Alles en nog wat oor lekkerlag kortfilm Karen

Almal ken ’n Karen – daardie nukkerige, selfvoldane vrou van die derduisende memes wat tog te graag met die bestuurder wil praat.     

So ’n einste Karen is die spil waarom een van vanjaar se Silwerskermfees-kortfilms draai.  

Sonder om te veel weg te gee oor die skreeusnaakse storielyn, het ons hier te make met ’n Karen (regte naam Susan) wat viral gaan na ’n vloermoer in ’n koffiewinkel oor die melk in haar koppie. 

Hier is ’n klompie interessante feite oor Karen, die kortfilm, en die formidable span wat dié vlymskerp komedie gemaak het:

  • Karen is die handewerk van Almero Welgemoed. As die naam ’n klokkie lui, is jy reg. Dis inderdaad die talentvolle musikant, digter en skilder se eerste film as regisseur en skrywer. 
  • Die rol van Karen, oftewel Susan, word vertolk deur Laura-Lee Mostert. Sy is saam met Almero en Bouwer Bosch ’n medevervaardiger van die film. 
  • Franci Swanepoel speel Susan se bombastiese ma wat in spring om haar dogter se naam in ere te herstel. Dit was die geliefde aktrise se laaste voltooide film en die span bring hulde aan Franci wanneer die eindkrediete rol. 
  • Benewens Almero Welgemoed en Bouwer Bosch, was ’n rits musikante betrokke by die film. Die jong sangeres en liedjieskrywer, Abigail Heyns, maak haar buiging as aktrise in die rol van die koffiewinkel se kelnerin. Nagtegaal Augusta Zietsman, ’n verbouereerde klant in die koffiewinkel, was ook die assistent-regisseur. Nog ’n musiekmaker wat gesig wys, is Danie Bornman.  
  • Almero se broer, Nico Welgemoed, is Karen se kinematograaf.  
  • Die twee broers het al vantevore ingeskryf vir die Silwerskermfees se kortfilm-mentorskap projek, maar nie die kortlys gehaal nie. Daarom was Almero huiwerig om wéér te probeer. Boonop was hy platsak. Maar gelukkig was sy vrou, Miné, oortuig Karen is ’n wenresep. Miné het aangebied om die R300-inskrywingsgeld voor te skiet. Volgens Almero is dit die beste R300 wat hy nog ooit geleen het. Hy moet dit wel nog terug betaal. 
  • Bouwer, Almero en Nico stap al ’n paadjie saam. Dit het als begin toe Bouwer in 2016 hul musiekvideo’s op Youtube raakgesien het. Hy het hulle summier genooi om by hom in Johannesburg te kom kuier sodat hulle saam musiek kon skryf en opneem. Ná die besoek, is die twee broers sak en pak Jo’burg toe.
  •  Bouwer verskyn ook as ’n ekstra in Karen. Almero sê hy het by medevervaardiger Bouwer geleer dat filmmaak ’n spansport is. 
  • Die produksie- en stelontwerp in Karen is besonders. Almero en Nico het elke karakter se leefruimte ’n spesifieke kleur gegee. So was Susan se ma se blyplek in skakerings van groen in kontras met Susan se rooi, wat plek-plek deurskemer in haar ma se tuiste, omdat Susan na haar egskeiding by haar ingetrek het.  Almero se huis, met sy groen mure, het Susan se ma se plek geword. 
  • Burger Meyer het gehelp met die stelontwerp en die rekwisiete. Die besonderse kitch porseleinhondjies in die ma se die huis, gaan beslis vir ’n glimlag of twee sorg. 

Nog ’n interessante brokkie oor Almero, wat absoluut niks met Karen uit te waai het nie: Buiten sing, skryf en films maak, is sy droom om vir Riaan Cruywagen ’n liedjie te sing.  Wie weet, dalk sien Riaan hom raak met Karen!

Karen wys op Vrydag 25 Augustus om 09:00 by die fees en sal later op kykNET en Showmax vertoon word.