Die Groensone is ‘n buitengewone pa-en-seun-storie

Die bekende akteur Pierre van Pletzen en sy talentvolle seun, Peach van Pletzen, vertolk die rolle van ’n pa en seun wat saam die nasionale ramptoestand en grendeltyd in die Silwerskermfeeskortfilm Die Groensone trotseer.

Peach se karakter, Daniël, moet noodgewonge sy siek, bejaarde pa versorg, maar dit is ’n uitmergelende taak. Hulle is saam vasgekeer in ’n beknopte, bouvallige plaashuis en die ou man is moeilik. Hy dring daarop aan om te gaan stap in die berge en Daniël se moed raak op – so ook sy pa se suurstof en medisyne.

In Die Groensone verskyn Pierre en Peach vir die eerste keer saam op skerm. Pierre is alombekend vir sy talle televisierolle en sy ikoniese 7de Laan-karakter, Oubaas.

Peach, die seun van Pierre en die aktrise Elzette Maarschalk, was die aanbieder van die kykNET-musiekprogram ChatNou en het ’n indrukwekkende musiek-CV. Hy het ná matriek vir sewe jaar in die rockgroep Shu gespeel, was die tromspeler van The Queen Experience en deel van die Afrikaanse hip-hopgroep Bittereinder. Sy jongste groep, die alternatiewe duo Van Pletzen, se musiek word opgesom in die titel van hul eerste album, K*k lekker vibe.  

Peach is ook al vir jare lank agter die skerms aan die woeker met sy liefde vir klank en musiek. Hy het die klankbane van talle Silwerskermfeeskortfilms behartig. In 2018 het hy aan Maroelamedia gesê dat die Silwerskermspeelfilm Wonderlus hom lus gemaak het om weer sy akteursbaadjie aan te trek. Nou doen hy dit saam met sy pa in Die Groensone.

Die Groensone is vervaardig deur Sacred Animal Films met Adriaan de la Rey as regisseur. Dit wys op Vrydag 25 Maart om 10:30 op die Silwerskermfeesprogram.