2022 se Silwerskermfeesfilms beïndruk en bekoor oraloor

Tydens die unieke hibriede 10de kykNET Silwerskermfees in Maart 2022 was kritici en feesgangers dit eens dat vanjaar se vars speelfilms én kortfilms divers en uit die boonste rakke was. Sedertdien het van dié films op ander plaaslike videovermaakplatforms fliekvlooie se asems weggeslaan en ook ’n eg-Suid-Afrikaanse stempel op die wêreldverhoog afgedruk.

Die jongste nuus:

  • Die Silwerskermfees-speelfilm Stiekyt is uitgenooi om in Januarie 2023 by die internasionale rolprentfees in Rotterdam mee te ding
  • Aan/Af het op 11 Desember by die 11de internasionale kortfilmfees in Moembai die toekenning vir Beste Rolprent verower.
  • Bergie het meer as 8500 inskrywings uitgestof om die speellys van slegs 78 films by die gesogste kortfilmfees, die Clermont-Ferrand-fees in Frankryk, te haal. Dit vind einde Januarie plaas en staan bekend as die “Cannes van kortfilms”.

Dié verwikkelinge bewys weereens dat Suid-Afrikaanse filmmakers murg in hul storiepype het. Ook hoe die Silwerskermfees dikwels die wegspringblok vir veel wyer erkenning is.

Om die Silwerskermfees-klas van 2022 se uitsonderlike prestasies veelkantig te skets, moet mens wel die horlosiewyser terugdraai na die onstuimige tye wat die filmbedryf voor die 10de Silwerskermfees beleef het. As gevolg van talle inperking-slaggate, het die Covid-19-pandemie se GPS noodgedwonge sommige speelfilms op ’n alternatiewe verspreidingsroete gestuur.

Vir die eerste keer in die geskiedenis van die Silwerskermfees, het van die speelfims wat deur M-Net en kykNET befonds is hul wêreld- en/of plaaslike premiéres voor die fees geniet – bloot omdat die feesdatum uitgestel moes word. Daarom het daar reeds teen die tyd wat die fees uiteindelik gerealiseer het ’n klomp beeldjies in die vertoonkaste van ’n handjievol speelfilms gepryk. Dié blink versameling behoort aan Suid-Afrika se amptelike inskrywing vir die Oscars, Barakat, die ekologiese gruwelfliek en Silwerskermfees Beste Speelfilm-wenner, Gaia, die romkom Kaalgat Karel en die aksiefliek Indemnity.

Onder die vollengte rolprente wat steeds hul eerste treë by die Silwerskermfees gegee het, en later hul weg kon baan na aanlyn platforms en internasionale feeste, tel Stiekyt. Die flambojante fopdossers van dié psigologiese riller het in November hul vere reggeskud vir die glansryke PÖF Black Nights-rolprentfees in Talinn, Estonië. Voorwaar ’n groot eer, want saam met die roemryke groot filmfeeste in Cannes, Berlyn, Warskou en Venesië, vorm dit deel van die wêreld se Top-15-filmkompetisies.

Ná Estonië, is Stiekyt Indië toe vir die IFFK-filmfees wat tussen 9 en 16 Desember in Kerala gehou word.

Maar dis nie net die Silwerskermfees-speelfilms wat oor kontinente heen rondrits om trots die Suid-Afrikaanse vlag te laat wapper nie!

Die alombekende fliekresensent Leon van Nierop het na afloop van die Silwerskermfees in Maart die spyker op die kop geslaan toe hy op Litnet beskryf het hoe vanjaar se 17 puik, grensverskuiwende kortfilms “gehore se stoele laat brand het.” Die internasionale kritici stem saam.

Van die kortfilm-uitblinkers wat alreeds buitelandse feesgehore laat regop sit het en oraloor toekennings ingeryg het, is (in alfabetiese volgorde) Aan/Af, Bergie, Leemtes en leegheid, My Beskermer, Net ons en Twintig tone in ’n hangkas.

  • Die lys van lande waarin die sielkundige spanningsdrama Aan/Af se ongewone plot al fliekfeeste-besoekers se harsings geknoop het, is lank en indrukwekkend: Amerika; Australië; Ciprus; Duitsland; Indië, Nigerië, Oostenryk; Spanjé; Swede. Én die beoordelaars was hoogs beïndruk met die kinkels in dié Kaapse kortfliek se kabels. Aan/Af het al ’n somtotaal van 15 pryse en ’n bykomende 16 benoemings en eervolle vermeldings los gewoel.

Buiten die film se jongste Beste Rolprent-prestasie in Moembai, is dit in dieselfde kategorie by die volgende feeste benoem: die Abuja-rolprentfees in Nigerië; die Màt Settimana Salute Mentale-rolprentfees in Modena, Italië, die Queensworld-rolprentfees in New York; die internasionale Treasure Coast-filmfees in Florida.

