Kort dokumentêr ‘Pappa Kitsch’ ondersoek die egtheid van ’n Tretchikoff-skildery

Eg of nie eg nie. ’n Storie is dit beslis. Dit is presies hoekom Stefanus Nel uit die staanspoor sy ondersoek gedokumenteer het om die egtheid van ’n Tretchikoff-skildery vas te stel wat hy aanlyn gekoop het.

Die kort dokumentêre film Pappa Kitsch, wat einde Augustus by die kykNET Silwerskermfees in Kaapstad vertoon word, vertel die verhaal van Nel se aankoop van ’n olieverfskildery van Vladimir Tretchikoff, destyds bekend as die vader van kitsch, maar wie se werk nou vir miljoene rand verkoop

Deel van sy aankoop was ’n plakboek van die vroeëre tydperk van Tretchikoff se loopbaan. Nel, eertydse joernalis en inhoudskepper, se nuuskierigheid was geprikkel. En tesame met sy angstige worshond, Rocky, het hy ’n lang reis aangepak en onder andere by kenners aangeklop om die egtheid van die skildery te ondersoek. In die proses wys hy ook vir die kyker dat die konsep van iets se waarde veel wyer strek as blote rand en sent.

Vrae vir Stefanus Nel, mede-regisseur (en hoofkarakter)

Vertel hoe die idee posgevat het.

Ek het van dag een af geweet daar is ’n storie agter die boek en skildery. Hoe meer navorsing ek gedoen het, hoe meer vrae het ontstaan. Ek het baie aande wakker gelê en gewonder hoe die legkaart in mekaar pas. Ek het in ’n stadium vir Adam Heyns (Kaapstadse filmmaker en mede-regisseur) daarvan vertel, en hy was net so opgewonde om agter die kap van die byl te kom. Ons het gereeld bymekaargekom en die projek bespreek. Ek het alles gaan oplees oor Tretchikoff en sy storie het my net meer nuuskierig gemaak.

Is jy ietwat van ’n opgaarder? Want jou motorhuis lyk bietjie vol…

Ek het ’n Bidorbuy-probleem gehad en het allerhande goed gekoop wat ek nie regtig wou hê of nodig gehad het nie. Gelukkig was die skildery en boek deel daarvan. Ek het goed gekoop wat ek geglo het daar skuil ’n storie daar agter – soos ’n interessante medalje, foto’s, ag, enigiets wat op ’n stadium vir iemand iets beteken het. Ek het ’n sterk verbeelding so ek kan byvoorbeeld maklik dink hoe die jong langafstandatleet gevoel het toe hy sy silwer medalje ontvang het in 1935.

Dit is ook die eerste keer dat jy wêreld van dokumentêre film betree. Vertel meer van jou agtergrond en waar jou nuuskierige aard vandaan kom.

Ek is ’n joernalis wat oorgeskuif het na die reklamebedryf. Ek het nog altyd van stories en idees gehou. Ek is ook lief vir kuns en was nog altyd gefassineer deur Tretchikoff se lewe. Hy was ook ’n advertensieman en sy werk was nie net mooi nie – daar was altyd ’n konsep ingeweef.

Dit is nogal ’n waagstuk om ’n ware “ondersoek” as ’n film aan te pak, want mens weet nie hoe dit gaan ontvou nie. Hoe werk die beplanning? Wat was die grootste uitdaging?

Ons het geen idee gehad hoe die storie gaan ontvou nie. Die enigste beplanning wat ons kon doen, was om onderhoude met mense op te stel en te hoop dat hulle instem daartoe. Ons was gelukkig  dat alles net in plek geval het. Die grootste uitdaging was oor wat ons gaan doen as sleutelfigure nie instem om deel van die dokkie te wees nie.

 

Tretchikoff en Suid-Afrika (en Suid-Afrikaners) het nogal ’n geskiedenis. Wei uit daaroor.

Tretchikoff is nie met ope arms deur die kunswêreld ontvang nie. Inteendeel hulle het dit vir hom moeilik gemaak om selfs net sy kuns uit te stal. Die ironie is, hy het van ’n plek gekom – Singapoer – waar hy beroemd was en gereeld in die koerante verskyn het. Sy werk is wyd geloof. Hy moes eintlik van voor af begin in Suid-Afrika. Die kunswêreld en die publiek se mening oor Tretchikoff het hemelsbreed verskil. Die kunskenners het sy werk gekritiseer en afgebreek terwyl die publiek tou gestaan het om ’n Tretchikoff-afdruk te bekom.

Vertel van die ervaring oor die samewerking met die mense van die kunswêreld. Is dit maklik vir sommer enigiemand om die waarde van ’n skildery/erfstuk vas te stel wat iewers staan en stof vergaar.

Kunskenners was baie huiwerig om ’n besluit te neem oor of die skildery eg is of nie. Dit is verstaanbaar, want dis hul reputasie wat op die spel is – indien ’n skildery verkoop word en dit kom later uit dit is nie eg nie kan dit in ’n helse storie ontaard. Dit het al gebeur, so ek dink hulle bly maar versigtig.

Voer jy enigiets anders in die mou?

Ek is besig om te skaaf aan ’n idee vir ’n dokumentêr wat ek hopelik volgende jaar sal kan inskryf vir die Silwerskermfees.