Boodskappe van die borge

Waldimar Pelser

Beste feesganger,

Dertien ís toe ’n gelukkige nommer – oftewel, ons máák dit vanjaar so met hierdie dertiende viering van wat dit beteken om skeppend te werk in Afrikaans.

Weer is film die fondament van die fees – ’n hoëgehalte-aanbod wat gaan streel, skok, skaterlag uitlok en met fyn tegniek met die binneste gaan werk. Die doel – om geen kyker onaangeraak te laat nie; om nooit te verveel nie; om die grense te toets sonder om te vervreem; en om saam te eksperimenteer.

Soos wat laas jaar hier aangekondig is, maak die kykNET Silwerskermfees vanjaar die deure nog groter oop vir onafhanklike films om ook in kompetisie te wees, want dit is ’n beter weerspieëling van wat aan’t gebeur is in die groter filmbedryf. Dit is ’n bedryf wat groot verandering ondergaan – en ook daaroor praat ons hierdie week in Kampsbaai, want die toekoms gaan gedeeltelik afhang van wat in hierdie strand-sjiek hotel gebeur.

Ons toekoms gaan daarvan afhang om twee dinge reg te kry, benewens natuurlik finansiering – eerstens om temas wat naby aan kykers se leefwêreld is op nuwe maniere te deurgrond; tweedens om hul wêreld oop te blaas met heel nuwe maniere van kyk en van vertel. G’n mens moet immers ooit uit ’n filmteater stap en presies die mens wees wat 90 minute gelede kom sit het nie.

Gespe jou ook vas vir kortfilms waaruit nuwe stemme gebore gaan word, en vir ’n blik op dit wat in die kykNET-TV-wêreld gebeur.

Film en TV is ons almal se sielskos – en vir tallose gelukkiges ook ’n manier om die pot aan die kook te hou.

Dankie dat jy hier is om saam te kyk, op te vang, en te droom oor wat volgende behoort te kom.

– Waldimar Pelser, M-Net-kanaaldirekteur: Premium-kanale

Geordin Hill-Lewis

Dis weer tyd vir Kaapstad se gunstelingfilmfees, en ek sien uit daarna om al ons besoekers te verwelkom by die 2025 kykNET Silwerskermfees!

Elke jaar kry die Silwerskermfees dit reg om hulself te oortref en vir Kapenaars ’n ongelooflike ervaring te bied, wat nie net die talente van ons gevestigde en bekende filmmakers vir die wêreld wys nie, maar ook die sterre van môre ’n kans gee om die oog te vang. Dis ’n geleentheid vir nuwe stemme in die bedryf om te leer en te groei, en vir Kaapstad se fliekvlooie om die beste van ons plaaslike produksies te sien.

Ek is dankbaar vir alles wat die Silwerskermfees vir Kaapstad se rolprentbedryf doen – dit is danksy bydraes soos díe dat Kaapstad vandag bekend is as een van die voorste filmstede in die wêreld.

Geniet die fees. Ek het geen twyfel dat 2025 die beste een nóg gaan wees nie.

– Geordin Hill-Lewis, Burgemeester van Kaapstad

Makgose Mabaso

SA se #1-veselnetwerkverskaffer verbind mense, gemeenskappe en bedrywe.

Selfs die beste fliek kan deur onbetroubare internet gekelder word, en daarom is Suid-Afrika se #1-veselnetwerkverskaffer ’n trotse vennoot van kykNET se Silwerskermfees – ’n viering van Suid-Afrikaanse storievertelkuns op sy beste.

Openserve voorsien naatlose, blitsige konnektiwiteit aan ’n verskeidenheid gebruikers, maar lei nie in die mark met snelheid alleen nie. Netwerkbetroubaarheid, dienslewering, kliënte-tevredenheid en werkverrigting is topprioriteite.

Van huise tot besighede, stede tot klein dorpies – ons robuuste infrastruktuur bemagtig filmmakers, skep kreatiwiteit en sorg dat plaaslike stories wyd en syd op skerms te sien is.

Hierdie vennootskap vier die rol wat breëbandkonnektiwiteit daarin speel om nuwe lewe in ons nasie se stories te blaas.

– Makgosi Mabaso, Hoof Operasionele Beampte: Openserve

Astrid de Vos

Dagbreek Trust kan nie wag om te sien wat ons plaaslike storievertellers en filmmakers by kykNET se dertiende Silwerskermfees gaan aanbied nie. Ons weet dit verg meer as hart en siel om iemand se waarheid, iemand se droom in beeld vas te vang op so ʼn wyse dat dit ander inspireer, ontroer en uitdaag. Dankie tog vir die Silwerskermfees wat help om dit moontlik te maak. Ons is trots op almal – kykNET se span, filmmakers in alle gedaantes, sterre, jonk en oud – wat aanhou om hulle talente aan hierdie kosbare kunsvorm te wy. Moenie ophou om ons te vermaak, te ontstig, en in verwondering te laat nie.

– Astrid de Vos, Uitvoerende Direkteur: Dagbreek Trust

Onke Dumeko

Die National Film and Video Foundation (NFVF) is verheug om een van die borge en vennote van hierdie unieke Afrikaanse filmfees te wees. Die Silwerskermfees het ’n uitstekende platform gevestig om plaaslike talent en ongelooflike verfilmingsplekke in Suid-Afrika ten toon te stel, terwyl dit meesterklasse en werkswinkels van ongeëwenaarde gehalte aanbied, wat ook van die onderbediende gemeenskappe in die Wes-Kaap bereik. As die NFVF gee dit ons groot plesier om saam te werk met hierdie fees wat goed belyn is met ons mandaat om die diverse oudiovisuele sektor in die land te laat groei en te ondersteun. Aan al die fliekvlooie wat vanjaar se fees gaan bywoon: Geniet die room van Afrikaanse filmproduksies!

– Onke Dumeko, Bedryfshoof, NFVF

Borge

Donateurs

Vennote