2022-kortfilmwenners maak ‘n draai by gesogte internasionale fees 

Dis nie aldag dat ’n jong filmmaker ’n prys losslaan om een van die wêreld se grootste internasionale feeste by te woon nie. Danksy die Nasionale Rolprent-en-videostigting (NFVF) het dié eer die vervaardiger en regisseur van verlede jaar se Silwerskermfees Beste Kortfilm te beurt geval.

Vervaardiger Gabriella Blumberg en regisseur Jordy Sank, wat die sielroerende film Leemtes en leegheid gemaak het, het onlangs onder die NFVF se borgskapvlerk hul vaardighede by die Berlynse rolprentfees (Berlinale) geslyp. Saam met roemryke feeste soos Cannes en Sundance word dié gebeurtenis alom as een van die wêreld se top-vyf filmwêreldsaamtrekke beskou.

Gabriella en Jordy gebruik die woord “surrealisties” om hul belewenis in Berlyn raak op te som. Wie kry immers die geleentheid om Hollywoodsterre – van voor en agter die skerms – in koffiewinkels raak te loop? Of te sien hoe Steven Spielberg sy hotel verlaat? Of in ’n meesterklas te sit wat deur David Bernard, die vervaardiger van die gewilde reeks The White Lotus, aangebied word?

Jordy en Gabriella se Berlinale-avontuur het afgeskop met die ko-produksiemark vir besoekers en Europese filmmark. Daarna het hulle die glans en glorie rondom die rolprentvertonings eerstehands beleef

Die ko-produksiemark het konsultasies met industrie-kundiges, meesterklasse en georganiseerde blitsafsprake met ander filmvervaardigers ingesluit.

“Dit was alles ontwerp om kennis oor te dra en netwerkgeleenthede te skep,” vertel die twee jong filmmakers. “Ons het ontsettend baie geleer oor die wêreldwye bedryf en die kreatiewe én kommersiële aspekte daarvan.’’

Gabriella en Jordy onthou hoe oorstelp hulle was toe die NFVF se verrassingsprys by die Silwerskermfeestoekenningsaand aangekondig is: “Dis wonderlik dat die NFVF opkomende filmmakers só ondersteun en ons is ook dankbaar dat die Silwerskermfees gehelp het om ons kortfilm ’n werklikheid te maak.”

Leemtes en leegheid het na die fees Suid-Afrika se vlag hoog laat wapper by verskeie feeste dwarsoor die wêreld waar dit ook talle toekennings verower het. Volgende aan die beurt is die Suid-Afrikaanse filmfees in Australië en die plaaslike Rapid Lion-filmfees.

Die tweemanskap van Sanktuary Films se raad aan opkomende filmmakers is om voortdurend te soek na betekenisvolle stories uit ons pragtige land wat “smeek om vertel te word.” Voorts glo hulle mens moenie skugter wees om kers op te steek by plaaslike vervaardigers wie se puik werk hier en oorsee aanklank vind nie.

Dié benadering het beslis vrugte afgewerp vir Sanktuary Films, wat reeds ’n paar nuwe projekte in die pyplyn het – ’n narratiewe speelfilm, ’n kort TV-reeks en twee dokkies. Soos Leemtes en leegheid draai al dié projekte om ’n sosiaal-maatskaplike kwessie.

Benewens die toekenning vir Beste Kortfilm het Leemtes en leegheid Silwerskermfeesgeskiedenis herskryf as die eerste kortfilm wat ook die Gehoorgunstelingtoekenning gewen het.

As jy nog nie gesien het waarom Leemtes en leegheid ’n besonderse film is nie, kyk beslis daarna op Showmax. Al die Silwerskermfeeskortfilms is beskikbaar op dié stromingsdiens.