



Kort dokkie ‘Druk dit!’ belig armdruk en die hegte gemeenskap betrokke by dié sport
Almiskie is dit nie so algemeen bekend dat armdruk ’n internasionale sport is nie, maar dit verg inderdaad harde werk en goeie tegniek, wat jy beslis nie saans laat in ’n kroeg gaan leer nie…
Die kort dokumentêre prent Druk dit! lig die sluier en stel die kykers bekend aan die armdruk-gemeenskap. Die fokus is ook veral op Terence Opperman, bekend as “The Highlander”, ’n Suid-Afrikaanse kampioen wat sy teenstanders links en regs laat les opsê.
Druk dit! debuteer by die kykNET Silwerskermfees, wat van 19 tot 22 Augustus in Kaapstad aangebied word, en is nie net ’n verhaal oor sport nie, maar oor ’n man wat uitdagings moes trotseer en ’n uitlaatklep in armdruk gevind het.
Vrae vir Juandrè de Jager en Lara Lourens, mede-regisseurs
Hoekom ’n rolprent oor armdruk? (En dit van twee vroue…) Waar kom julle belangstelling in en/of betrokkenheid by armdruk vandaan?
Juandrè (J): Ek was van hoërskool af deel van die armdrukgemeenskap. Ek het self deelgeneem en is ook ’n gekwalifiseerde skeidsregter. Dit is ook waar die droom begin het om iets oor armdruk te vervaardig.
Lara (L): Ek het geen agtergrond in armdruk nie – en nadat ek dit op stel probeer het, ook duidelik geen toekoms daarin nie… Juandrè het as ’n tweedejaar-student by PALI by my klas gehad waar ek hulle geleer het hoe om ’n voorlegging bymekaar te sit. Sy het vir haar praktiese taak begin werk aan die konsep vir Druk dit! en uiteindelik vir my en Kaz McFadden (ons lynvervaardiger) in haar finale jaar by PALI genader om die konsep aan die kykNET Silwerskermfees voor te lê. Dit was ’n vreeslike interessante konsep, so ons het natuurlik ja gesê.
Armdruk is inderdaad ’n sport en nie net ’n speletjie om laataand in die kroeg te toets wie die sterkste is nie. Wei asb. uit.
J: Armdruk is ’n nasionale en internasionale sport. Daar is baie meer oefening, tegniek en krag betrokke as wat buitestanders dink. Inteendeel, dit kan baie gevaarlik raak as ’n mens laataand onder die invloed kyk wie is die sterkste.
L: Toe Juandrè oorspronklik met hierdie storie vorendag gekom het, het ek nie ’n benul gehad dat armdruk so ’n groot sport is en so baie aanhangers het nie. Om saam met Juandrè op hierdie avontuur te gaan, het ’n hele nuwe wêreld vir my oopgemaak.
Daar is weliswaar nie baie armdrukkers in Suid-Afrika nie, blyk dit. Vertel meer van die gemeenskap en Terence Opperman van eMalahleni se verhaal.
J: Die armdruk-gemeenskap is een soos min. Hulle lyk baie intimiderend, maar hulle (en Terence) is gentle giants. Hulle is altyd bereid om te help in die gemeenskap en sommer by ’n kompetisie ook. Terence is die sterkste armdrukker in die Suidelike Halfrond en nommer een, links en regs. Bedags is hy ’n aanlegbestuurder by ’n myn. Hy is ook ’n pa en ’n man met ’n baie sagte hart.
L: Ek het geleer dat armdruk soveel meer as ’n sport is – dit is ’n gemeenskap waar enigiemand met ope arms verwelkom word, sout-van-die-aarde-mense (wat nie doekies omdraai nie) met ’n buitengewone belangstelling in iets wat regtig vreeslik opwindend is. Terence stel kykers bekend aan hierdie sport en sy mense. Saam met Terence het ons sy wêreld verken en ons hoop kykers vind dit net so fassinerend soos ons.
Is dit ’n moeilike sport om te verfilm, want die aksie gebeur eintlik in ’n baie klein ruimte?
J: Dit was bietjie uitdagend omdat daar baie is om in ag te neem en die feit dat al die aksie baie vinnig gebeur.
L: Hierdie is juis die rede hoekom ek absoluut versot is op dokumentêre films. Ek kom uit die wêreld van teksgedrewe films en reekse, maar sedert ek verlede jaar vir die eerste keer ’n dokumentêr (Verander, vir die Silwerskermfees) gemaak het, het ek geheel en al my hart daarop verloor. Jy het ander tipe uitdagings – jy werk met regte mense wat jy op hul gemak moet plaas sodat hulle veilig genoeg voel om hul stories met die wêreld te deel. Jy hoor fassinerende stories, maar dit is nie soos fiksie waar jy net weer kan verfilm as iets skeefloop nie. As die oomblik verby is, is dit verby. Jy kan nie vir iemand vra om weer ’n traan te pink nie. Dieselfde geld sport – tydens ’n armdruk-wedstryd het jy een geleentheid om ’n oomblik op kamera vas te lê, dit het baie fokus, aandag en rondhardloop geverg. Dit was wel ’n fantastiese ervaring en een wat my nog vir jare gaan laat glimlag.
Vertel meer van die ander temas wat aangeroer word.
J: Mense moet geleenthede aangryp: Al bly Terence in ’n land waar professionele armdruk relatief onderontwikkel en onderbefonds is, slaag hy steeds daarin om op internasionale vlak mee te ding. Die dokkie belig ook ons vooropgestelde idees oor mense. Ons verken nie net die man met die ysterarm se sportloopbaan nie, maar wys ook wie hy werklik as mens is. En dan die verrassing om ’n gemeenskap op ’n onverwagse plek te vind. Hoewel dit ’n uiters mededingende sport is, het Terence ook ’n gemeenskap gevind met ’n hegte netwerk van deelnemers, ondersteuners en vriende wat mekaar aanmoedig.
L: Terence het verskeie uitdagings en terugslae te bowe gekom, in die proses het hy gegroei en is ’n inspirasie vir ander. Die dokkie handel oor meer as ’n vreemde sport – dit gaan ook oor familie, oorwinning, gemeenskap en die strewe na ’n beter toekoms.