Die Blokke hou die blink kant bo op die beat van die rapper Cream Machine

Die kortfilm Die Blokke speel af buite en binne Gloucester Place – een van die duiwehokagtige  raadswoonstelblokke op die Kaapse Vlakte. Dis waar ons met Muhammad en sy brasse kennis maak. Muhammad wil net ’n goeie dêrra vir sy laaitie wees, maar dis moeilik, want die buurt is berug vir dwelms en gevreesde bendes met gepimpde, flashy karre waaruit dikwels koeëls gevlieg kom wat drome flenters skiet.  

Wanneer Muhammad sien hoe so ’n droom voor hom sterf, kom sy donker kant na vore. Om als te vererger, beland sy onwettige vuurwapen per ongeluk in die verkeerde hande.

Vra jy egter vir Muhammad hoe dit gaan, is sy antwoord: “Ons hou mos ma’ die blink kant boe.”

Die Blokke se vervaardiger is Melissa de Vries-Joseph (Sasha van Arendsvlei), en die aktrise Roxanne Blaise, wat al in talle films en TV-reekse gesig gewys het, maak haar regisseursdebuut. 

Roxanne het ook die draaiboek, geïnspireer deur ’n ware verhaal, saam met Mujaahid Valley geskryf. 

Kort nadat hulle die storie begin uitkerf het, het Roxanne en Mujaahid besluit die blink-kant-bo-dialoogreël gaan perfek oor Gershwin Mias (van Arendsvlei- en Noem my Skollie-faam) se lippe rol.

“Ek het vir Muji ’n foto van Gershwin gewys en gesê dis onse Muhammad, “vertel Roxanne. “Hy het na die foto gekyk en geskree ‘Oh YES!’.  Van daai dag af het ons die karakter met Gershwin in gedagte geskryf.”

Nog iemand wat vroeg reeds op die twee skrywers se radar was, is die rapper Cream Machine, of te wel Marvin van Wyk. As jy – nog nie! – vir Cream Machine ken nie, sal twee van sy songs dalk ’n klokkie lui. “Cape Flats” en “Stamina” is in die veelbekroonde rolprent Four Corners gebruik. 

Toe vervaardiger Melissa vir Roxanne tydens ’n pre-produksie-vergadering ’n Cream Machine-musiekvideo speel, het Roxanne met ‘n blink plan vorendag gekom. Marvin kon ’n track met ’n lekker beat skryf én die rol van Boentjie speel.  

So, wie is Boentjie?  

Roxanne verduidelik: “Nou Boentjie is ’n ou wat ons almal ken. Hy is die ou in die community wat jou uitsort as jy ’n problem het. Boentjie het karre. Boentjie het guns en Boentjie het geld. Soos ons in die Cape Flats sê ‘Boentjie het lyn’. Hy is bang vir niks en niemand nie. Almal weet as jy vir Boentjie gaan haal, gaan die ding ruk.”

Cream Machine se track, met dieselfde titel as die kortfilm, dra beslis by tot wat Roxanne beskryf as die Die Blokke se “edgy vibe”.  

Ná hul kortfilm voltooi is, het die filmspan ’n musiekvideo vir Cream Machine se nuwe liedjie geskiet. Daarvoor het hulle weer ’n draai in Elsiesrivier en Avon gemaak, waar Die Blokke verfilm is, en ook by die raadswoonstelblokke  in Cream Machine se eie tuisbuurt – Kuilsrivier. 

Klik hier om na dié musiekvideo te kyk, maar pasop, dis ’n oorwurm wat jy nie gou weer uit jou kop graan kry nie.

Die Blokke wys op Woensdag 23 Augustus om 10:30 by die Silwerskermfees en sal later op kykNET en Showmax te siene wees.