Blitsfeite oor die kortilm Bergie

Bergie spreek ’n sosiaal-maatskaplike probleem aan – die lot van hawelose mense.

’n Wetstoepassingsbeampte word met ’n dilemma gekonfronteer wanneer hy moet seker maak dat ’n paar dakloses nie die pad vir ’n 10 km-wedloop versper nie. Sal hy sy loopbaan op die spel plaas om waardigheid aan ’n groep uitgelewerde mense te gee?

Hier is ’n paar blitsfeite oor dié kort kortfilm:

  • Kortfilmmakers kon deel wees van vanjaar se fees met enige oorspronklike film in enige genre tussen 3 en 30 minute lank. Bergie is die kortste film op die program. As jy die erkenningslys aan die einde buite rekening laat, word dié kragtige storie in slegs 5 minute en 45 sekondes vertel.
  • Ter voorbereiding vir die teks het die skrywer en regisseur, Dian Weys, met hawelose mense, wetstoepassingsbeamptes, sopkombuis-eienaars en gemeenskapswerkers onderhoude gevoer.
  • Om seker te maak dat hul belewenis outentiek weergegee word, is die draaiboek tien keer hersien.
  • Die kortfilm is op die bekende ‘fan-walk’ naby die Groenpuntstadion geskiet.
  • Bergie is een van vier films by vanjaar se Silwerskermfees waarvan die SAFTA-wenner Bathoni Robinson die produksie-ontwerp behartig het.
  • Kinematograaf Pierre de Villiers het Bergie met ’n Sony FX-kamera geskiet en ’n ou, Russiese 35 mm-Lomo-lens gebruik.
  • Dit is die eerste keer wat Oscar Petersen en David Isaacs teenoor mekaar in ’n film speel. Hulle was wel meer as 20 jaar gelede saam op skerm in die TV-reeks Hagenheim: Streng privaat.
  • Gretchen Ramsden se blouoog in die film is nie grimering nie. Sy is tydens verfilming per ongeluk beseer, maar was vasbeslote om aan te hou toneelspeel. Buiten die paramedici op stel, was Weys se kamermaat, ’n dokter, toevallig ook ’n ekstra gewees. Hy het Ramsden se besering ondersoek en verklaar dat dit veilig is vir haar om voort te gaan. Haar oog was wel blou vir vier weke daarna.

Bergie is Donderdag 24 Maart om 15:00 te sien op die Silwerskermfeesprogram.