Boodskappe van die borge

Waldimar Pelser

Beste feesganger

Film is weer die fondament van die fees – ’n hoëgehalte-aanbod wat gaan streel, skok, skaterlag uitlok en met fyn tegniek met die binneste gaan werk. Die doel – om geen kyker onaangeraak te laat nie; om nooit te verveel nie; om die grense te toets sonder om te vervreem; en om saam te eksperimenteer.

Soos wat laas jaar hier aangekondig is, maak die kykNET Silwerskermfees vanjaar die deure nog groter oop vir onafhanklike films om ook in kompetisie te wees, want dit is ’n beter weerspieëling van wat aan’t gebeur is in die groter filmbedryf. Dit is ’n bedryf wat groot verandering ondergaan – en ook daaroor praat ons hierdie week in Kampsbaai, want die toekoms gaan gedeeltelik afhang van wat in hierdie strand-sjiek hotel gebeur.

Ons toekoms gaan daarvan afhang om twee dinge reg te kry, benewens natuurlik finansiering – eerstens om temas wat naby aan kykers se leefwêreld is op nuwe maniere te deurgrond; tweedens om hul wêreld oop te blaas met heel nuwe maniere van kyk en van vertel. G’n mens moet immers ooit uit ’n filmteater stap en presies die mens wees wat 90 minute gelede kom sit het nie.

Gespe jou ook vas vir kortfilms waaruit nuwe stemme gebore gaan word, en vir ’n blik op dit wat in die kykNET-TV-wêreld gebeur.

Film en TV is ons almal se sielskos – en vir tallose gelukkiges ook ’n manier om die pot aan die kook te hou.

Dankie dat jy hier is om saam te kyk, op te vang, en te droom oor wat volgende behoort te kom.

Waldimar

Geordin Hill-Lewis

Ons is baie opgewonde om die kykNET Silwerskermfees weer in Kampsbaai te verwelkom vir die 2026-aanbieding van hierdie Suid-Afrikaanse vlagskip-rolprentfees. Die Silwerskermfees doen die afgelope 13 jaar ongelooflike werk om Afrikaanse produksies ten toon te stel en te ontwikkel, en ek kan nie wag om te sien wat vanjaar se program inhou nie.

Elke jaar word ons by die Silwerskermfees trakteer op ’n ongelooflike verskeidenheid stories – hetsy in speelfilms, kortfilms, dokumentêre of TV-reekse – en gehore word telkens herinner dat die Suid-Afrikaanse rolprentbedryf perdfris en gesond is.

As Suid-Afrika se onbetwiste hoofstad van rolprent en televisie is die Stad Kaapstad trots daarop om die fees te ondersteun, en ons waardeer die bydrae wat dit tot hierdie belangrike sektor van ons plaaslike ekonomie lewer. Om nie eens te praat van die platform wat dit bied aan opwindende jong talent wat hul merk in die bedryf wil maak nie.

Ek wens almal wat die fees bywoon, asook almal wie se werk daar vertoon sal word, ’n wonderlike Silwerskermfees 2026 toe.

– Geordin Hill-Lewis, Burgemeester van Kaapstad

Simon Butler

Stories wat Suid-Afrikaners verbind

By Vuma glo ons daaraan om gewone mense te bemagtig om buitengewone dinge te doen. Daarom is ons trots om die kykNET Silwerskermfees te borg – ’n fees wat merkwaardige Suid-Afrikaanse storievertellers vier en ondersteun.

As die land se voorste veselnetwerkverskaffer weet ons dat selfs die beste stories ‘n betroubare internetverbinding nodig het om ’n gehoor te bereik. Ons vinnige en robuuste konnektiwiteit stel plaaslike kunstenaars in staat om gehore dwarsoor die wêreld te bereik.

Met meer as ’n 1 000 skole wat gratis hoëspoed-internet ontvang, jeugprogramme wat ondersteun word en onderbediende gebiede wat verbind word, verseker Vuma dat geen Suid-Afrikaner agtergelaat word nie.

Baie geluk aan die kykNET Silwerskermfees, wat die vuur van Suid-Afrikaanse stories lewend hou.

– Simon Butler, Hoof- Kommersiële Beampte: Vumatel

Astrid de Vos

Die internasionale en plaaslike filmbedryf, asook kykNET, het die afgelope paar jaar ingrypende veranderinge ondergaan. So ook die Afrikaanse taallandskap. Uitdagings wat geleenthede en befondsing betref, bly ʼn werklikheid. Maar hier is ons nogtans weer ʼn keer op pad na Kampsbaai, uitgehonger vir wat die veertiende Silwerskermfees gaan oplewer. Al is dit ’n klein fees vir ’n klein taal, is dit ongetwyfeld die spil waarom Afrikaanse rolprentkuns draai en die plek waar ons sterre op hulle helderste skitter. Dagbreek Trust is daarom dankbaar vir hierdie wonderlik intieme juweel van ’n fees en trots om ’n bydrae te kan maak.

– Astrid de Vos, Dagbreek Trust: Uitvoerende trustee

Ms. Onke Dumeko

Veels geluk aan die kykNET Silwerskermfees met 14 jaar van uitnemendheid! Die Nasionale Rolprent- en Video-stigting (NFVF) is trots om ’n fees te ondersteun wat die beste van die Suid-Afrikaanse rolprentbedryf vier en help vorm. Oor die jare het die fees gegroei tot ’n onontbeerlike platform vir Afrikaanse produksies. Die asemrowende verfilmingsmoontlikhede wat ons land bied, word hier saam met die diepte en intensiteit van Afrikaanse rolprente ten toon gestel. Die kykNET Silwerskermfees is een van die bes georganiseerde filmfeeste, en die program word altyd met sorg en omsigtigheid saamgestel. Dit maak die fees ’n plesier vir diverse gehore – ook vir kykers wat nie Afrikaans praat of verstaan nie.

Ons is verheug om weer as borg by die fees betrokke te wees, aangesien dit ’n integrale deel van ons mandaat is om die multikulturele oudiovisuele sektor in die land te ondersteun en te help groei.

Baie geluk aan al die filmmakers wie se produksies by die fees vertoon sal word. Ons wens die organiseerders en feesgangers ’n suksesvolle fees en ’n verrykende ervaring in die pragtige Kampsbaai toe.

– Me. Onke Dumeko, NFVF: Waarnemende hoof- uitvoerende beampte

Borge

Donateurs

Vennote

Aktiveringsborg