
Rian van Heerden en Landmyn van die groot wenners by die Silwerskermtoekennings vir Film en TV
Die televisie-aanbieder Rian van Heerden is Saterdagaand 22 Augustus drie keer na die verhoog geroep om ’n Silwerskermbeeldjie te ontvang, terwyl die speelfilm Landmyn skoonskip gemaak het in die vier gesogte kategorieë waarin dit met twee ander speelfilms meegeding het.
Die glansryke kykNET Silwerskermtoekennings vir Film en TV in die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum was ’n ware viering van die talent van akteurs, TV-aanbieders en filmmakers in die Afrikaanse film- en televisiebedryf. Die akteur Ivan Abrahams en die komedie-genie Willie Esterhuizen is ook vereer vir hul lewensbydraes tot die vermaaklikheidsbedryf. Die legendariese filmmaker Koos Roets het Saterdagoggend sy eerbewys by The Bay Hotel ontvang.
Waldimar Pelser, direkteur vir Premium-kanale by MultiChoice, ’n Canal+-maatskappy, sê dit is nou belangriker as ooit om erkenning te gee aan die uitblinkers in ’n bedryf wat daagliks kykers se lewens verryk, hulle uitdaag, hulle in kontak hou met die wêreld om hulle en hulle bowenal vermaak. “Ek staan jaarliks verstom oor die kollektiewe kreatiewe krag wat in die Afrikaanse bedryf bestaan en die uiteenlopende maniere waarop dit tot uiting kom.”
Volgens Pelser sal kykNET op die kleinskerm voortgaan om gehalte-programme te bied – van aktualiteit- en realiteitsprogramme tot sepies, drama en komedie. “Waar Nico Scheepers verlede jaar uitgeblink het met sy gruwelprent Hen gaan Landmyn op ’n gans ander manier ’n opskudding veroorsaak. Dit is ’n verhoudingsdrama waarin hy en die uitmuntende spelers bewys hoe onthutsend ’n klein gebaar kan wees.”
WENNERS IN DIE TELEVISIE-KATEGORIEË:
Beste hoofspeler in ’n komedie
Albert Pretorius (Flip) – Die kantoor
Beste byspeler in ’n komedie
Schalk Bezuidenhout (Tjaart) – Die kantoor
Beste byspeler in ’n telenovela of sepie
Gretchen Ramsden (Patty Paulsen) – Skemergrond
Beste nuweling in ’n telenovela of sepie
Izette Blignaut (Petro) – Binnelanders
Beste akteur in ’n telenovela of sepie
Germandt Geldenhuys (Louis) – Binnelanders
Beste aktrise in ’n telenovela of sepie
Sandi Schultz (Zelda Joubert) – Diepe waters
Beste akteur in ’n drama
Albert Pretorius (Gustaff Fouché) – Niggies
Beste aktrise in ’n drama
Rolanda Marais (Adri Joubert) – Die nuusmakers
Beste manlike byspeler in ’n drama
Ian Roberts (Jakkals) – Appels en tee
Beste vroulike byspeler in ’n drama
Roeline Daneel (Maks Fouché) – Niggies
Beste aanbieder in ’n leefstylprogram
Hannes van Wyk – Kwêla
Beste aanbieder in ’n vermaaklikheidsprogram
Rian van Heerden – Wie word ’n miljoenêr
Beste aanbieder in ’n realiteitsprogram
Reandi Grey – Boer soek ’n vrou
Beste aanbieder in ’n gesels- of aktualiteitsprogram
Rian van Heerden – Laataand by Rian
Beste aanbieder in ’n dokumentêre program
Rian van Heerden – Schuster
Beste ensemble-aanbiederspan
Hamilton Wessels, Rika Calitz, Breyton Paulse, Bakkies Botha, Jonathan Mokuena, Jannie du Plessis, Rikus de Beer, Tommy Dickson (Chef Vaatjie) – Toks en Tjops
WENNERS IN VAN DIE KATEGORIEË VIR SPEELFILMS:
Beste vroulike byspeler
Nicole Holm – Landmyn
Beste akteur
Ben Albertyn – Landmyn
Beste aktrise
Anna-Mart van der Merwe – Landmyn
Beste speelfilm
Landmyn
Die kykNET Silwerskermtoekennings vir Film en TV word op Sondag 23 Augustus om 19:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.