad neem ’n onaangename – en verrassende – wending wanneer hulle op pad terug na hul motor beroof word.

Hoewel ’n traumatiese ervaring, is die grootste uitdaging nie om in die middel van die nag hulp te soek nie. Die man (Ludwig Binge) en vrou (Cintaine Schutte) se uiteenlopende reaksies is ’n openbaring. Dit is ’n oomblik van ontnugtering en die band tussen die twee lyk skielik nie meer so sterk nie.

Regisseur Carla Smith hoop mense sal die 11 minute afstaan om na Trilstraat te kom kyk, volgens haar in wese ’n verhoudingsdrama wat die samelewing se geykte genderrolle ondersoek. Dit debuteer by die Silwerskermfees, wat van 19 tot 22 Augustus in Kaapstad aangebied word.

Vrae aan Carla Smith, regisseur en medeskrywer

Igna Botha word vermeld as medeskrywer. Waar kom die idee vandaan? En hoe het julle gesamentlik te werk gegaan met die ontwikkeling van die draaiboek?

Ek en Igna wou nog altyd saam skryf en met vanjaar se Silwerskermfees het ons besluit die tyd is nou. Ons het mekaar goed aangevul omdat sy versot is op skryf en ek op regie. Ons het van ’n soortgelyke storie gehoor en dit baie geniet om die res van die aand te verbeel. Beide van ons is in wat ons sou noem “moderne liefdesverhoudings”. Deels los van die vorige generasies se idees oor manwees en vrouwees, so ons kon onsself lekker uitdaag met hoe mens sou reageer en hoe mens sou wou hê iemand anders moes reageer.

Het jy spesifieke akteurs in gedagte gehad toe die draaiboek ontwikkel is?

Glad nie! Inteendeel, ek het baie lank gevat om te kies, want elke paartjie bring ’n ander konteks na die storie. Ek het lang sessies gehad met akteurs wat my almal gefassineer het. My keuse van Cintaine en Ludwig was deels omdat hulle ’n “ouer” paartjie voorstel. Laat dertigs, al lank saam, en op die drumpel van groot lewensbesluite. Dis ’n dieper liefde en dan ’n groter teleurstelling met (potensiële) groter gevolge. Hulle teateragtergrond het ons ook onmenslik baie gehelp met hoe ons die kortprent wou verfilm. En dan help dit ook natuurlik onmeetbaar baie dat hulle goddelik goed is.

Die uitdrukking is iets soos met jou kan ek oorlog toe gaan”. Weet ’n mens regtig hoe iemand anders gaan reageer in ’n bedreigende situasie?

Natuurlik nie! Ek dink mens het ’n idee, maar daar is ’n ander adrenalien wat inskop as mens regtig in gevaar is. Ons kon as ’n geselskap en tegniese span saampraat oor ons onderskeie ervarings en selfs as mens kan jy op verskillende tye verskillend reageer.

Dit is ’n verhoudingsdrama, maar die konteks is belangrik, hier in Suid-Afrika. Dit voel ook of die kortfilm stereotipiese genderrolle bevraagteken. En die geneigdheid om mense te profile. Is dit so en hoe word dit getakel?

Ja, dit is in Suid-Afrika en dit kom met sy eie gewig, maar my fokus was op die verhouding. Dit was op twee mense wat anders reageer en hoe dit dan ook saam met hulle bly vir die res van die aand. Party is sterk in die oomblik, maar dan paranoïes vir die res van die aand. Die ander is aaklig, maar ná die aanvanklike skok weg is, weer rustig. Ons het onsself ook konstant herinner dat ons nie ’n groot verklaring wil maak oor Suid-Afrika of mans of vrouens nie, maar eerder wil fokus op hierdie twee spesifieke mense. Die konvensies van rolle en idees van menswees/manwees/vrouwees raak al hoe gryser in ons moderne samelewing – en is dit nie die beste deel van menswees nie. Om verras te word deur iemand se reaksie of om iemand te verras.

Vertel van die verfilmingsproses, snags in ’n Kaapstadse voorstad?

 

Dit was wild, maar so wonderlik met ons ongelooflike span. Ons het werklik die Kaap van Storms en al vier seisoene beleef. Dit was oor twee aande geskiet in Observatory, daar duskant Trillweg. Die eerste aand het ons minimale tyd gehad in die winkeltjie, toe is ons buitentoe met die suidoos wat wild waai en so teen drieuur het ’n wolkbreuk losgebars bo ons koppe. Die tweede aand wou ons net begin, toe ons hoor ons eenheidsbestuurder, Ebrahim Ismail, is oorlede. Hy was ’n pilaar in die filmgemeenskap en mens kon sien hoe dit die hele span raak. Die verfilming is gestaak sodat sy familie en vriende kon deelneem aan die janaza. ’n Week later het ons weer opgetel. Toe is dit vuurwarm en windstil, so die landskap lyk bietjie anders. ’n Misbank was ons redding, maar toe daag ons hoofkar nie op nie en die parkeerarea waar ons skiet, het ons nie laat weet hulle trokke begin al 04:00 arriveer nie, so ons moes karre leen, ons skietarea verander en elke 20 minute stop en skuif vir aflewerings van Blue Ribbon of Darling. ’n Vreemde tyd van hartseer en ook baie vreugde, maar alles was moontlik en mooi met die span wat ons vervaardiger, Aisha Williams, bymekaargesit het. Ek het besonder dankbaar weggestap.

Jy is bedrywig as skrywer, regisseur en toneelspeler. Wat verkies jy om te doen en waar kry jy tyd vir alles?

Ek het nie ’n gunsteling nie. Die lewe is kort. Ek wil alles probeer. My voorwaarde vir enige projek is dat ek geïnspireerd wil wees. Ek wil werk met ’n span of ’n teks of ’n regisseur wat my sal druk om dele van myself te ontdek wat ek nie ken. Met regie moet mens self daai spasie fasiliteer, maar dan maak ek seker ek word omring deur meesters in hul veld. Pierre de Villiers was my kinematograaf en volgens my het hy al die kamera bemeester. As skrywer, dink ek ek moet nog baie leer, en nog baie lees. As aktrise hou ek daarvan om werk ook te vind en voor te stel, maar die belangrikste is om veilig te voel in die hande van jou regisseur. En tydgewys – as ek opgewonde is oor iets, sal ek tyd máák daarvoor.