Verwikkelde verhouding tussen pa en seun in kortfilm ‘Genoeg’ verken

’n Pa en seun kom jare later weer voor mekaar te staan ná die verwerping van die seun weens sy seksualiteit. Die kortfilm Genoeg ondersoek ’n verwikkelde verhouding in ’n oomblik waarin die jong man teenoor sy verwese pa staan wat in die newelwêreld van Alzheimer se siekte verdwaal.

Buiten dat sy pa (Zane Meas) hom nie herken nie, verwar hy Marc (Ayden  Croy) met sy broer wat op ’n jong ouderdom oorlede is. Marc laat sy pa begaan, staan skielik voor die veroordelende pa as die geliefde seun. Die verlede en hede smelt ineen en uiteindelik word Marc in die proses ook werklik raakgesien, op die naam genoem.

Genoeg debuteer by die Silwerskermfees, wat van 19 tot 22 Augustus in Kaapstad aangebied word.

Vrae vir Roberto Kyle, regisseur en medeskrywer

“Genoeg” is ’n baie meer genuanseerde woord as wat mens dink. Hoe speel jy met die betekenis deur dit as ’n titel te gebruik?

 

Genoeg kan beteken “genoeg van iets”. Dit insinueer – vir my – dat iets tot ’n einde gekom het, dat ’n deur toe gemaak word, of dat daar van iets of iemand af weggeloop word. Dis iets wat van buite jouself gebeur… Selde draai ons die lens op onsself, check in op onsself, dis nie gereeld dat ons vir onsself vra, of eerder herinner dat ons genoeg is of kan wees nie.

Dit beeld ’n komplekse verhouding tussen ’n pa en seun uit, jy beskryf wel die film as ’n liefdesbrief aan jou pa. Hoe so?

 

Ek het my pa verloor aan kanker in my tweede jaar van universiteit, in 2013. Dit was gedurende my studentejare waarin ek baie meer van myself begin leer het, en ek myself meer begin aanvaar het vir wie ek is. Ek het altyd gevoel dat my pa my soort van resent het omdat ek nie die tipe seun was wat hy wou gehad het nie. Hy het dit nooit in soveel woorde vir my gesê nie, maar soms kon ek dit aanvoel. My pa was uiters manlik en emosioneel onversetlik – baie anders as ek. Soos ek ouer geword het, en meer besef het dat my pa in ’n ander tyd, in ander omstandighede grootgeword het, hoe meer empatie het ek gekry. Net omdat hy nie toegang tot ’n sekere taal gehad het nie – sekere maniere om homself uit te druk nie – beteken nie dat hy ’n minder van ’n pa was nie. Hierdie film verteenwoordig die sagte, veilige plek wat ek hoop ons (ek en my pa) vandag vir mekaar kon – sou – gewees het, as hy vandag nog geleef het. Dit bring ’n tipe hulde aan die mans wat nooit die geleentheid gekry het nie om aan hul eie seuns te sê: “My kind, jy is genoeg.”

Met die dat die pa aan Alzheimer se siekte ly, speel geheue ’n belangrike rol. Vertel meer, ook hoe jy dit tematies inspan, hoe die verwarring juis help om ’n brug tussen pa en seun te bou?

 

Geheue word eintlik baie as die film se “action mechanism” gebruik. Dit dryf die storie vorentoe. Die verwarring is ’n seerplek vir Marc, omdat dit eintlik dien as ’n reminder van wat hy, of wie hy nie vir sy pa kon wees nie. Tot die verwarring duidelikheid word – en daar ’n brug verskyn…

Jy verwys na die gebruik van ’n unieke kulturele en taalstem. Wei asseblief uit hieroor, veral ook ten opsigte van konsepte van identiteit en sogenaamde manlikheid.

 

 

Ek dink ’n mens se kultuur en ’n mens se taal is twee van die mees belangrikste kenmerke van ’n persoon se identiteit. Dit onderskei algemene ervaringe van unieke ervaringe. En dis wat mense wil sien. Iets uniek. Daar is unieke oomblikke in die film wat direk kommentaar lewer op hoe ons manlikheid beskou – hoe ons kleurling-wees beskou, hoe ons Afrikaans-wees beskou. Ek dink dis hoekom dit mense sal raak – want hulle sal baie van hulself in die film kan sien. Die mooi. En die lelik.

Buiten vir enkele kortstondige terugflitse is hierdie amper soos ’n tweespraak op die verhoog. Hoe het jy dit filmies aangepak en wat was die uitdagings vir die spelers?

 

Genoeg is die eerste teks wat ek geskryf het – ’n massiewe leerskool. Ek dink die rede hoekom dit grootliks kan lees en voorkom asof dit kan werk vir die verhoog (ek glo dit kan), is omdat ek by UCT se dramaskool was. Ek het ’n BA-honneurs in teater en toneelspel, en ek dink baie dat my training grootliks oorspoel in my kreatiewe proses. Ek dink diep en lank oor wat ek wil hê mense moet sien – en by dramaskool was dit altyd iets waarop regisseurs (die lektors) sou fokus, ons is geleer dat “betekenis” nie net deur woorde oorgedra hoef te word nie, maar ook deur hoe die prentjie op die verhoog uiteengesit word. Genoeg maak baie staat op die stil oomblikke. En daardie oomblikke moet steeds die storie vorentoe kan beweeg. Dit was vir my nogal ’n uitdaging, ek dink vir die akteurs ook. Die akteurs was awesome, BTW!

 

Jy is bekend as akteur (onder meer Arendsvlei en Binnelanders) en sanger. Is daar nog projekte wat jy agter die skerms wil aanpak?

 

Kyk, ek wil tans ALLES doen. Ek wil act, skryf én direct – en tans doen ek al drie. (Dis al wat ek nou hieroor kan sê…)

Enigiets anders wat jy met die kykers wil deel?

Ek dink daar is stigmas rondom man-wees waaroor ons nie naastenby genoeg praat nie. Daar word te min ruimte gegee aan die seuntjie-kind om homself te wees. In ’n wêreld waarin hulle stoei om soort van hierdie een spesifieke iets te wees, maak ons nie genoeg plek vir daardie kind om outentiek homself te wees nie. Ek wil graag hê dat kykers agterna moet sit en dink hoe hulle die wêreld van manlikheid navigeer en beskou. En dan moet hulle vir hulleself vra: “Maar hoekom?”