Die 2022-Oscarbenoemde dokumentêr Writing with Fire en nóg bekroonde werke wys by die Silwerskermfees

kykNET se tiende Silwerskermfees, wat tussen 23 en 26 Maart plaasvind, bied ’n wye verskeidenheid van opwindende films. Buiten die premières van plaaslik vervaardigde volllengtefilms en al die splinternuwe kortfilms wat meeding om Silwerskermtoekennings, wys die fees ook ’n rits onlangse spogfilms buite kompetisie wat kritici wêreldwyd gaande gehad het.

Onder dié bestaande werke wat almal uitgenooi is om deel van die fees te wees, tel die Oscar-benoemde dokumentêr Writing with Fire en die Suid-Afrikaanse filmmaker Phumi Morare se kortfilm Lakutshon’ Illanga [When the Sun Sets] – die wenner van die 2021 Student Academy Awards-kortfilmkategorie. Laasgenoemde film het ook die Oscar-kortfilmkortlys vir 2022 gehaal.

Fliekvlooie wat vanjaar se hibriede Silwerskermfees fisies in Kampsbaai of virtueel op die fees se webwerf gaan meemaak, kan ook uitsien na Kariba Ledigo se pragtige bekroonde kortfilm What Did You Dream? en die veelbesproke film oor gender-gebaseerde geweld #WeAreDyingHere, waarvan Siya en Rachel Kolisi die uitvoerende vervaardigers is.

Writing with Fire sal in the Theatre on the Bay om 11:00, op Vrydag 25 Maart, vertoon word en op Saterdag 26 Maart, om 19:00, sal dit as deel van die fees se virtuele program wys. Dit beteken dat diegene wat vir die aanlyn fees op die webwerf geregistreer is, geleentheid kry om na die eerste Indiese vollengtedokumentêr wat vir ’n Oscar benoem is, te sien – slegs drie dae voor vanjaar se Oscar-beeldjies uitgedeel word en Writing with Fire dalk fliekgeskiedenis maak. Belangstellendes sal egter moet spring om plek te bespreek, aangesien die getal aanlyn kykers vir hierdie spesiale aanbieding beperk word.

Dié inspirerende dokumentêr draai om Khabar Lahariya, die enigste koerant in Indië waar Dalit-vroue (vroue uit ’n onderdrukte kaste) die besluite maak. Writing with Fire is reeds met 21 internasionale toekennings bekroon. Dit het by die Sundance Filmfees, waar dit ’n wêreldpremière gehad het, die Gehoorgunstelingprys asook die Spesiale Jurieprys ingepalm. Sedertdien is prominente internasionale filmkritici in vervoering oor dié blik op die werk van vroulike joernaliste wat van oraloor met hul slimfone verslag lewer.

Met die uitsondering van Writing with Fire, is al die bestaande werke buite kompetisie ook vanjaar in video-op-aanvraagformaat op die Silwerskermwebwerf beskikbaar. Sommige van hierdie films, wat in die Rotunda vertoon word, vorm egter ook deel van die hoofprogram wat geregistreerde kykers kan geniet. Films wat in die Theatre on the Bay wys, is egter aanlyn net in video-op-aanvraagformaat beskikbaar.

Die Silwerskermfees se video-op-aanvraagfilms sal vanaf Woensdag 23 Maart om 09:00 tot middernag op Saterdag 26 Maart aangebied word.

Die volgende drie films is op die aanlyn program asook op die video-op-aanvraagdiens beskikbaar:

 

  • Lakuthson’ Ilanga

Phumi Morare se kortfilm vertel die verhaal van ’n jong swart verpleegster wat in 1985 tydens die apartheidsjare haar ergste vrese in die gesig moet staar wanneer haar aktivisbroer in gevaar verkeer. Benewens die Student Academy-toekenning vir Beste narratiewe kortfilm is Lakuthson’ Ilanga ook vereer met toekennings by die American Blackfees, die NACCP Image-fees en die Washington DC Kortfilmfees.

