Alles wat jy van die eerste Silwerskermtoekennings vir Film en Televisie móét weet – aanbieders, sangers, legendes en nog meer

Saterdag 26 Augustus is ’n groot dag op die Afrikaanse vermaaklikheidskalender. Dís wanneer die wie’s wie in die Afrikaanse film- en televisiewêreld by die CTICC in Kaapstad byeenkom vir die glansryke eerste kykNET SIlwerskermtoekennings vir Film en Televisie.

Dié skouspelagtig geleentheid waartydens voortreflike werk op die kykNET-kanale, asook die beste films by vanjaar se Silwerskermfees vereer word, word óók vir televisie-uitsending opgeneem. Dit word die volgende aand (Sondag, 27 Augustus) om 20:00 op kykNET uitgesaai.

So, wat wag op jou?

Die welbekende aktrise Cindy Swanepoel en komediant en akteur Solomon Cupido is die skerp aanbieders op die verhoog, terwyl geliefde sterre soos Marciel Hopkins, Jonathan Rubain, Denise Newman, Clint Brink, Justin Strydom en Amy Kleinhans-Curd hulle bystaan as die gasaanbieders.

Tussendeur al die benoemdes se senuwees wat knaag voor die wenaankondigings en die kenmerklike trane van blydskap van sulke seremonies, gaan van die land se top Afrikaanse musiekkunstenaars soos Tasché, Loukmaan Adams, Joshua na die Reën, Loufi, Margot Rothman, Laudo Liebenberg, Tracey-Lee Olivier en Hiram Koopman, sorg puik vertonings.

Die musiekkomposisie van die toekenningseremonie is deur die musikant en vervaardiger Loki Rothman behartig. Daar sal ook spesiale (én komiese) bydraes wees deur die storieverteller en sosiale media- inhoudskepper, Mel die Storieverteller, en die aktrise Mandri Sutherland, of te wel, die internetsensasie Vroudie.

Die TV-deel van die Silwerskermfeestoekennings vir Film en Televisie strek oor ’n allemintige 20 kategorieë. Daarbenewens is daar toekennings vir lewensbydraes. Die legendes aan wie daar só hulde gebring word, is die geliefde akteur Cedwyn Joel, Freek Robinson, wat al vir 40 jaar die hoogste standaard stel en handhaaf in die nuusmedia, en die vervaardiger André Scholtz, wat al meer as ’n halfeeu films maak. Scholtz se toekenning sal die Saterdagoggend by die Silwerskermfees se Tegniese Toekennings in Kampsbaai oorhandig word.

Alhoewel ’n onafhanklike paneel kundiges koppe gekrap het om die Silwermskermfees vir Film en Televisie se wenners te bepaal, so ook het kykNET-kykers hul sê in twee televisiekategorieë – Die TV-oomblik van die jaar en Persoonlikheid van die jaar – gehad.

Die Silwerskermfees vir Film en Televisie se volledige lys TV-benoemings is beskikbaar hier.

Die benoemings vir die 11de Silwerskermfees se speelfilms, kortfilms en dokumentêre films sal op Vrydag 25 Augustus by die fees aangekondig word.

Die Silwerskermtoekennings vir Film en Televisie wys Sondag 27 Augustus om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144.