Marlo Minnaar, die 10de kykNET Silwerskermfees se Beste Akteur-wenner, spog nou ook met twee internasionale pryse en ’n eervolle vermelding op sy kerfstok en sy medester, die legendariese aktrise Aletta Bezuidenhout, het drie soortgelyke benoemings en ’n eervolle vermelding ontvang. Maar Aan/Af se spul internasionale eerbewyse loof ook uitmuntende werk agter die skerms; trouens, elke lid van die span, insluitende die vervaardigers, regisseur, draaiboekskrywer, klankontwerper, klanktegnikus, kinematograaf en kostuumontwerper kon reeds ’n prys, vermelding of benoeming by hul CV’s voeg.      

  • Benewens Bergie se besonderse groen lig vir die Clermont-Ferrand-fees, het dié 8-minuut lange kortfilm wat die kollig op Kaapse haweloses laat val ’n kop-knik by vier ander feeste gekry. By die Carthage-filmfees in Tunisië waar net 12 kortfilms uit die hele Afrika en MENA-lande (Midde-Ooste en Noord-Afrika) aanvaar word, het Bergie die Silwer Tanit d’argent-toekenning gewen. Boonop het meer as ’n duisend mense elk van Bergie se vier vertonings by die fees aan die bo-punt van Afrika bygewoon.

In Europa het Bergie ‘n draai in Italië gemaak by die Alice nella Città, wat parallel met die Rome-filmfees loop, maar aangebied word vir ‘n jonger filmgenerasie, asook die Corto Dorico-filmfees wat fokus op menseregte. Bergie was ook in die kollig in Spanjé by ZIBEBI, ook bekend as die Bilboa internasionale dokumentêr- en kortfilmfees. Volgende op die Bergie-horison lé Tunisië waar die Vilnius-kortfilmfees net voor Clermont-Ferrand afskop.   

  • Leemtes en Leegheid, die Silwerskermfeeswenner die vir Beste Kortfilm en Beste Draaiboek wat boonop die fees se geskiedenis herskryf het as die eerste kortfilm ooit wat die Gehoorgunsteling-toekenning kon opraap, se betowering ken geen perke nie. Dié hartroerende, pragtig-verfilmde storie oor verlange en verlies tref inderdaad diep waarookal dit gaan. By die Suid-Afrikaanse filmfees in Kanada is Leemtes en leegheid óók as die Gehoorgunsteling aangewys en in York, Engeland, het dit die Beste Kunstenaarsfilmprys by die Bafta-kwalifiserende Aesthetica-kortfilmfees ingepalm.

 Bykomend tot dié internasionale prestasies het Leemtes en Leegheid op eie bodem aan Lida Botha die toekenning vir Beste Aktrise by die onafhanklike Suid-Afrikaanse filmfees besorg en ’n buitengewone eer het vervaardiger Jordy Sank by vanjaar se Safta-toekenningseremonie te beurt geval. Hy is as die land se voorste opkomende filmmaker aangewys.

  • Die filmspan van die Silwerskermfees se eerste post-apokaliptiese kortfilm in Afrikaaps, My Beskermer, het by die 2022 Britse kortfilmfees, bekend vir sy strawwe kompetisie, behoorlik hul staal gewys. My Beskermer is in vyf kategorieë benoem, insluitende Beste Buitelandse Film, Beste Wetenskapsfiksiefilm, Beste Hare en Grimering, Beste Kostuumontwerp en Beste Visuele Effekte.
  • Die Afrikaapse vampierfliek Net Ons het gaan slagtand wys by die internasionale Sothambe-filmfees in Lusaka, Zambië, waar dit benoem is as Beste Kortfilm. Dit was ook deel van die internasionale Khoi-Khoi-rolprentfees in Mowbray, Kaapstad – ‘n fees wat menseregte en films met eerste-nasie-temas op die voorgrond plaas.
  • Twintig tone in ’n hangkas, wat Leon van Nierop terloops in sy nuwe boek oor rolprentontleding vir skole en onderwysers, Druk speel, ingesluit het, het onder die titel One closet, twenty toes and a gun die Dances with Films-fees in New York kolskoot getref – én die fees se Industriekeuse-toekenning gewen!

Terwyl die jong Silwerskermfeesfilm-kortfilmskeppers voortwoeker om ’n rekord aantal eerbewyse dwarsoor oor die wêreld in te samel, het Amy Jephta (wat self op haar dag in hul skoene was) haar versameling internasionale Barakat-beeldjies aangevul met ’n plaaslike Safta-trofee vir Beste Regisseur. Barakat is ook vir Saftas benoem in die kategorieë vir Beste Aktrise (Vinette Ebrahim), Beste Vroulike Byspeler (Quanita Adams) en Beste Oorspronklike Musiek (Kyle Shepherd).

Indien jou FOMO-meter nou in die rooisone is omdat jy die Silwerskermfees misgeloop het, asem rustig uit. Stiekyt is tans beskikbaar op DStv BoxOffice, MultiChoice se video-op-aanvraag platform, wat die afgelope jaar besprinkel was met Silwerskermfees-speelfims. Van dié films is in Desember 2022 en Januarie 2023 ook te siene op die DStv-opwipkanaal fliekNET. Loer gerus ook in by die MultiChoice-stromingsdiens, Showmax. Al die 2022- kortfilms, asook die eksperimentele neo-realistiese speelfilm Down so Long, gemik op kunsfliek-foendies en filmstudente, pronk nog op Showmax se filmaanbodlys.