  • What Did You Dream?  

Die skrywer en regisseur Karabo Lediga se kortfilm het die toekenning vir Beste kortfilm uit Afrika by die Durbanse Internasionale Filmfees verower en nóg toekennings by internasionale feeste soos die Clermont-Ferrand Internasionale Filmfees en die Palm Springs International ShortFest opgeraap. In What Did You Dream? ontmoet ons die 11-jarige Boipelo wat in 1990 die somervakansie by haar ouma in Atteridgeville deurbring. Boipelo gaan binnekort vir die eerste keer ’n veelrassige skool bywoon, maar kan nie verstaan hoekom sy skielik, anders as haar twee niggies, nie haar drome kan onthou nie. Boipelo se ouma word vertolk deur die legendariese aktrise Connie Chiume.

  • #WeAreDyingHere

In #WeAreDyingHere beleef ons die trauma van drie vroulike soldate wat gedwing word om in ‘n genadelose oorlog te veg – die oorlog teen vrouens se liggame. Hierdie kortfilm is gegrond op die hoog aangeskrewe teaterproduksie wat in Julie 2020 deur Time Out New York aangewys is as een van die beste produksies om tydens die grendeltyd aanlyn te stroom. Die skrywer van die teaterproduksie én film, Siphokazi Jonas, die digteres en medeskrywer Hope Neshivhambe en die musikant Babalwa Makwete maak saam die sprong van verhoog na film. #WeAreDyingHere se wêreldpremière was by die Pan African Filmfees in Amerika en dit het ook die Reel Sisters of the Diaspora-fees se Spirit-toekenning in 2021 gewen. 

Die volgende films sal slegs aanlyn deel vorm van die Silwerskermfees se video-op-aanvraag-aanbod:

  • Krismis van Map Jacobs

Adam Small se bekende voorgeskrewe drama is vir die 2021 Woordfees TV-opwipkanaal deur Jaco Bouwer in samewerking met Jason Jacobs in ’n filmweergawe omskep. In die rolverdeling is puik akteurs soos Dann-Jacques Mouton, Elton Landrew, June van Merch en lse Klink.

  • Sons of the Sea

Brendon Daniels, Roberto Kyle, Nicole Fortuin en Marlon Swarts is te sien in hierdie vollengterolprent oor ’n begaafde dog teruggetrokke tiener uit ’n arm vissersgemeenskap wat op vlug slaan na sy broer

hom aansê om twee sakke perlemoen te steel. Sons of the Sea is by die Durbanse Internasionale Filmfees as die Beste Suid-Afrikaanse vollengterolprent aangewys.

  • MOYA

MOYA is die Zip Zap-sirkus se film oor ’n jong geselskap akrobate wat in Kaapstad leer hoe om te leef, lag en dans terwyl hulle kennis maak met die betowering van die sirkus. MOYA het drie pryse by die 2021 Internasionale Sirkustoekennings opgeraap.

  • Mutant

Die dokumentêr gee ’n intieme blik op een van Suid-Afrika se mees uitgesproke en omstrede kunstenaars – die rapper Isaac Mutant. Dit verken sy wortels in die berugte geweldsgeteisterde Kaapse Vlaktes en ook sy huidige omstandighede. Dis die storie van ’n sensitiewe, komplekse en intuïtiewe karakter wat worstel met kwessies van ras, klas, liefde, familie en identiteit.

  • Die ongetemde stem

Die ongetemde stem is ’n onverskrokke dokumentêr oor rassediskriminasie in die Afrikaanse musiekbedryf. Gideon Breytenbach en die alternatiewe musikant Riku Lätti het die regie behartig.

Die registrasiefooi vir die aanlyn kykNET Silwerskermfees beloop R190, wat geskenk sal word aan die Tribuo-fonds. Die video-op-aanvraagfilms kos R35 per kaartjie.