Indemnity boei met asem-ophou-aksie 

Indemnity, Suid-Afrika se grootste aksiefliek tot op hede, wys op Woensdag 23 Maart om 20:00 by die Silwerskermfees. Internasionale gehore is reeds in vervoering oor dié spanningsvolle riller met Jarrid Geduld in die hoofrol.

Jarrid lewer ’n kragtoer as ’n gefolterde voormalige Kaapse brandweerman wat langs sy vrou se lyk wakker skrik. Kort voor lank wys al die vingers in sy rigting en moet hy vlug vir sy lewe. Só begin ‘n kraaines van leuens en bedrog ontrafel wat mettertyd die ware rede vir sy post-traumatiese stres en ’n skrikwekkende regeringskomplot ontbloot.

Indemnity, vervaardig deur Gambit Films (Nommer 37, Suidooster), spog met ’n indrukwekkende rolverdeling met, onder andere, Hlomla Dandala, Nicole Fortuin, Gail Mabelane, Hannes van Wyk en Abduragman Adams. Die regie is behartig deur Travis Taute, en Zenn van Zyl is die kinematograaf.

Ten spyte van ’n drie maande lange noodgedwonge staking van verfilming, was Indemnity die eerste Suid-Afrikaanse rolprent wat produksie voorgesit het na die Covid-19-grendelstaat opgehef is. Daarna is dit op internasionale stromingsdienste uitgereik.

Kritici en aksiefliekliefhebbers wat Indeminity op dié manier te siene gekry het, was veral gaande oor die puik kinematografie en knap gechoreografeerde aksietonele. By die Fantasia-filmfees in Québec is dit benoem as die Beste Cheval Noir-film.

In een van die asembenemende aksietonele hang Jarrid Geduld uit ’n venster op die 21ste verdieping van ’n wolkekrabber. Maar moenie dink die prentjie is met CGI geskep nie – dis Jarrid self wat daar vasklou! Hy het al die waagtoertjies self uitgevoer en drie maande lank voorberei daarvoor saam met die gedugte Vernon Willemse en Grant Powell van Stunt Team SA wat lokettreffers soos Mad Max en Bullet Proof op hul kerfstok het.

Met dié toneel het Indemnity ook ’n nuwe rekord opgestel. Die hoogste wat ’n waagtoertjie vantevore in Suid-Afrika uitgevoer is, was vanaf die 10de verdieping.

Maak ook jou sitplekgordel vas vir ontploffings, tollende motors en vuurwerke uit die boonste rakke.

Kyk hier na die lokprent.