10 interessante feite oor Aan/Af

In die kortfilm Aan/Af leer ’n Afrikaanssprekende man boekdele oor himself wanneer hy sy bejaarde, Duitse buurvrou  in ’n tyd van nood help, ondanks die taalgrens tussen hulle.

Aan/Af première by die Silwerskermfees op Vrydag 25 Maart om 15:00. Hier is solank tien heerlike agter-die-skerms-feite oor dié moetsienfilm:

  1. Die storie in Aan/Af is losweg gegrond op ’n ware verhaal wat hom in 2017 in Duitsland afgespeel het, toe Christiaan Boonzaier, Aan/Af se draaiboekskrywer, in Leipzig studeer het. Die fliek speel egter nie in enige spesifieke stad of land af nie.
  2. Boonzaier het nie in 2018 of 2019 die kortprent-idee vir die Silwerskermfees ingeskryf nie omdat hy gedink het dit sou afgekeur word as gevolg van die feit dat een van die twee karakters slegs Duits praat.
  3. Die legendariese aktrise Aletta Bezuidenhout, wat teenoor die akteur Marlo Minnaar in die kortprent speel, vertolk dié Duitse karakter, hoewel sy nie Duits praat nie. Boonzaier het haar gehelp om die Duitse teks te leer.
  4. Toe Bezuidenhout die rol aangebied is, was haar eerste reaksie: “Jy weet ek is verskriklik oud!?” Boonzaier het haar skertsend meegedeel dat sy nie eintlik oud genoeg is nie: Hy het die karakter oorspronklik as iemand in haar 80’s verbeeld – Bezuidenhout is in haar 70’s.
  5. Boonzaier het die kortprent-idee uiteindelik in 2020 letterlik ’n minuut voor die sperdatum om middernag ingeskryf nadat hy by die Toyota US Woordfees deur Minnaar se spel in die teaterstuk Hoe change hulle oorrompel is. Minnaar speel juis daarom in die fliek.
  6. Die eerste keer toe Bezuidenhout en Minnaar ontmoet het en die teks saam met Boonzaier en Jurg Slabbert, Aan/Af se regisseur, deurgelees het, het Bezuidenhout in ’n improvisasie-oomblik ’n toiletrol na Minnaar se kop gegooi. Minnaar is nie beseer nie – en die toiletrol-oomblik is nie in die fliek ingesluit nie.
  7. Die kortprent is oor ’n tydperk van drie dae in twee woonstelle in ’n woonstelblok in Vredehoek, Kaapstad, verfilm. Die storielyn speel in die diepnag af, maar verfilming kon weens Covid-maatreëls slegs tussen 07:00 en 19:00 plaasvind. Al die vensters in die woonstelle, ook die ingang van die woonstelblok, is daarom met ’n dik, swart materiaal, bekend as blackout, bedek.
  8. Pascale Neuschäfer, Aan/Af se kinematograaf, is die enigste vrouekinematograaf wat een van die 17 nuwe kortprente vir vanjaar se Silwerskermfees geskiet het. Ander vroue wat ’n leeue-aandeel in Aan/Af het, is Mia Cilliers en Katharina Stehle (vervaardigers), Jackie Ruth Murray (produksiekoördineer), Elana Steyn (redigeerder) en Maddy Elizabeth Bezuidenhout (grimering).
  9. ’n Rookmasjien is tydens verfilming per ongeluk op sy vinnigste stelling aangeskakel – wat een van die twee woonstelle binne sekondes van hoek tot kant met rook gevul het. Die rolprentspan se oë traan steeds.
  10. ’n Goudvis wat ook in die fliek te sien is, is grappenderwys met verwysing na die akteurs “Aletta Minnaar” gedoop. Dié Aletta is ná die fliek se verfilming deur die akteur De Klerk Oelofse aangeneem.

Meer oor die film hier