Baber speel af in ’n
unieke barbierswinkel

Soms is dit ’n tameletjie vir filmmakers om die perfekte plek te kry om hul films te skiet, maar die vervaardigers van die Silwerskermkortfilm Baber het met ’n bietjie geluk, ná ’n lang soektog, presies gekry wat hulle wou hê.  

Dié grieselrige storie speel af in ’n makabere barbierswinkel waar ’n eienaardige barbier en sy koelkop dogter van plan is om meer as net die hare te laat waai.

Nanette van der Walt, wat die film saam met Jerome Overmeyer vervaardig het, vertel dat hulle by barbierswinkel ná barbierswinkel in die Kaap ingeloer het, maar net nie een kon vind wat geskik was om reg te laat geskied aan hul storie nie. Om dié dilemma te bespreek het hulle ’n koffie-afspraak met Barber se kinematograaf, Justin Youens, gemaak. Daar was egter beurtkrag by die reeds volgepakte koffiewinkel en hulle moes noodgewonge na ’n nabye sapwinkel skuif. Toe dit tyd was om die rekening op te lui, het die kelnerin vir Nanette eenkant toe geroep en om verskoning gevra dat sy ingeluister het op hul gesprek, maar sy het moontlik ’n goeie wenk vir hulle: Daar is ’n barbierswinkel in dieselfde straat wat ’n kykie werd is.

Dié winkel was net wat hulle in gedagte gehad het. Boonop is dit die oudste winkel van sy soort in die stad. Alfreda Hairdressers, ook bekend as “Seven Brothers”, bestaan al vir meer as 80 jaar. Alhoewel die eienaars hoegenaamd nie so vreemd soos Kevin Smith se karakter in Baber is nie, was dié ouwêreldse milieu presies wat die storie gevra het.

Baber is Donderdag 24 Maart om 10:30 op die Silwerskermfeesprogram.