Born Behind Bars: Romy Titus se hartsprojek word ’n dokumentêr

Die woord “gevangenis” laat mens allermins aan hoogswanger vroue, babatjies en woelige peuters dink. Tog kan verwagtende vrouens tot tronkstraf gevonnis word en ná die kinders se geboorte mag hulle totdat hulle twee jaar oud is by hul ma’s agter tralies bly.  

Die bekende sportaanbieder en radio- en televisiepersoonlikheid Romy Titus het vir die eerste keer in 2000 die erns hiervan besef toe sy nog ’n jong joernalis by eNuus was. Haar nuusredakteur het haar na die Johannesburg Korrektiewe Sentrum gestuur om verslag oor ’n Kerspartytjie te doen. Wat sy daar aangetref het, het haar lewe onherroeplik verander. 

Tydens ’n radio-onderhoud op CliffCentral het Romy aan Gareth Cliff vertel hoe dié Kerspartytjie haar geruk het. Daar was omtrent 30 vroue in die ma-en-kind-afdeling, karige versierings, ’n Winnie the Pooh wat mistroostig teen die muur gehang het en net een klein roomkoek vir almal. Erger nog: Die vroulike gevangenes moes sien kom klaar met net een badkamer en toilet en van hulle moes twee-twee op enkelbeddens slaap. 

Romy kon dié ondervinding nie uit haar gedagtes skuif nie. Ook nie die gruwelstorie oor ’n baba wat sy in Dube, Soweto, moes dek nie. Anders as die baba wie se kop eenkant in ’n straat gelê het, het sy geweet daar was nog hoop vir die onskuldige klein kindertjies agter tralies. Sy móés iets daadwerkliks doen om hulle te help. Daarom het sy in 2007 besluit om die nie-winsgewende organisasie Babies Behind Bars te stig, wat sedertdien hulp verleen aan ma’s en kinders in tronke dwarsoor Suid-Afrika en buite ons landsgrense.   

Met die Silwerskermfeesdokumentêr Born Behind Bars neem Romy en haar filmspan ons oor die hoë mure na agter die gietysterdeure van die Johannesburg Korrektiewe Sentrum na die ma-en-kind-afdeling. Te midde van die angs, isolasie en woede wat daar heers, leer ons so ’n tronkma van naderby ken. Morwesi Theledi is tydens haar tweede swangerskaptrimester tot tien jaar tronkstraf gevonnis en moes op ’n vernederende manier geboorte skenk aan haar babaseuntjie.  

Om ’n dokumentêr agter tralies te skiet, was uiteraard ’n enorme verantwoordelikheid. “Vertroue in enige verhouding is belangrik, maar as mens vertroue kon weeg op die dag wat ons in die tronk verfilm het, was daar ’n berg vertroue op my skouers,” vertel Romy. 

“Buiten die vertroue van die bewaarders en dié van die filmspan wie se toerusting heen en weer deur die tronk karwei is, was daar ook dié van die mense in die vroue-eenheid wie se ruimte ons binnegedring het. En ook dié van Morwesi. Haar storie is so broos, maar daarom ook so kragtig.”

Morwesi se verhaal leer ’n mens wat dankbaarheid en vryheid werklik beteken en hoe belangrik dit is om die regte keuses te maak. 

Born Behind Bars, met Romy Titus in die regisseurstoel, première op Vrydag 25 Augustus om 11:30 by die Silwerskermfees en sal daarna op kykNET en Showmax te siene wees.