Kom verkoop jou idee vir ’n fliek of TV by die kykNET Silwerskerm Silwermark

Het jy ’n storie wat jy dink ’n dramareeks kan word? Is daar ’n leefstyl-, realiteits- of dokumentêre reeks wat jy glo gemaak moet word? Dalk het jy ’n fliek wat wag om te gebeur. Wel, nou is jou kans om van daardie droom ’n werklikheid te maak.

Einde Augustus is dit tyd vir die jaarlikse kykNET Silwerskermfees in Kampsbaai, Kaapstad. Kortfilms, speelfilms en dokumentêre is, soos gewoonlik, op die program, en vir vier dae draai alles om fantastiese inhoud vir fliekteaters, televisie én stroomdienste.

Maar die fokus is nie net op inhoud wat reeds vervaardig is nie. kykNET se opdraggewende vervaardigers is ook op soek na sterk nuwe konsepte. En dit is waar alle kykers, vervaardigers en ander filmmakers met ’n opwindende idee welkom is om by hierdie partytjie aan te sluit.

Hoe werk dit? Maak ’n oorspronklike, kreatiewe voorstel in enige van die volgende kategorieë:

  • kykNET: Drama
  • kykNET: Realiteit en vermaak
  • kykNET: Dokumentêr
  • Afrikaanse speelfilm
  • Showmax: Enige genre – hoe meer uit die boks hoe beter.
  • kykNET: Adverteerder-geborgde programme (AFP: Advertiser Funded Programmes). Met ander woorde, programme waarvan ’n borg die vervaardigingskoste dek.

Aansoeke open Maandag 6 Mei 2024 en sluit op 7 Junie 2024. Ná die sluiting sal al die aansoeke deur opdraggewende vervaardigers van M-Net se onderskeie kanale geëvalueer word. Die inskrywers van die topvyfkonsepte in elke kategorie sal dan genooi word om by die Silwerskermfees hul konsep in persoon aan ’n paneel van besluitnemers voor te lê.

Wie weet? Dalk is jou storie reg om verkoop te word.

Om in te skryf, asook vir die reëls en riglyne, skryf in.